Geestelike Groei
Verbeel jou jy ontvang 'n wonderlike geskenk: 'n trommel vol wonderlikhede - alles waarvan jy hou. Jou asem slaan weg as jy dit oopmaak. Jy kan beswaarlik glo wat alles daarin is! Iemand wat jou baie, baie goed ken, het moeite gedoen om alles waarvan jy hou en wat jy nodig het, sorgvuldig uit te kies en vir jou bymekaar te maak.
Gestel nou jy neem die een ding wat heel bo op lê en jy haal dit uit en dan maak jy die trommel toe en jy bêre dit diep weg en kyk nooit weer daarna nie. Maak dit sin?
Baie gelowiges maak so met God se geskenke. God gee só baie vir ons! 'n Trommel vol wonderlikhede. Alles wat ons nodig het. Al wat ons moet doen is om dit uit te pak en te gebruik en dit sal ons lewens onmeetbaar verryk. Maar so dikwels gebeur dit dat ons net die boonste paar goedjies uitpak en dan nooit weer na die res van dit wat in die trommel is kyk nie.
Geestelike groei is om stelselmatig al die wonderlike geskenke wat God vir ons in die trommel ingepak het, uit te pak en in ons lewens in te bou. God wil so baie vir ons gee! Al wat ons moet doen is om dit te ontvang en te gebruik.
Wat is die pad wat ons moet loop as ons geestelik wil groei? Geestelike groei is die werk van die Gees. Ons moet onsself oopstel vir die werking van die Gees in ons. Hier is vyf bakens wat as rigtingaanduiders kan dien:
Eerste baken: Vind jou diepste sekuriteit in God
Ons is geneig om ons sekuriteit in alles behalwe God te probeer vind: geld en besittings, roem en erkenning, status en posisie, ander mense se liefde en aanvaarding. Ons ontwikkel geluksprogramme rondom hierdie dinge. Dit word die fokus van ons lewens en ons drome en ons strewes.
God is egter die enigste vaste, standhoudende bron van sekuriteit. Geluksprogramme wat rondom enige iets anders as God gebou word, is gedoem tot mislukking.
Ongelukkig skram ons weg van God af. Ons is dalk kwaad vir Hom, of ons vrees Hom. Dit is egter glad nie nodig nie. Ons moet Hom ontdek as 'n genadige, liefdevolle Vader wat ons onvoorwaardelike liefhet en dag tot dag vir ons sorg. Siekte, teenspoed, selfs die dood, kan ons nie van sy liefde vir ons skei nie. (Rom 8)
Lees gerus weer die Gelykenis van die Verlore Seun (Lukas 15).
Terug na bo ...
Tweede baken: Vind 'n tuiste in 'n geloofsgemeenskap
Vir 'n plant of 'n blom om te kan ontkiem en groei en uiteindelik te blom, moet dit in 'n vrugbare bedding geplant wees - met net die regte hoeveelheid plantvoedsel en water en sonlig. Om geestelik te kan groei moet ons ook in so 'n vrugbare bedding geplant wees. Daar moet net die regte hoeveelhede van alles wees wat nodig is om geestelik te kan groei. So 'n vrugbare teelaarde vir geestelike groei is: geloofsgemeenskap.
Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie. (Gen 2:18-19) God voeg gelowiges in 'n gemeenskap saam sodat hulle mekaar kan ondersteun, mekaar kan help, mekaar kan troos en bemoedig en mekaar op die regte pad kan hou. Geestelike groei buite so 'n geloofsgemeenskap is bykans onmoontlik. In 'n geloofsgemeenskap slyp ons mekaar en "spoor ons mekaar aan tot liefde en goeie dade."
Derde baken: Begin om in 'n noue en intieme verhouding met God te leef
Om in so 'n verhouding te kan leef moet gebed die skering en inslag van ons lewens wees. Ons hele lewe moet 'n lewe van gebed wees en elke dag moet omhul wees van gebed.
- Aanbidding
- Voorbidding
- Belydenis
- Danksegging
Gebed van die Hart
Hiermee saam moet ons ook ander geestelike dissiplines beoefen:
- Stilte en afsondering (retraits)
- Skriflesing en nadenke (persoonlike stiltetyd)
- Aanbidding en lofprysing (erediens e.a. soortgelyke geleenthede)
Terug na bo ...
Vierde baken: Ontwikkel die hart van 'n dienskneg
'n Mens is geneig om op hom/haarself ingestel te wees. Mense se eie belange, eie begeertes en eie strewes staan normaalweg voorop in elkeen se lewe. Dis natuurlik nie goed nie, maar dis nie ongewoon nie. Dit is 'n geneigdheid wat in elkeen van ons is. Maar vir geestelike groei is dit teenproduktief.
Met ander woorde: Ons selfsug en selfgerigtheid staan in die pad van geestelike groei.
Hy wil ons stelselmatig losmaak van onsself sodat ons gereed kan wees om te ontvang. As ons met arms vol van ons eie goed staan - hoe kan God dan vir ons gee wat Hy graag vir ons wil gee?
Daarom roep Jesus ons om onsself te verloën (en ons kruis op te neem en Hom te volg) sodat ons eerder kan fokus op God belange, begeertes en strewes. Ware lewensgeluk lê nie op die weg van die vervulling van eie begeertes en strewes nie. Dit is waarom Jesus dan ook sê: as jy jou lewe wil behou (d.w.s. as jy aanhou om selfgerig en selfsugtig te lewe), dan sal jy dit verloor; maar as jy jou lewe weggee in diens van God en die evangelie, sal jy dit behou.
Nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, sê Hy: "Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen." (Joh 13:15)
Hoe ontwikkel ons 'n diensknegingesteldheid?
En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (Rom 12:1)
Ons besef dat dit in hierdie lewe (hierdie een wat ons op aarde het), nie gaan oor onsself nie. God het ons spesiaal gevorm in die moederskoot en ons toegerus met 'n unieke samestelling van persoonlikheid, talente, vermoëns. Dit het Hy gedoen omdat Hy ons op die aarde wou plaas met 'n spesifieke doel. Elkeen van ons het 'n unieke lewensroeping. En ons is veronderstel om God se diensknegte te wees deur hierdie unieke lewensroeping na te streef - dit wat Hy graag wil hê ons moet doen. Hierdie spesiale, unieke wese wat God gevorm het en vir 'n spesifieke doel op aarde geplaas het, is die ware jy.
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, (Rom 12:2a)
Die ware jy is in die meeste mense se geval baie diep begrawe en dit die gevaar loop om te versmoor. Dit is omdat ons "aan die sondige wêreld gelyk word". Hoe word ons aan die sondige wêreld gelyk? Wat gebeur is dit: sodra hierdie unieke, wonderlike wese wat God gemaak het vir 'n spesifieke doel, gebore word, dan begin die wêreld en die mense in die wêreld hulle invloed op jou uitoefen. Hulle doen dit subtiel én minder subtiel maar die boodskap wat jy ontvang is duidelik: Ons sal jou slegs aanvaar / vir jou lief wees / van jou hou / respek hê vir jou / jou ag, as jy: presteer op 'n bepaalde gebied, ryk is, mooi besittings het, BMW, Mercedes; nié Ford(!) ens. ens. Die gevolg hiervan is dat ons ons ware self wegsteek (want die wêreld hou skynbaar nie daarvan nie) agter 'n masker. Ons ontwikkel 'n valse persoonlikheid en hou dit voor onsself as 'n masker ("persona" = masker). Wat nou na vore kom in die plek van die ware jy is 'n valse jy met valse begeertes, valse strewes, valse waardestelsel ens.
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. (Rom 12:2b)
Die ontdekking van die ware jy - en daarmee saam die ontdekking van ons unieke lewensroeping - verg 'n proses.
Die proses van ontwikkeling van 'n selfsugtige en 'n selfgerigte ingesteldheid na die ingesteldheid van 'n dienskneg, behels verandering en vernuwing. Ons denke wat so beïnvloed is deur die wêreld en hulle opinies oor ons, moet vernuwe word sodat ons houding en ingesteldheid verander kan word. Ons moet minder na die wêreld se pype dans en meer fokus op dit wat God tevrede stel. (Vgl Mk 8:33)
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. (Rom 12:2c)
As jy jou ware self ontdek het, en die hart van 'n dienskneg ontwikkel het, is jy baie naby daaraan om jou unieke lewensroeping te ontdek - dit wat God wil hê jy moet doen.
Terug na bo ...
Vyfde baken: Verkoop jouself uit aan God se droom: wees gehoorsaam aan jou unieke lewensroeping
Wanneer jy jouself vir God gegee het, wanneer jy toegelaat het dat Hy jou valse self afstroop deur jou denke te vernuwe en te so te verander, wanneer jy dan ondersskei het wat sy wil vir jou lewes is, dan begin Hy jou gebruik - dan begin Hy om sy planne, sy doelwitte, sy drome deur jou te verwesenlik. Hy begin jou nou gebruik vir die doel waarvoor Hy jou geskep het.
Ons kom hier by dié punt waar ons besef dat ons regtig net bywoners en vreemdelinge op aarde is. Ons is hier - tydelik - maar met 'n spesifieke doel (roeping). Ons is diensknegte - diensknegte leef nie vir hulleself nie maar die Een wat hulle dien.
Dis hier waar God se droom ons werklik begin beetpak. Wanneer ons onsself uitverkoop aan God se droom. God se droom behels 'n stukkende wêreld wat heelgemaak word. Jes 25 (Jesus sluit in sy aardse bedieninge en in sy lering baie nou aan by Jesaja)
6 ?Op hierdie berg gaan die Here die ?Almagtige 'n feesmaal gereed maak vir al ?die volke, ?'n feesmaal met die beste ?om te eet en te drink, ?goeie kos en geurige wyn. 7 ?Op hierdie berg sal Hy ?die doek verwyder, ?die doek wat oor al die volke gegooi was, ?waarmee al die nasies toegemaak was. 8 ?Hier sal die Here God ?die dood vir ewig vernietig, ?en die trane op almal se gesigte afvee. (Jesaja 25:1-8)
Die woorde van die Ou Testamentiese profeet word ge-eggo in die Nuwe Testament:
Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2 ?En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. 3 ?Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4 ?Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan." 5 ?Toe sê Hy wat op die troon sit: "Kyk, Ek maak alles nuut." (Openbaring 21:1-5)
Dis hier waar die lewe regtig begin sin maak! Waar die lewe opwindend begin raak! Dis waarom die Here ons wil losmaak van ons eie selfsugtige drome en van die selfsugtige drome van ander mense vir ons - sodat ons kan begin om onsself uit te verkoop aan sy droom! Wat gebeur wanneer ons dit doen?
David Bosch stel dit so: Diegene wat weet dat God eendag al die trane sal afdroog, sal nie met gelatenheid die trane van diegene wat nou ly en onderdruk word aanvaar nie. Elkeen wat weet dat daar eendag nie meer siekte sal wees nie moet nou reeds aktief die oorwinning daarvan antisipeer deur siekte in individue en gemeenskappe te beveg. En almal wat glo dat die vyand van God en mens eendag finaal oorwin sal word, sal nou reeds sy bose werkinge in ons gesinne en gemeenskappe beveg. (Transforming Mission)
Hierdie pad is nie 'n maklik pad nie. Dit is die pad van selfopoffering en selfverloëning. Dit is die pad van 'n dienskneg wat uitverkoop is aan die droom van sy / haar Meester. Maar dit is pad wat lei tot ware selfvervulling. Dit is wanneer ons hierdie pad begin loop dat die lewe regtig begin sin maak. Dan hou ons op om maar net van dag tot dag voort te ploeter en dan begin ons om waarlik te lewe!
Tom Sine skryf in sy boek, Wild Hope: And yet, although it is God who brings about God's future, we have a role to play as well. Our role doesn't involve taking power, leveraging the market, or pursuing our self-interest. It comes through relinquishing our own agendas and placing God's agenda first. It comes through suffering love and sometimes even through death. It comes through our cooperating with the Creator in the birthing of a whole new order. (p253)
For whatever reason, it appears that the Creator God has chosen to work through a new community of broken, recalcitrant human beings to help display and advance something of God's new order. I don't think any of us has fully grasped what God could do to manifest this new order within history if God could secure a little more cooperation from those of us who profess to be followers. (p245)
