Kerklike jaar
Paasfees
Paastyd, voorafgegaan deur Lydenstyd word gevier vanaf Paassondag tot en met Pinkstersondag - 'n tydperk van 50 dae (Grieks: pentekoste). Hierdie 50 dae van vreugde en blydskap neem dieselfde plek in die kerklike jaar in as wat die Sondag in die week inneem.
Vanaf die Donderdagaand voor Goeie Vrydag tot Paassondag (die sg. triduum of drie-dae) beleef die gelowige wat dit met oorgawe en intensiteit vier die deurgang van die dood na die lewe, die aflê van die ou lewe en die opneem van die nuwe lewe, die sterf sáám met die Jesus en die opstaan sáám met Hom.
Al meer gemeentes begin die viering van Paastyd met 'n Paaswaak, wat reeds die Saterdagaand voor Paassondag begin en wat duur tot in die vroeë oggendure van Paassondag - tradisioneel die tyd wanneer Jesus uit die graf opgestaan het. Weer eens speel die simboliek van lig deur middel van kerse 'n belangrik rol. Tydens die Paaswaak word die Paaskers aangesteek, wat in baie gemeentes regdeur die jaar brand en die gemeente voortdurend herinner aan die verrese Christus, ons Lig en Lewe.
Waar alle blomme en versierings Donderdagaand uit die kerkgebou verwyder is, is daar nou 'n ontploffing van blomme - en om die vas te breek het baie gemeentes 'n ontbyt vroeg op Paassondagoggend. Soetgoed en lekkernye neem 'n prominente plek hier in!
Dit is baie belangrik om daarop te let dat Paastyd die volle 50 dae gevier moet word. Die viering van Paasfees is nie net beperk tot Paassondagoggend nie. Dit sou 'n verskraling van die betekenis van die opstanding wees. Paastyd behoort die mees vreugdevolle en feestelike tyd van die jaar vir die kerk te wees. Die versiering van die kerkgebou behoort dit ook te reflekteer.
Verder moet ons ook in gedagte hou dat elke Sondag eintlik 'n klein Paasfees is aangesien ons elke Sondag die opstanding van ons Heer vier.
