Selgemeentes

 

'n Selgemeente is 'n kleingroep gelowiges wat uit 5-6 gesinne (insluitend enkellopendes) bestaan.  As broers en susters van mekaar, met God as hulle Vader, funksioneer hulle as 'n huisgesin van God binne die konteks van die groter familie (die res van die gemeente en die kerk).

 

Hoekom is selgemeentes nodig?

Is die groter gemeente met sy wyke nie genoeg nie?  Is dit regtig nodig om nog selgemeentes ook in 'n gemeente te akkomodeer?  Oorlaai dit nie 'n gemeente se program nog verder nie?

Selgemeentes is nodig omrede:

Die wese van die kerk - met ander woorde dié eienskap van die kerk waarsonder die kerk ophou om werklik kerk te wees - is die gemeenskap van gelowiges.  Dit bely ons elke Sondag in die erediens in die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis:

 

Ek glo in die Heilige Gees.  Ek glo aan 'n (een) heilige, algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.   

 

As 'n gemeente so groot is dat ons nie eers meer die name van al die ander gemeentelede ken nie, dan kom hierdie wesenseienskap van die kerk nie volledig tot sy reg nie.

Ons lewe in 'n tyd waarin ons, veral in die stede, geneig is om by mekaar verby te leef.  Ons word vreemdelinge vir mekaar.  Aangesien ons ander mense nodig het om in ons eie menswees te groei is dit op die lang duur 'n onhoudbare situasie.  Elke mens het 'n behoefte aan emosionele sekuriteit - om iewers deel te wees van 'n groep waar hy/sy onvoorwaardelik liefgehê en aanvaar word.

'n Primêre groep is 'n basies sosiologiese eenheid wat bestaan uit mense wat vir 'n individu van betekenis is (sg. "significant others").  So 'n groep het vanselfsprekend 'n bepalende invloed op so 'n individu se denke, gevoelens en gedrag.  Dit wat vir die groep belangrik is, word vir die individu belangrik.  Die waardes van 'n individu word dus hoofsaaklik in 'n primêre groep gevorm.  Vir iemand om dus geestelik te groei en te ontwikkel is 'n geestelike primêre groep nodig.  'n Selgemeente bied juis dit.

Terug na bo ...

 

Wat sê die Bybel?

Natuurlik kom die woord "selgemeente" nie in die Bybel voor nie, maar die verskynsel van 'n kleingroep gelowiges binne 'n groter gemeenskap van gelowiges en wat volwaardig as 'gemeente' of 'kerk' beskou was, was algemeen in die vroeë kerk.  Daar is ten minste vier verwysings in die Bybel na sulke groepe.

Eerste verwysing:  Rom 12:5.  Die Romeine-brief word gerig aan "almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort."  Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament met 'gemeente' of 'kerk' vertaal word, is ekklesia (ekklhsia).  Dit beteken letterlik 'uitgeroepenes'.  Volgens prof Willie Jonker, is die term ekklesia in die Nuwe Testament 'n tegniese term as aanduiding vir die nuwe volk van God wat deur die verlossingswerk van Christus tot stand kom.  (Vgl sy kommentaar op Romeine by 16:3-5a)  Paulus rig dus sy Romeine brief aan die ekklesia in Rome, bedoelende die hele geloofsgemeenskap in die stad Rome.

In die laaste hoofstuk van die Romeine-brief is Paulus aan die afsluit.  Hy is besig met aanbevelings en groete.  Onder andere stuur hy ook groete aan Priscilla en Akwila.  Hy het hulle in Korinte ontmoet en by hulle tuisgegaan.  Intussen het hulle na Rome verhuis.  Dan stuur hy ook groete aan 'die gemeente (ekklesia!) wat in hulle huis bymekaar kom.'  Dit was duidelik 'n kleingroep-gelowiges binne die groter ekklesia (gemeente) in Rome wat ook as 'n ekklesia bekend gestaan het.

Prof Willie Jonker lewer die volgende kommentaar op hierdie vers:  

Paulus spreek eenvoudig van 'n gemeente of kerk (ekklesia) by hulle aan huis.  Soms gebruik die Nuwe Testament die woord ekklesia as benaming vir die kerk in 'n omvattende sin (vgl Matt. 16:18 en Ef. 1:22), dan weer vir die kerk in 'n bepaalde landstreek (vgl. Hand 9:31, maar meestal vir die kerk op 'n bepaalde plek (vgl 1 Kor 1:2 ...).  Soms word dit, soos hier, selfs van 'n byeenkoms in 'n bepaalde huis gebruik.  Die woord ekklesia dui 'n bepaalde kwaliteit aan, die kwaliteit van die nuwe volk van God.  Elke versameling van mense rondom die Woord van God is 'n openbaring van die volk van God en mag dus kerk heet.

Tweede verwysing:  1 Kor 16:19.  Ook in hierdie hoofstuk is Paulus besig met groete-boodskappe.  Hy dra groete-boodskappe aan die geloofsgemeenskap (ekklesia = gemeente) in Korinte oor.  Ondere andere dra hy die groete van die 'die gemeentes (ekklesiai) van die provinsie Asië' en dan ook van Akwila en Priscilla en ook van die gemeente (ekklesia) 'wat gereeld in hulle huis bymekaarkom'.  Paulus skryf hierdie brief waarskynlik uit Efese, waarheen Priscilla en Akwila hom gevolg het nadat hy hulle in Korinte ontmoet het.

Derde verwysing:  Kol 4:15  Hier vra hy die gemeente in Kolosse om sy groete aan die hele gemeente in Laodisea (naby Kolosse) oor te dra, en ook aan die gemeente wat gereeld in ene Nimfa se huis bymekaar kom.  Die meeste geleerdes aanvaar dat hierdie 'gemeente' deel uitgemaak het van die groter gemeente in Laodisea.  Eduard Schweizer ('n bekende Nuwe Testamentiese geleerde) skryf:  

Wherever people meet together in the name of Jesus, they are a "church" without the necessity of any quorom at all, not even the minimum number of ten, as in the case of the Jewish synagogue service.

Vierde verwysing:  Filemon 2.  Paulus rig hierdie brief aan Filemon, in wie se huis daar 'n 'gemeente' (=ekklesia) bymekaar gekom het.  Aangesien Paulus in Kol 4:9 spesifiek melding maak van die slaaf Onesimus (oor wie die brief aan Filemon handel), as deel van die gemeente in Kolosse, kan ons aanvaar dat Filemon, van wie se huis Onesimus gevlug het, ook 'n gemeentelid was.  Die kleingroep gelowiges wat in Filemon se huis bymekaargekom het en as 'gemeente' beskryf is, was dan waarskynlik ook deel van die groter 'gemeente' van Kolosse.

Dit is belangrik om daarop te let dat die grote van die groep nie bepalend is van die kwaliteit van die ekklesia is nie.  'n Kleingroep (twee of drie?) kan reeds 'n volwaardige ekklesia (ecclesia completa) vorm.    'n Selgemeente kan dus ook as 'n volwaardige 'gemeente' beskryf word.  Dit is egter ook belangrik om daarop te let dat Paulus ook klem lê op die eenheid van die kerk as liggaam van Christus op aarde.  Die verskillende gemeentes vorm almal saam deel van die liggaam en van die familie van God op aarde.  Geen gemeente, maak nie saak hoe groot nie, kan homself nie as onafhanklik van die ander gemeentes beskou nie.  Elke klein gemeente vorm deel van 'n groter gemeente en al hoe groter wordende konsentriese sirkels - totdat die hele nuwe volk van God (ekklesia!) hierby ingesluit is.  Elke gemeente, hoe klein of hoe groot ook al, vorm 'n 'sel' van die groter liggaam van Christus. 

Terug na bo ...

 

Hoekom word die woord 'selgemeente' gebruik en nie iets soos 'n 'omgeegroep' of 'bybelstudiegroep' of iets dergliks nie? 

Die term 'selgemeente' kom natuurlik nie in die Bybel voor nie, maar wel die term 'gemeente' en 'kerk'.  Beide hierdie lg. twee terme is vertalings van die woord 'ekklesia' (ekklhsia).  Die woord ekklesia word gebruik om die kerk as geheel aan te dui, om die kerk in sekere landstreek aan te dui, om die kerk in 'n dorp of 'n stad aan te dui en om 'n kleingroep gelowiges wat in 'n huis bymekaarkom aan te dui.  (Vgl. die antwoord op die vraag:  Wat sê die Bybel van selgemeentes).

Die huisgemeentes is deel van die groter gemeente in 'n dorp of 'n stad, die gemeente in 'n dorp of 'n stad is weer deel van die groter gemeente in 'n landstreek en al die gemeentes, groot en klein, is almal deel van die groter kerk (gemeente) as geheel.  Vir elkeen van hierdie verbande word een woord in die Nuwe Testamente gebruik, nl. 'ekklesia'.  Daarom kan elkeen van hierdie groeperinge aanspraak daarop maak om die term 'gemeente' te gebruik - ook die kleingroep.  Elke gemeente, hoe klein of hoe groot ook al, is reeds ecclesia completa, volledig kerk, solank dit aan die volgende voorwaardes voldoen:

Hiermee word aangedui dat die wesenskenmerk van die kerk die gemeenskap van die heiliges is.  Waar daar nie gemeenskap is nie, is daar nie in wese kerk nie.  Waar daar wel gemeenskap is, daar is reeds kerk.  Die kerk is die gemeenskap van diegene wat deur God uitgeroep is om in 'n verhouding met Hom en met mekaar te staan, ter wille van die wêreld.

Die kenmerke van die kerk, hoe klein of hoe groot die groepering is, is: 

Die waarmerke (notae ecclesiae) van die 'ware kerk' is:

Hierdie kenmerke en waarmerke behoort ook van die selgemeente te geld!  Die Sinode van Oos-Transvaal het op die sitting in Februarie 2001 besluit dat die nagmaal ook in die kleingroep bedien kan word.

Terug na bo ...

 

Hoe funksioneer 'n selgemeente? 

'n Selgemeente is 'n geestelike huisgesin.  Daarom funksioneer 'n selgemeente ook in 'n groot mate soos huisgesin.   Die lede van die geestelike huisgesin is intens betrokke by mekaar se lewens.  Hulle is op hoogte van wat in elke persoon se lewe gebeur en is daarom in staat om mekaar by te staan, mekaar te troos, mekaar te bemoedig en mekaar te vermaan.  

Die geestelike huisgesin kom een maal per week bymekaar.  By hierdie geleentheid word hulle eenheid met God (die Vader van die gesin) en met mekaar sigbaar.  Gesinslede vind uit hoe dit met mekaar gaan, hulle loof en prys en aanbid die Here, die Here self kom deur sy Woord aan die woord, en die gesin beplan saam hoe hulle die liefde van hulle Vader aan ander mense kan bedien.

Terug na bo ...

 

Hoekom moet ek by 'n selgemeente inskakel?

Hoekom moet ek by ‘n selgemeente aansluit? Kan ek nie net so ‘n goeie Christen wees sonder om aan ‘n selgemeente te behoort nie? Die antwoord is ja, natuurlik! Maar daar is bepaalde voordele wat ‘n selgemeente vir ‘n gelowige kan inhou. Ons wil graag die vyf groot ste voordele van selgemeentes bespreek:

Eerstens: Selgemeentes help mense om tuis te kom. Ons voel dikwels ontuis in die groter gemeente omdat ons nie regtig méér as net oppervlakkige kontak het met die ander lidmate van die gemeente nie. Baie lidmate ervaar dat daar nie vir húlle omgegee word nie en dat hulle nie werklik ‘n plek het waar hulle behoort nie. Mense wil graag voel dat hulle iewers behoort en waar húlle saak maak. Selgemeentes vervul in hierdie behoefte. Binne ‘n selgemeente is daar warmte en liefde en diepgaande kontak met mekaar. Selgemeente lede gee vir mekaar om, bid vir mekaar en help mekaar op allerlei praktiese maniere. Binne ‘n selgemeente voel mense tuis.

Tweedens: Selgemeentes help mense om hulle geloof met die lewe te integreer. Die waarhede van die evangelie moet neerslag vind in ons lewe. Maar hoe? Lede van ‘n selgemeente help mekaar hiermee. Binne ‘n vertrouensverhouding kan mense hulle daaglikse stryd om as gelowige te lewe met mekaar deel en mekaar met praktiese raad en advies bedien. Wanneer iemand ‘n stryd het, byvoorbeeld, om iemand te vergewe, is daar moontlik iemand anders in die groep wat deur dieselfde worsteling gegaan het. So ‘n persoon se insigte en ervarings kan baie waardevol wees.

Derdens: Selgemeentes help mense om tot geestelike- en lewensinsig te kom. Binne ‘n selgemeente funksioneer die Woord van God sentraal. Groeplede strewe daarna om te hoor wat die Here deur sy Woord vir hulle wil sê. In die selgemeente ontdek ons saam nuwe insigte in die Bybel. Eensydige interpretasies kan krom en skeef wees. Insigte van ander kan baie waardevol wees om by ‘n meer gebalanseerde interpretasie te kom. Ons kan nie die Bybel op ons eie verstaan nie. Ons moet altyd die Bybel binne ‘n hegte geloofsgemeenskap lees. So kom die leiding van die Gees tot sy reg.

Vierdens: Selgemeentes help mense om diens te lewer en uit te reik. Christen-wees beteken om Jesus se liefde te proklameer en te demonstreer - ons moet sy getuies wees in hierdie wêreld. Maar dit is nie ‘n maklik taak nie. Ook nie ‘n taak wat elke gelowige op sy eie kan aanpak nie. Dit is te groot vir een persoon alleen. Ons het mekaar nodig. Wanneer ‘n selgemeente saam betrokke raak by diens en uitreiking, dan help die lede mekaar en maak die taak so makliker. Binne selgemeentes leer ons om nie meer selfsugtig en selfgerig te lewe nie maar die nood van die mense rondom ons raak te sien.

Vyfdens: Selgemeentes help mense om God te aanbid. Die gesinsverklaring waarmee elke byeenkoms van die selgemeente begin, begin so: Die Here is hier... . Daar is dus altyd ‘n bewussyn van God se teenwoordigheid tydens ‘n byeenkoms. Een gedeelte van die byeenkoms word ook daaraan gewy om God te loof en te eer en te aanbid. Wanneer gelowiges so saam aanbid, help hulle mekaar in hulle persoonlike geloofsgroei en in hulle verhouding met die Here. 

Ten slotte: Nee, dit is nie nodig om deel van ‘n selgemeente te wees om ‘n Christen te wees nie. En tog hou deel-wees van ‘n selgemeente soveel voordele in dat dit soms moeilik is om te dink dat daar baie gelowiges is wat daarsonder klaarkom. As u graag tuis wil kom, u geloof met u lewe wil integreer, groter kennis en insig in die Bybel wil hê, sáám met ander gelowiges die avontuur van dienslewering wil ontdek en wil groei in u verhouding met die u Hemelse Vader, dan kan u dit gerus oorweeg om deel te word van ‘n selgemeente.

 

Terug na bo ...

Vrae en antwoorde

Hoekom is hulle nodig?

Wat sê die Bybel?

Hoekom die woord 'selgemeente'?

Hoe werk dit?

Hoekom moet ek inskakel?