Palmsondag - die begin van die Groot Lydensweek
Eerskomende Sondag gaan ons voort met die verhaal van Markus. Elke dag van die week wat kom, kom 'n nuwe episode van hierdie dramatiese verhaal aan die beurt. Lees die artikel hieronder vir meer besonderhede oor die eredienste hierdie week.
Sondag se program:
- 09:00 Erediens (Ds Freddie Schoeman) Tema: Jesus protesteer teen mag en geweld
- 09:00 Dis skoolvakansie, daarom geen kindereredienste nie
- 10:30 Geen tweede diens
- 17:30 Geen jeugdiens
|
Loop die Lydenspad agter Jesus aan
Agt dae. Na hierdie agt dae sou die węreld nooit weer dieselfde wees nie. Vanaf die eerste Palmsondag tot die eerste Paassondag het 'n drama afgespeel waartydens die magte van die bose probeer het om die Lig uit te doof.
Om saam met Jesus die lydenspad te loop het groot geestelike waarde. Vir eeue lank was dit vir Christene belangrik om dit wat Jesus vir ons gedoen het te herdenk en te vier.
Terwyl ons onsself inleef in die gebeure van die Groot Lydensweek, word 'n diep spiritualiteit in ons gevorm. Hierdie spiritualiteit word 'n bron van geestelike krag vir die res van die jaar.
Hierdie gebeure laat 'n onmiskenbare merk op ons geestelike lewe. Soos wat swaarkry hoop en geloof tot gevolg het (vgl. Rom 5), so plant die Groot Lydensweek die saad van ware vreugde in ons harte.
Lees hier meer oor die eredienste gedurende Lydenstyd |
Openbaring - reeks Op 15 April, die Sondag na Paassondag, begin die beloofde reeks oor Openbaring. Hierdie boek, die laaste een in die Bybel, het 'n aangrypende boodskap wat dikwels misverstaan word. In stede daarvan dat gelowiges die seën en troos ontvang wat deur die boek bedoel word, verkeer hulle dikwels in vrees.
Die intensie agter hierdie reeks is om in te vra na die oorspronlike bedoeling van die boek en die redes waarom die oorspronlike lesers soveel inspirasie en bemoediging daaruit geput het. Onlangse navorsing oor die leefwęreld van Openbaring se eerste lesers bied nuwe en vars perspektiewe op baie van die onduidelikhede in die boek. Dit help ons om die boodskap van die boek helderder te verstaan as ooit tevore.
Indien jy meer wil weet oor die betekenis en boodskap van Openbaring, klik hier. |
Word deel van ons kubergemeenskap!
Het jy gedink kerk is net vir Sondae? Dink weer! MyChurch bied aan gelowiges die geleentheid om die gemeenskap van gelowiges elke dag en boonop op 'n unieke manier - aanlyn in die kuberruim! - te beleef. Op Lyttelton-Oos se MyChurch-ruimte kan jy:
- gesprekke voer en vriende maak met ander gemeentelede (en ook ander Christene van ander kerke)
- op hoogte bly van alles wat gebeur in die gemeente
- voorbidding vra en ook vir ander te bid en hulle te ondersteun
- jou besigheid bekend stel deur middel van 'n gratis advertensie
- kommentaar lewer op alles wat in die gemeente aangaan
- deel word van 'n groep en / of jou eie groep stig
- jou eie blog bedryf (waarop ander gemeentelede kan kommentaar lewer)
- en nog baie meer
Hoe word jy deel? Klik op die MyChurch skakel op lys aan die regterkant van hierdie nuusbrief. Klik dan op die "Join this Church" knoppie. Jy moet dan jou eie profiel registreer (dis baie eenvoudig!) en dan kan jy by die Lyttelton-Oos gemeenskap aansluit. Doen dit sommer gou!
Ons sien daarna uit om jou te verwelkom. |
Droomspan
Walt Disney het by geleentheid gesę: You can dream, create, design and build the most wonderful place in the world, but it requires people to make the dream a reality.
Dit is natuurlik ook waar van ons gemeente se droom. Daarom wil ons graag 'n "droomspan" saamstel - 'n span wie se taak dit sal wees om die droom wat die Here aan ons gemeente gegee het waar te maak. Begin asseblief hieroor bid. Wil die Here jou dalk hiervoor inspan? Hou jy van uitdagings? Wil jy graag deel wees van 'n nuwe opwindende fase in ons gemeente se ontwikkeling en groei? Kontak Freddie Schoeman so gou as moontlik by lyttoos@mweb.co.za. |
Parknaval
Op 1 September hierdie jaar maak ons weer so: ons hou PARKNAVAL!
Die beplanningswiele is reeds aan die rol en ons eerste amptelike vergadering vind op 17 April om 19:00 plaas. Soos gewoonlik is daar baie hande nodig en wil ons graag elke lidmaat uitnooi om "boots and all" betrokke te raak. Dis altyd 'n groot fees en vreugde om saam te werk en skouers te skuur terwyl ons 'n groot projek aanmekaar sit.
Indien jy nou reeds jou insette wil lewer of wil aanmeld vir diens, skakel Kobus Badenhorst by 083 235 1084. |
Matlala uitreik
Die voertuie is gepak en die mense is reg! Die jaarlikse uitreik na Matlala onder aanvoering van Aksie Arbeiders vir die oes is reg om af te skop. Hulle beoog om hierdie jaar die Bapedi bevolkingsgroep in die Thabeng nedersetting te bedien. Dis een van die dorpies ongeveer 40-80 km noord van Marble Hall en Groblersdal.
Die bedieninge sluit in:
-
Huisbesoek
-
Hospitaalbesoeke
-
Groentetuinprojekte
-
Evangelisasie deur straatmimieke en dramas
-
Kinderevangelisasie deur poppekas en speletjies
-
Sport saam met die tieners
-
Jesus-film vertonings
-
Jeugkonferensies
Die grootste gedeelte van die span bestaan uit hoërskoolleerders van verskillende kultuurgroepe. Benewens sterk geestelike groei bied hierdie uitreik die geleentheid om lewensinsig, -kennis en -ervaring op te bou soos op min ander plekke.
Klik hier vir die nuutste nuus en gebedsversoeke of gaan na ons MyChurch ruimte en klik op die bulletin "Matlala uireik skop vandag af". |
In die nuus ... Vir die jongste oor kerk en geloof in die media besoek ons nuus-blog en vir 'n samevatting van wat in die onlangse tyd in die media verskyn het, klik hier. |