Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy 'n lidmaat van die NG Gemeente Lyttelton-Oos is of andersins aangedui het dat jy dit graag sou wou ontvang. As jy wil seker maak dat jy die nuusbrief in die toekoms ontvang, klik hier: bevestig To no longer receive our emails, click to unsubscribe.
Genade | Gemeenskap| Gebed | Groei | Gehoorsaamheid 12 Januarie 2007

Week van Gebed
Vrou wat bid
Tydens hierdie jaar se week van gebed fokus ons op die vrae oor gebed wat baie mense dalk te bang/skaam is om te vra. Dit is vrae soos: Wat is gebed nou eintlik? Maak dit regtig 'n verskil? Wat van onbeantwoorde gebed? Hoe moet ek bid sodat dit nie voel soos tydmors nie?

Verwag eerlike en reguit antwoorde op hierdie en ander vrae oor gebed. As jy ander vrae het oor gebed, stuur gerus 'n e-pos aan lyttoos@mweb.co.za

Week van Gebed byeenkomste: Maandag 15 Januarie tot Donderdag 18 Januarie.
Elke aand om 19:00.

Preekreeks: Volg die Rabbi
Jesus
Eerskomende Sondag, 14 Januarie, begin 'n nuwe preekreeks gebasseer op die evangelie van Markus met die titel: Volg die Rabbi. Dit handel oor die avontuur van dissipelskap en wat dit behels om 'n volgeling van Jesus Christus te wees. Diegene wat die Woordwyser volg is reeds goed op hoogte met die inhoud van die eerste paar hoofstukke van Markus.

Gedurende die volgende paar weke gaan ons dieper delf in hierdie, die kortste en oudste evangelie van die vier. Ons is op 'n ontdekkingstog om uit te vind wie Jesus werklik was as mens, wat Hy presies van ons verwag en hoekom dit sin maak om alles te los en Hom te volg.

Sondag in Lyttelton-Oos:

  • 09:00 Erediens: Ds Freddie Schoeman (Doop)
  • 09:00 Kindereredienste
  • 10:30 Erediens: Ds Freddie Schoeman
  • 12:00 Bring en braai vir kategese ouers en kinders
  • 17:30 Jeugdiens en Senior Kategese



kinders
Bring en braai vir kategese ouers en kinders
Alle ouers van kinders in die kategeseskool (voorskools, laer- en hoërskool) word uitgnooi na 'n lekker saamkuier geleentheid eerskomende Sondag om 12:00. Dit neem die vorm van 'n bring en braai aan en inligting oor die funksionering van die kategeseskool sal deurgegee word en jy kan ook sommer jou kind se mentor te ontmoet. Inskrywingsvorms vir die kategeseskool sal ook beskikbaar gestel word.

Bring jou vleis, drinkgoed en eergerei saam. Vure pap en sous sal voorsien word. Speletjies vir die kinders word gereël.

Dienslewering
Bedieninge
Ons wil graag hierdie jaar spesiale aandag gee aan die uitbouing van ons gemeente se onderskeie bedieninge. Die bedieninge fokus op een van twee sake: die ondersteuning van die missie en waardes van die gemeente / die logistieke ondersteuning van die gemeente se dienswerk.

Die doel is om soveel as moontlik gemeentelede te betrek by een of ander vorm van dienswerk, hoe klein of gering dit ookal is sodat almal die verskuilde voordeel van dienslewering kan ontdek.

Dink jy dat daar dalk 'n leemte in die gemeente se bedieningsopset is? Of lê die Here 'n saak op jou hart wat nie deur een van die huidige bedieninge ondervang word nie? Of het jy 'n voorstel om te maak wat die gehalte van dienslewering in die gemeente kan verbeter? Woon dan gerus die Bedieningskommissie se vergadering op Woensdag 24 Januarie 2007 om 19:00 in die konsistorie by sodat ons kan gesels. (As jy 'n agenda van die vergadering vooraf wil hê, stuur 'n e-pos aan lyttoos@mweb.co.za)

lydenstyd
Lydenstyd
Woensdag 21 Februarie is 'n rooi-letterdag op ons gemeente-almanak. Op daardie dag, Aswoensdag, begin ons onsself voorberei om die heel belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom te vier: Jesus se opstanding uit die dood. Die tyd vanaf 21 Februarie tot en met die Saterdag na Goeie Vrydag, staan bekend as lydenstyd.

Op 21 Februarie sal daar twee geleenthede wees om lydenstyd amptelik binne te gaan. Die oggend om 06:30 sal daar 'n As-diens wees, waartydens 'n as-kruis op gelowiges se voorkoppe gemaak sal word as simbool van rou en sondebesef. Die aand om 19:00 sal daar soos gewoonlik 'n nagmaalsdiens wees. (Laasgenoemde geleentheid is nie op die almanak aangebring nie.)

Die gebruik gedurende lydenstyd is om te vas; d.w.s. ons kies iets om op te offer, hetsy dit 'n kossoort (vleis, soetgoed, koffie/tee) is, of hetsy dit 'n aktiwiteit (sekerk TV programme, tydskriflees ens.) is. Hierdie opoffering herinner ons voortdurend aan Jesus se offer. Op hierdie manier identifiseer ons met Jesus en loop ons die lydenspad as 't ware saam met Hom.

Klub Immergroen Oggendtee
Klub Immergroen, 'n aksie vir en deur ons gemeente se Senior Lidmate is, bied weer soos gebruiklik 'n oggendtee aan in die gemeentesentrum op Saterdag 3 Februarie om 10:00. Vir meer besonderhede skakel gerus met Gerty Basson by 012 664 2433.
Onderwys
Erkenning vir onderwys werkkragte
Die biddag vir Oderwys en Opvoeding is vanjaar op 4 Februarie. In ons gemeente het dit tradisie geword om erkenning vir al die onderwysers in ons gemeente en die van omliggende skole te verleen deur 'n ontbyt vir hulle aan te bied. Dit begin om 07:30 vir 08:00 en almal word ook genooi om die erediens daarna by te woon.

Ons rig dus graag 'n uitnodiging aan almal wat op die een of ander manier 'n verbintenis het met die onderwysberoep op welke vlak ook al om hierdie geleentheid by te woon. Dit sal waardeer word as jy net vooraf met Petro Dalhouzie kan bevestig by 082 326 1911


Gemeente Dagboek
Kategese bring en braai So 14 Jan 12:00
Week van Gebed Ma 15-Do 18 Jan 19:00
Vergadering: Bedieningskommissie (Konsistorie) Wo 24 Jan 19:00
Vergadering: Admin en Finansies (KAF) Wo 31 Jan 19:00
Oggendtee: Klub Immergroen Sa 3 Feb 10:00
Adoramus (Stiltediens) Wo 7 Feb 20:00 Lees hier meer
'n Ou Franciskaase seënbede
Mag die Here jou seën met ongemak. Ongemak met halwe waarhede, maklike antwoorde en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit jou hart uit kan leef. Mag die Here jou seën met woede. Woede oor onreg, onderdrukking en uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir vrede en geregtigheid. Mag die Here jou seën met trane Trane vir mense in pyn sodat jy ‘n hand na hulle kan uitreik om te troos sodat hulle pyn in blydskap sal verander. En mag God jou seën met genoeg dwaasheid. Dwaasheid sodat jy kan glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie; sodat armes en kinders God se liefde en genade sal beleef. Amen
Kontakinligting
Leraar
Freddie Schoeman
012-664-3751
Kerkkantoor
Sexta Maree
012-664-4458
Administratiewe Beampte
Max Amsenga
012-664-3629
Koster
Willem Scholtz
083 744 6108
Orrelis
Dollie Pienaar
083 485 0059

Stuur nuusbrief aan 'n vriend

This email was sent to fourie.nico@webmail.co.za, by fredschoeman@mweb.co.za
Powered by

DRC Lyttelton-East | Posbus 14575 | Lyttelton | Centurion | Gauteng | 0157 | South Africa