Kerklike jaar

 

Koningkrykstyd

Koninkrykstyd is die tyd tussen Pinksterfees en die volgende Advent. Dit staan ook bekend as “Gewone Tyd” (Eng. Ordinary Time), of die sogenaamde feeslose helfte van die kerklike jaar.

Dit word omring deur Triniteitsondag (vanjaar op 10 Junie) en Christus-die-Koning Sondag (vanjaar op 25 November). Triniteitsondag is die eerste Sondag na Pinksterfees en die Christus-die-Koning Sondag is die laaste Sondag voor die eerste Sondag in Advent. Op Triniteitsondag fokus ons natuurlik op die drie-eenheid van God terwyl ons op Christus-die-Koning Sondag fokus op die feit dat die baba in die krip eintlik die Koning van die wêreld is.

Koninkrykstyd is die tyd in die kerklike jaar waarin veral die werk van die kerk onder die loep kom. Kerk-wees in die wêreld is die oorkoepelende tema. Dit gaan in hierdie tyd oor die roeping van die kerk om God se koninkryk, wat in Jesus Christus naby gekom het (Mk 1:15) in hierdie wêreld sigbaar te maak

Die kleur in hierdie tyd is groen. Dit dui op groei, kreatiwiteit en ontwikkeling. Die vernaamste simbool is die skip met die kruis. Die skip is die simbool van die kerk en die kruis dui op die feit dat hierdie skip nie net onder die vaandel van Christus vaar nie maar ook onder sy beskerming staan.

In die Protestantse kerke word Hervormingsdag in hierdie tyd gevier, naamlik op die Sondag naaste aan 31 Oktober (Vanjaar op 28 Oktober). In baie gemeentes is die simboliese kleur op hierdie dag bloedrooi om die bloed van die hervormingsmartelare aan te dui.

Vir verdere inligting oor die kerklike jaar word die volgende webbladsye aanbeveel: http:// www.kencollins.com en http://www.leesrooster.org.za.

Terug na bo ...

Lees meer...

Kerklike jaar