Kerklike jaar
Pinksterfees
Pinkstertyd beslaan die tien dae vanaf hemelvaart tot Pinkstersondag (vanjaar 24 Mei - 3 Junie). Dit oorvleuel dus met die laaste gedeelte van Paastyd. Die fokus hier is natuurlik op die Heilige Gees wat uitgestort is op Pinksterdag om sy kerk toe te rus om die evangelie na die uithoeke van die aarde uit te dra. Pinksterfees is dus ook sendingfees.
In die NG Kerk het 'n unieke tradisie ontstaan rondom Pinkster, nl die tien-dae lange of week-lange Pinksterbidure. Hierdie tradisie het sy oorsprong in 1860 gehad, toe 'n kragtige herlewing in die kerk uitgebreek het. Hierdie herlewing was sterk sendinggerig. Mense het in hierdie tyd gereeld bymekaargekom in gebed in afwagting op en as voorbereiding op Pinkstersondag.
In 'n sekere sin kan ons sê dat Pinkstersondag die geboorte van die kerk was. Voor die uitstorting van die Gees was die dissipels 'n groepie bang, verwarde en verbrouereerde mense gewees. Ná Pinkster het hulle die evangelie vreesloos verkondig! Met Pinkster het God sy kerk deur sy Gees tot stand gebring as 'n instrument om die goeie nuus uit dra.
Pinkstersondag self behoort 'n dag vol musiek, sang, kleur, blomme en vreugde te wees. Vuurrooi behoort die dominante kleur te wees met as simbole die tonge van vuur, die duif. Tradisionele simbole wat op die kerk dui is ook vanpas, nl. dié van 'n skip en dié van 'n reënboog.
Uistallings van die gemeente se bedienings en sendingwerk kan ook 'n groot bydrae lewer tot die viering van Pinkster.
Die tema van die gemeenskap van die gelowiges behoort ook prominent te figureer. Dit is immers die Gees wat ons die gawes gee wat ons moet gebruik om die kerk op te bou. Dit is ook hierdie Gees wat ons tot 'n onlosmaaklike eenheid saambind. 'n Gemeenskapsmaaltyd of 'n liefdesmaaltyd is besonder gepas by hierdie geleentheid.
