Die betekenis van die Nagmaal
Vreugdefees
Die nagmaal is 'n vreugdefees in die midde van en teenoor die vreugdeloosheid van die wêreld. Die nagmaal bied 'n voorsmaak van die ewige vreugde wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam. Daarom kan ons nou reeds in dankbaarheid saam met die triomferende kerk van alle oorde en tye juig: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer." (Op 5:9, 10)
Gedagtenismaaltyd
Die nagmaal is 'n gedagtenismaaltyd Die Here het by die instelling van die nagmaal gesê: "Gebruik dit tot my gedagtenis." In die nagmaal dink ons terug aan die lewe van Jesus, en in die besonder ook aan sy dood op Golgota. Wanneer ons die brood en die wyn sien, sien ons in ons gedagtes die hele lydensweg van Jesus voor ons afspeel: hoe Hy Homself verneder het deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem; hoe Hy van God verlate was en uitgeroep het: "My God, my God, waarom het U my verlaat?", sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.
Verlossingswaarborg
Die nagmaal is 'n waarborg van ons verlossing, hier en nou. Terwyl ons die nagmaal gebruik, verseker die Heilige Gees ons van ons redding en ons verlossing. Hierdie sekerheid is nie gegrond op ons gevoelens of stemminge nie, maar op die tekens uit die hand van die Here. Daarom weet ons: so seker as wat die brood voor ons oë vir ons elkeen gebreek word, en so seker as wat die wyn voor ons oë geskink word, ja, so seker as wat ons dit met die mond eet en drink, so seker het ons saam met Jesus aan die kruis gesterf en opgestaan uit die dood en lewe ons nou reeds die ewige lewe.
Toewydingsfees
Die nagmaal is 'n toewydingsfees. Omdat ons harte van nature godefabrieke is (Calvyn), moet ons telkens bevry word om die enigste ware God te aanbid, dié God wat Homself in sy Seun geopenbaar het. In die nagmaal word ons gekonfronteer met die die vrae: Waarop sit jy jou hart? Waar lê jou hoogste prioriteite en lojaliteite? Wie roep jy aan in jou oomblikke van nood? Op wie vertrou jy? Wanneer ons die nagmaal gebruik neem ons stelling in teen alles wat 'n afgod in ons lewens sou kon wees, bely ons ons onverdeelde trou aan dié God wat nie alleen die Skepper is van die hemel en die aarde nie,. maar ook die Vader van ons Here Jesus Christus.
Gemeenskapsviering
Die nagmaal is die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. ('n Viering van die feit dat ons 'n heelgemaakte gemeenskap is.) Deur die Heilige Gees is Christus self hier teenwoordig, en die Heilige Gees maak ons oë oop sodat ons Christus as't ware kan sien. Maar die Heilige Gees maak ons oë ook oop vir mekaar. Hy maak ons bewus daarvan dat ons lede is van een liggaam en Hy bind ons in liefde aan mekaar. Dit beteken dat ons in vergewensgesindheid, nederigheid, goedgesindheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid met mekaar moet omgaan. Wie die brood en die wyn van die nagmaal eet en drink, word ook geroep om die voete van ander te was. Wie eenmaal saam aan die Here geëet en gedrink het, kan nie meer in onvrede met mekaar lewe nie.
Toekomsverwagting
Die nagmaal is 'n verkondiging van ons toekomsverwagting. Wanneer ons die brood en wyn in ons hande neem en daarna kyk, kyk ons vooruit na die wederkoms van die Here, en word ons deur dié tekens van gebrokenheid daaraan herinner dat God uiteindelik alles weer sal heelmaak. Daarom is die nagmaal ook 'n fees van hoop in die midde van en teenoor die hooploosheid van hierdie wêreld. Die nagmaal bied 'n voorsmaak van die ewige vreugde wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam.
