Olievenhoutbosch Christelike Gemeenskapsforum
Agtergrond
Daar is tans 13 000 inwoners in Olieventhoutbosch en konstante toestroming vind tans plaas. Die verwagting is dat oor drie jaar daar reeds sowat 30 000 inwoners sal wees. Die verplasing van ander informele nedersettings na Olievenhoutbosch is ook onder oorweging.
Die werkloosheidsyfer is 48% (62% van die mans en 36% van die vroue het werk). Vyf en negentig persent van alle huishoudings verdien minder as R1500 per maand en die gemiddelde inkomste varieer tussen R500 en R1000 per maand in gevalle waar mense wel werk het.
Verskeie laekostebehuisingskemas word tans beplan en gevestig. Die deurgangskamp is as permanent deur die Stadraad aanvaar en die vestiging van die nodige infrastruktuur geniet tans aandag. Die Stadsraad is ook besig om die nodige ondersteuningsdienste wat nodig is vir ‘n gemeenskap van hierdie aard te vestig. ‘n Goed toegeruste gemeenskapsentrum gaan eersdaags opgerig word.
Probleem-areas en behoeftes
Sosiaal-maatskaplik: Die volgende probleme kom vry algemeen voor:
- hoë werkloosheid
- armoede
- ongeletterdheid
- drankmisbruik
- dwelms
- misdaad
- geweld
- HIV/Vigs
- Lae vaardigheidsvlakke
- Gesondheidsprobleme
Onderwys en Opleiding: Daar is tans geen formele laer- of hoërskool nie. ‘n Sterk behoefte aan nog be-waarskole bestaan asook opleiding in vaardighede ten einde kleinsake ondernemings te kan vestig. Die volgende spesifieke behoeftes bestaan:
- Opleiding in basiese lewensvaardighede
- Geletterdheidsopleiding
- Naaldwerkklasse
- Rekenaaropleiding
- Vigs-bewusmaking
Ondersteuningsdienste wat ontbreek of wat aangevul kan word:
- maatskaplike dienste,
- sport en rekreasie,
- vervoer,
- gesinsorgdienste,
- bejaardesorgdienste,
- gemeenskapsontwikkeling.
‘n Trauma-sentrum en ‘n vigs-sentrum is ook ‘n behoefte.
Ekonomiese ontwikkeling: Die gemeenskap het ‘n behoefte aan nog klein besighede en klein industrieë, stedelike landbou (bv gemeenskapstuine) en ander fasiliteite vir ekonomiese ontwikkeling. ‘n Sterk behoefte aan ‘n ekonomiese ontwikkelingsprogram bestaan.
