Hoe kan ek my saak met God regmaak?
Gaan lees eers die Gelykenis van die Verlore Seun in Luk 15.
Jy moet die volgende omtrent God weet ...
Wie God nie is nie ...
God is nie 'n tiran wat daarop uit is om mense genadeloos te straf oor elke dingetjie wat hulle verkeerd doen nie.
God is nie 'n onverbiddelike regter of polisiemag wat die hele tyd daarop uit is om mense uit te vang wat verkeerd doen en hulle dan straf nie.
God is nie goedige vadertjie wat maar alles wat gebeur gelate en gedweë aanvaar nie.
Wie God wel is ...
God is 'n liefdevolle Vader wat vir almal wat Hy gemaak het (ook vir jou!) oneindig baie omgee.
God is 'n God van liefde wat sy onvoorwaardelike liefde op alle mense wil uitstort.
God word kwaad oor die sonde want dit vernietig sy skepping en doen die mense vir wie Hy liefhet leed aan.
Hoe maak ek my saak reg?
Om jou saak met hierdie God reg te maak is dit nodig om eerstens die ernstige aard van jou toestand en dit wat daartoe gelei het te besef. Die wesenlik aard van alle sonde is die begeerte dat God dood moet wees. Ons wil ons eie lewe lei soos wat ons wil - eiegeregtig en selfsugtig. Dit maak dat ons dinge doen wat ander mense seer maak en die wêreld waarin ons leef stukkend breek.
Wanneer ons tot hierdie besef gekom het en dit ons tot trane dryf, dan moet ons maak soos die jongste seun in die gelykenis van Lukas 15 - besluit om na God terug te gaan - al is dit in die hoedanigheid van 'n slaaf.
Derdens is dit nodig om vir God jammer te sê oor jou sonde en die skade wat die aan sy skepping en aan mense gedoen het.
Vierdens is dit nodig om te aanvaar dat God jou vergewe vir jou sondes en dat Hy sy liefde en sy genade oor jou uitstort - soos die Vader in die gelykenis ...
Vyfdens is dit nodig om jouself aan die beheer van die Heilige Gees oor te gee en omHom toe te laat om jou lewe te beheer sodat die liefdesgebod konkrete gestalte in jou lewe kan kry.
Bid die volgende gebed
Vader, ek is bitter jammer oor alles wat ek verkeerd gedoen het en nog steeds doen. Ek weet dit maak u hartseer en ander mense seer. Ek wil graag daarmee ophou. Baie dankie dat U my vergewe daarvoor en dat u Seun Jesus in my plek reeds die straf op my sonde gedra het. Help my asseblief om voortaan soos een van u kinders te leef! Amen
Wat nou?
- Begin om gereeld die eredienste van jou gemeente by te woon
- Skakel sou gou moontlik by 'n selgemeente of soortgelyk kleingroep in
- Woon so gou as moontlik die hele Alpha-kursus by
