Nagmaal
Sondag is dit nagmaal in Lyttelton-Oos Dit bly 'n
aangrypende en besondere geleentheid. Nie net word
jy uitgenooi om dit saam met die res van die
gemeente te kom vier nie, jy word ook aangemoedig
om jouself baie goed daarvoor voor te berei.
Bring 'n bietjie meer tyd in gebed deur, 'n bietjie
meer tyd in die Skrif, 'n bietjie meer tyd in
stilte. Dink na oor God se liefde vir jou - en kom
vier dit dan Sondag met oorgawe en vreugde!
Nagmaal word Sondag by beide eredienste
in die oggend gevier: 09:00 en 10:30.
|
|
|
Preekreeks: Volg die Rabbi
Hierdie naweek is nagmaalnaweek in Lyttelton-Oos.
Nagmaal sal tydens beide oggenddienste bedien word
en almal word uitgenooi om die die liefde van die Here
te vier.
Ons sit ook ons ontdekkingstog deur die Markus-
evangelie voort om uit te vind wie Jesus werklik was
as mens, wat Hy presies van ons verwag en hoekom
dit sin maak om alles te los en Hom te volg. Jy word
weer eens uitgenooi om hierdie preek-reis met die
titel Volg die Rabbi mee te maak. Dit handel oor die
avontuur van dissipelskap en wat dit behels om 'n
volgeling van Jesus Christus te wees.
Sondag in Lyttelton-Oos:
- 09:00 Erediens: Ds Freddie Schoeman (Nagmaal)
- 09:00 Kindereredienste
- 10:30 Erediens: Ds Freddie Schoeman (Nagmaal)
- 17:30 Jeugdiens en Senior Kategese
Die volgende paar Sondae in die Kerklike Jaar:
- Sondag 11 Februarie: Sesde Sondag na
Epifanie
- Sondag 18 Februarie: Verheerlikingsondag - Jesus
se verheerliking op die berg word herdenk
- Sondag 25 Februarie: Eerste Sondag in
Lydenstyd
- Sondag 4 Maart:: Tweede Sondag in
Lydenstyd
- Sondag 11 Maart: Derde Sondag in
Lydenstyd
|
|
|
Adoramusdiens
Die eerste Adoramusdiens van die jaar vind plaas op
7 Februarie 2007 om 20:00 in die kerkgebou. Dit is 'n
diens waar die klem op stilwees in die
teenwoordigheid van die Here geplaas word. Slegs
kort Skriflesings en meditatiewe sang / musiek
verbreek die stilte. Kom beleef geestelike vernuwing
en sielsverryking deur hierdie geleentheid by te woon.
|
Ontbyt vir Onderwysers
As jy in die onderwys staan of op die een of ander
manier betrokke is by die onderwys, woon gerus die
ontbyt wat ons gemeente vir onderwysers aanbied
by. Dit vind eerskomende Sondag, 4 Februarie 2007,
om 07:30 plaas. Sondag is ook die Biddag vir
Onderwys en Opleiding.
Indien jy die geleentheid wil bywoon, skakel asseblief
vir Petro Dalhouzie (0823261911) om jou plek te
bespreek.
|
Klub Immergroen - Oggendtee
Dit is nog nie te laat om Gerty Basson te laat weet
as jy môre-oggend se tee vir Senior Lidmate wil
bywoon nie! Dit is altyd 'n belewenis en die 'komitee'
versit wêrelde om dit 'n uiters aangename
geleentheid te maak. Skakel Gertie by 0126642433.
|
Lydenstyd

Woensdag 21 Februarie is 'n rooi-letterdag op ons
gemeente-almanak. Op daardie dag, Aswoensdag,
begin ons onsself voorberei om die heel belangrikste
gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom te
vier: Jesus se opstanding uit die dood. Die tyd vanaf
21 Februarie tot en met die Saterdag na Goeie
Vrydag, staan bekend as Lydenstyd.
Dienste op 21 Februarie
Op 21 Februarie sal daar twee geleenthede wees om
Lydenstyd amptelik binne te gaan. Die oggend om
06:30 sal daar 'n As-diens wees, waartydens 'n as-
kruis op gelowiges se voorkoppe gemaak sal word as
simbool van rou en sondebesef. Die aand om 19:00
sal daar soos gewoonlik 'n nagmaalsdiens wees.
(Laasgenoemde geleentheid is nie op die almanak
aangebring nie.)
Vas
Die gebruik gedurende lydenstyd is om te vas; d.w.s.
ons kies iets om op te offer, hetsy dit 'n kossoort
(vleis, soetgoed, koffie/tee) is, of hetsy dit 'n
aktiwiteit (sekere TV programme, tydskriflees ens.)
is. Hierdie opoffering herinner ons voortdurend aan
Jesus se offer. Op hierdie manier identifiseer ons met
Jesus en loop ons die lydenspad as 't ware saam met
Hom.
Silte, gebed, toewyding
Gedurende Lydenstyd sal daar ook elke oggend 06:00-
07:00 'n geleentheid vir stilte, gebed en toewyding
wees. Enigiemand is welkom en kan kom en gaan
soos hulle wil.
|
Gebedstyd
Vanaf die eerste Sondag in Lydenstyd, 25 Februarie,
sal daar ‘n gebedstyd in die bo-kamer ingerig word.
Dit sal strek van 07:00—09:00. Enige iemand kan
enige tyd kom en solank bly soos hulle wil. Daar sal
gebid word vir die geestelike groei van die gemeente,
vir die bedieninge van die gemeente, vir die
misdaadsituasie in ons omgewing, vir ons gemeenskap
en ook vir ander spesiale gebedsversoeke.
Kom soek die aangesig van die Here op in hierdie tyd!
|
Inligtingstafel
Ons het verlede jaar begin om meeste Sondae ‘n
inligtingstafel in te rig in die voorportaal van die
gemeentesentrum. Hierdie jaar wil ons dit ‘n vaste
instelling maak. Daarom het ons drie of vier lidmate
nodig om op ‘n aflosbasis die inligtingstafel te bedryf.
Indien jy belang stel om betrokke te raak, skakel
Alida Marais by 0824126650.
|
|
|
|