Kerklike jaar
Lydenstyd
Lydenstyd strek vanaf Aswoensdag (sewende Woensdag voor Paassondag) tot en met Stil Saterdag, die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, duur hierdie tydperk 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Lydenstyd is noodsaaklike voorbereiding vir die viering van Paasfees. Ons kan nooit die werklike betekenis van Jesus se opstanding snap as ons nie onsself herinner aan sy lyding wat dit voorafgegaan het nie.
Lydenstyd begin op Aswoensdag. Op hierdie dag is die gebruik dat ons spesifiek nadink oor ons sterflikheid en ons sonde. Ons bely in alle ootmoed ons skuld voor die Here. Aswoensdag en die lydenstyd wat daarop volg is baie maal die begin van geestelike vernuwing in die lewe van gelowiges en gemeentes.
Gedurende lydenstyd is dit gebruiklik om te vas. Dit behels dat ons ons weerhou van sekere voedselsoorte (bv. vleis, koffie), lekkernye (bv. sjokolade, alle suiker) of aktiwiteite (koerantlees, TV kyk). Op hierdie manier identifiseer ons onsself met Jesus se lyding en "waak" ons saam met Hom. Wanneer ons dit doen, verskerp dit ons belewenis van Jesus se lyding en uiteindelik ook van sy opstanding.
Die hoogtepunt van Lydenstyd is die Groot Lydensweek wat Paassondag voorafgaan en wat met Palmsondag (vanjaar op 8 April) begin. Gedurende hierdie week beleef ons Jesus se laaste week op aarde voor sy kruisiging. Dié week begin met Palmsondag, waartydens Jesus se intog in Jerusalem herdenk word. Baie gemeentes het die gebruik om elke aand tydens die week wat volg eredienste te hou. Donderdagaand word nagmaal gevier waarna dit gebruik is dat die kerkgebou gestroop word van alle versierings sodat slegs die bord en beker oorbly as teken van Jesus se bittere lyding.
Die simbool in hierdie tyd is hoofsaaklik die kruis - maar ook alles wat met die kruisiging gepaard gaan, nl. die spykers ens. Die doel met die viering van die Groot Lydensweek is om baie diep onder die indruk van Jesus se lyding te kom sodat ons met soveel meer oorgawe die vreugde van Jesus se opstanding kan smaak.
