Emmaus
Die Emmaus Walk ervaring is nie iets wat in
woorde omskryf kan word nie. Dit is iets wat
beleef moet word. Oor 'n tydperk van 72 uur
ervaar jy die nabyheid en liefde van God soos by min
ander geleenthede. Jou lewe word onherroeplik
omgekeer
en vernuwe. Lees die artikel hiernaas en
praat as jy dit wil meemaak.
|
|
|
Preekreeks: Volg die Rabbi
Ons klim hierdie Sondag weer in die verhaalwêreld
van Markus in en sit sodoende ons ontdekkingstog
deur die Markus-
evangelie voort om uit te vind wie Jesus werklik was
as mens, wat Hy presies van ons verwag en hoekom
dit sin maak om alles te los en Hom te volg. Jy word
weer eens uitgenooi om hierdie preek-reis met die
titel Volg die Rabbi mee te maak. Dit handel oor die
avontuur van dissipelskap en wat dit behels om 'n
volgeling van Jesus Christus te wees.
Sondag in Lyttelton-Oos:
- 09:00 Erediens: Ds Freddie Schoeman
- 09:00 Kindereredienste
- 10:30 Erediens: Ds Freddie Schoeman
- 17:30 Jeugdiens en Senior Kategese
Die volgende paar Sondae in die Kerklike Jaar:
- Sondag 18 Februarie: Verheerlikingsondag - Jesus
se verheerliking op die berg word herdenk
- Sondag 25 Februarie: Eerste Sondag in
Lydenstyd
- Sondag 4 Maart: Tweede Sondag in
Lydenstyd
- Sondag 11 Maart: Derde Sondag in
Lydenstyd
- Sondag 18 Maart: Vierde Sondag in
Lydenstyd
|
|
|
Emmaus Walk

Die “Emmaus Walk” is ‘n geestelike
vernuwingsprogram wat daarop gemik om die plaaslike
gemeente te versterk deur die ontwikkeling van
leierskap en dissipelskap.
Deelnemers ontdek weer opnuut God se liefde en
onvoorwaardelike genade. Dit is sterk gebaseer op
Christus se model van dienskneskap en moedig
gelowiges aan om Christus se voorbeeld te volg.
Dit duur 72 uur en bestaan uit vyftien praatjies
met tye van toewyding, stilte en gebed ingeweef.
Emmaus Walks word jaarliks gedurende April en
Augustus aangebied. Dit begin op ‘n
Donderdagaand en duur tot Sondagmiddag. Mans en
vrouens woon dit afsonderlik van mekaar by.
Indien jy belang stel om dit by te woon, skakel
Michiel van Niekerk by 082 888 2840.
Hierdie se jaar byeenkomste vir almal wat al ‘n
Emmaus Walk deurloop het is:
Die byeenkomste begin telkens om 18:30 met ’n ’bring
and share’.
- 30 Maart by NG Lyttelton-Oos
- 11 Mei by NG Akasia
- 13 Julie by Brooklyn Methodist
- 3 Augustus by St Stephens Anglican
- 7 September by Wierdapark Gereformeerde
Kerk
- 9 November by West View Methodist
|
Hoe werk 'n verhaal?

Ons is tans besig om elke Sondag in die
verhaalwêreld wat die skrywer van die Markus-
evangelie vir ons skep te klim en 'n tyd lank daar te
vertoef. Maar hoe werk 'n verhaal?
Om ‘n verhaal te lees is om op reis te gaan. Jy word
verplaas uit jou bekende omgewing en in ‘n
onbekende situasie – die verhaalwêreld – geplaas. In
hierdie situasie beleef jy sekere wedervaringe,
ontmoet jy sekere persone en word jy gedwing om
jou weg in hierdie vreemde situasie te vind. Die
belewenissie in hierdie ander wêreld moet
noodwendig ‘n bepaalde indruk op jou laat. Dit kan
jou menswees verryk, jou tot nuwe insigte bring en
die sin van jou bestaan beter laat verstaan. Dit kan
ook nuwe lewensmoontlikhede vir jou oopbreek.
Verhaalskrywers skep ‘n verhaalwêreld en die leser
word uitgenooi om vir ‘n wyle in daardie
verhaalwêreld te vertoef en saam met die karakters
hulle wedervaringe mee te maak. Ons word uitgenooi
om mee te leef met die verhaal wat vertel word.
Sodoende doen ons waardevolle lewenservaring op.
Om vir ‘n maand in Londen te gaan bly of deur Europa
te reis is dieselfde as om vir drie dae vasgevang te
wees in die wêreld van ‘n verhaal!
|
Nuus wat die kerk raak
Elke week verskaf die inligtingsdiens van die NG Kerk
(ABID) 'n nuusbrief waarin al die nuus wat betrekking
het op die kerk en op sake wat die kerk raak
opgesom word.
|
Lydenstyd

Woensdag 21 Februarie is 'n rooi-letterdag op ons
gemeente-almanak. Op daardie dag, Aswoensdag,
begin ons onsself voorberei om die heel belangrikste
gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom te
vier: Jesus se opstanding uit die dood. Die tyd vanaf
21 Februarie tot en met die Saterdag na Goeie
Vrydag, staan bekend as Lydenstyd.
Dienste op 21 Februarie
Op 21 Februarie sal daar twee geleenthede wees om
Lydenstyd amptelik binne te gaan. Die oggend om
06:30 sal daar 'n As-diens wees, waartydens 'n as-
kruis op gelowiges se voorkoppe gemaak sal word as
simbool van rou en sondebesef. Die aand om 19:00
sal daar soos gewoonlik 'n nagmaalsdiens wees.
(Laasgenoemde geleentheid is nie op die almanak
aangebring nie.)
Vas
Die gebruik gedurende lydenstyd is om te vas; d.w.s.
ons kies iets om op te offer, hetsy dit 'n kossoort
(vleis, soetgoed, koffie/tee) is, of hetsy dit 'n
aktiwiteit (sekere TV programme, tydskriflees ens.)
is. Hierdie opoffering herinner ons voortdurend aan
Jesus se offer. Op hierdie manier identifiseer ons met
Jesus en loop ons die lydenspad as 't ware saam met
Hom.
Silte, gebed, toewyding
Gedurende Lydenstyd sal daar ook elke oggend 06:00-
07:00 'n geleentheid vir stilte, gebed en toewyding
wees. Enigiemand is welkom en kan kom en gaan
soos hulle wil.
|
Gebedstyd
Vanaf die eerste Sondag in Lydenstyd, 25 Februarie,
sal daar ‘n gebedstyd in die bo-kamer ingerig word.
Dit sal strek van 07:00—09:00. Enige iemand kan
enige tyd kom en solank bly soos hulle wil. Daar sal
gebid word vir die geestelike groei van die gemeente,
vir die bedieninge van die gemeente, vir die
misdaadsituasie in ons omgewing, vir ons gemeenskap
en ook vir ander spesiale gebedsversoeke.
Kom soek die aangesig van die Here op in hierdie tyd!
|
Inligtingstafel
Ons het verlede jaar begin om meeste Sondae ‘n
inligtingstafel in te rig in die voorportaal van die
gemeentesentrum. Hierdie jaar wil ons dit ‘n vaste
instelling maak. Daarom het ons drie of vier lidmate
nodig om op ‘n aflosbasis die inligtingstafel te bedryf.
Indien jy belang stel om betrokke te raak, skakel
Alida Marais by 0824126650.
|
|
|
|