Oesfees en Tiendemaand Dankoffers

Ons oesfees is die gemeente se jaarlikse dankseggingsdag.  Op hierdie dag sê ons vir die Here dankie vir al die mildelike gawes wat ons so gereeld uit sy hand ontvang.  Die kerkraad sê ook vir die gemeente dankie vir harde werk en insette. 

Ons vier hierdie geleentheid met 'n fees rondom 'n gratis (vir die gemeente) potjie-ete of iets dergeliks.

Gedurende 2005 vind ons oesfees op 6 November plaas.

 

Ope brief aan lidmate: 14 September 2005

Geagte lidmaat

 

Sou u sê, gebaseer op dit wat u weet van die toestand in groot dele van die wêreld, dat u uitermate geseënd is? Hoekom doen God dit? Is dit omdat ons oulik en goed en spesiaal is - meer as ander? Is dit net ter wille van onsself, sodat ons gelukkig en tevrede kan wees? Volgens Gen 12 het God vir Abraham gesê: "Ek sal jou seën ... en jy moet tot 'n seën wees." God seën ons sodat ons weer kan seën.

Die Here seën ons met allerlei gawes: gawes van hart en verstand, gawes van gesondheid en lewenskrag, gawes op materiële gebied. Op geestelike vlak oorlaai Hy ons elke dag met sy liefde en maak Hy ons deel van 'n liefdes-gemeenskap. Op materiële vlak seën Hy ons met genoeg om te eet, klere om aan te trek, met 'n dak oor ons kop (om nie eens te praat van die TV, yskas, wasmasjien en lopende water nie!)

Al hierdie dinge is nie net vir ons eie gebruik nie. Die Here wil hê ons moet ander seën met dit wat ons van Hom gekry het deur dit wat ons van Hom gekry het te deel.

Oktober, die tiende maand van die jaar, is die maand waartydens ons gewoonlik dankie sê. Dankbaarheid is 'n eg menslike eienskap waardeur 'n mens die grense van jou selfgerigtheid deurbreek en begin raaksien wat ander vir jou gee en beteken.

In die eerste plek wil ons vir die Here dankie sê vir sy seëninge. Een van die maniere waarop ons dit doen, is om iets van die materiële seëninge waarmee die Here ons geseën het terug te ploeg in sy koninkryk. Dit is waarvoor die dankofferkoevert wat hierby ingesluit is bedoel is. Gebruik die volgende paar weke om biddend hieroor na te dink en bring dan die koevert met u dankoffer in na die erediens gedurende Oktober of op die laatste 6 November.

In die tweede plek is dit altyd die kerkraad se voorreg om vir die gemeente dankie te sê vir al die harde werk en opoffering deur die jaar - gesiens en ongesiens! Moeilike tye bring die beste in mense na vore en kaf word inderdaad van die koring geskei. Om ons dankbaarheid konkreet uit te druk, wil ons elke gemeentelid nooi na 'n gratis middagete op Sondag 6 November 2005. Ons noem dit 'n oesfees want dit is met hierdie die feeste waar die volk van God destyds die eerstelinge van die oes na Hom toe gebring het om so hulle dankbaarheid vir sy sorg en voorsiening te betoon.

 

Mag die Here voortgaan om u en u gesin ryklik te seën!

 

Freddie Schoeman (Leraar)

Terug na bo ...

Sien ook ...

Geloofoffer