Kerklike jaar

 

Die tradisie van die kerklike jaar verkondig en vier die drie groot heilsdade van God, nl. sy menswording, die lyding, sterwe en opstanding van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees. Hierdeur word ons as gelowiges herinner aan dit wat God uit liefde vir ons gedoen het en so word ons verryk en versterk in ons geloofslewe.


Kerklike Jaar

 

 In die kerklik jaar is daar drie groot siklusse:  

 

Die Kerssiklus (Advent, Kersfees, Epifanie)

Die Paassiklus (Aswoensdag, Lydenstyd, Groot Lydensweek, Goeie Vrydag, Paassondag, Pase)

Die Pinkstersiklus (Hemelvaart, Pinksterfees en Koninkrykstyd)

 

 

Terug na bo ...

 

Die Kerssiklus

Die kerkjaar begin met Advent - die vier Sondae voor Kersfees. In hierdie tyd verheug ons as gelowiges ons oor Christus se eerste koms en sien ons uit na sy twee koms. Die vernaamste liturgiese simbool is die adventskrans en die liturgiese kleur is blou. Advent loop uit op Kersfees. Die liturgiese kleur van Kersfees is wit en goud. Die tyd tussen Kersfees en Epifanie (26 Desember tot 5 Januarie) word die “Twaalf dae van Kersfees” genoem. Epifanie ("Godsverksyning") is die fees van die lig wat in die duister wêreld inbreek met die koms van Christus (Joh 1:5). Die liturgiese kleur is wit, goud en geel. Ná Epifanie word daar tot en met die lydenstyd gekonsentreer op Jesus se aardse bediening, vanaf sy doop tot en met sy verheerliking op die berg.   In hierdie tyd is die liturgiese kleur groen.

Doop van Jesus

Op die eerste Sondag ná Epifanie, vier ons die begin van Jesus se openbare bediening wat met sy doop 'n aanvang geneem het. Jesus het met sy doop die Heilige Gees ontvang, waarna die Gees Hom na die woestyn gelei het waar die Satan Hom versoek het. Hierdie woestyn-retrait van Jesus was 'n geleentheid om sy waardes en prioriteite uit te klaar en het dus gedien as voorbereiding op sy bediening op aarde. In die tyd tussen Epifanie en As-Woensdag fokus ons op Jesus se openbare bediening. Dit word afgesluit met Verheerlikingsondag, die Sondag voor As-Woensdag, die begin van lydenstyd. Jesus se verheerliking op die berg word dan gedenk. Dit dien ook terselfdertyd as herinnering dat die Lydende Kneg van lydenstyd ook die verheerlikte Koning van die wêreld is.  

 

Terug na bo ...

 

Die Paassiklus

Lydenstyd begin op Aswoensdag, 46 dae voor Opstandingsondag. Aswoensdag herinner ons aan ons sonde en is ‘n geleentheid van rou en droefheid oor ons vele misdade teen God en ons naaste. Dit is ook ‘n geleentheid tot nuwe toewyding en bekering - ‘n vernuwing in ons geloofslewe.

Lydenstyd loop uit op Palmsondag en die begin van die Heilige Week. Deur deelname aan die liturgie van hierdie tyd ontmoet ons opnuut weer die Christus, saam met Wie ons gekruisig word, sterf en weer opstaan tot ‘n nuwe lewe (Rom 6). Maandag tot Woensdag van die Heilige Week herdenk ons Jesus se laaste week voor sy kruisiging. Donderdag herleef ons die paasmaaltyd van Jesus met sy dissipels en ook sy uiteindelike oorlewering om gekruisig te word. Vrydag fokus ons op die kruisiging van Jesus en ons word herinner aan ons eie aandeel daaraan. Saterdag word stil deurgebring ter herinnering aan Jesus se tyd in die graf. Die liturgiese kleur in lydenstyd is tradisioneel pers, en die liturgiese kleur van die Heilige Week is bloedrooi.

Saterdagaand begin die grootste en die belangrikste fees van die kerk, Paasfees.  Dit is dan dat die paaswaak plaasvind (vanaf 22:30 Saterdagaand tot ongeveer 00:30 op Paassondagoggend).  Gedurende die paaswaak herdenk ons die opstanding van Jesus.  Dit is die hoogtepunt in die kerkjaar - ongelukkig, in ons kerk, die tyd waarin die meeste mense op vakansie is en kerkbywoning ‘n laagtepunt bereik. Paasfees is die viering van die opstanding van Christus, die viering van die oorwinning wat oor die Bose behaal is, die viering van nuwe lewe en geloofskrag. Die liturigiese kleur van Paasfees is wit wat reinheid en ‘n nuwe begin simboliseer.

 

Terug na bo ...

 

Die Pinkstersiklus

Na Paasfees betree ons die groot vyftig dae van Pase, die tyd tussen Paasfees en Pinksterfees. Veertig dae ná Paasfees vier ons die Hemelvaart van Jesus. Die Sondae in hierdie tyd neem dieselfde plek in die kerklike jaar is as wat die Sondag in die dae van die week inneem. Dit is dus ‘n besondere tyd van feesviering en vreugde. Die liturigiese kleur is wit, behalwe met Pinkster self, wat vuurrooi is en wat dui op uitstorting van die Heilige Gees.

Die Pinkstersiklus loop uit op die Koninkrykstyd. God se koninkryk breek in hierdie wêreld in deur die geboorte van Jesus die Seun van God, sy lewe, sy sterwe, sy opstanding, en die uitstorting van sy Gees. So kom die kerk, Jesus se liggaam op aarde tot stand. Dit is die kerk se taak om tekens van hierdie koninkryk in die wêreld op te rig. Koninkrykstyd is ‘n tyd waarin daar klem gelê word op die taak en roeping van die kerk van Christus. Die kerk leef uit die krag van die Kersgebeure, die Paasgebeure en die Pinkstergebeure.

Die eerste Sondag na Pinksterfees staan bekend as Sondag Trinitatis of Triniteitsondag. Die misterie van die Drie-eenheid word op hierdie dag gevier. Die laaste Sondag voor Advent staan weer bekend as Christus die Koning Sondag. Voordat ons weer die koms van Christus gedenk as ‘n baba in ‘n krip, moet ons net weer herinner word aan die feit dat daardie baba die Koning van die wêreld - die Pantokrator - is!

 

Terug na bo ...

Lees meer...

Advent

Lydenstyd

Paasfees

Pinksterfees

Koningkrykstyd