Die Doop
Doopgeleenthede word na gelang van behoefte gereël. Indien julle julle kind wil laat doop moet julle so gou as moontlik:
- Aanmeld by die saakgelastigde (Sexta Maree: 012-664-4458 of 664-1506)
- Die doopkladboek voltooi (sodat ons seker is die korrekte gegewens word in die doopregister aangeteken)
- 'n Doopseminaar bywoon (kontak ds Freddie Schoeman - 012-664-3751)
- Indien moontlik, die Alpha-kursus bywoon
Om 'n kind te kan doop is dit noodsaaklik dat die doopouers se saak met die Here reg is. Indien u enigsins twyfel hieroor skakel asb. onmiddelik met een van die leraars of besoek hierdie bladsy ----------------hoe kan ek my saak regmaak link
Die betekenis van die doop
Wanneer iemand (volwassene of kind) gedoop word dan gebeur die volgende:
Hy/sy word God se eiendom. (Matt 28:19) Iemand oor wie Naam van die Here uitgespreek word, word sy eiendom. As God se eiendom is ons as gedooptes verseker van sy beskerming te alle tye - want God gee om vir dié wat syne is.
Hy/sy word verenig met Christus. Dit beteken dat ons saam met Christus gekruisig is, saam met Hom begrawe is en saam met Hom opgestaan het en nou saam met Hom lewe. (Gal 2:20)
Hy/sy word deel van Christus se liggaam hier op aarde, die kerk. (1 Kor 12) Kinders wat gedoop is, is dus volledig lidmaat van die kerk en moet as sulks benader en behandel word. Kinders is nie tweede-klas lidmate van die kerk nie!
Hy/sy word deel van die verbond. (Gal 3:29) Die verbond is God se liefdesooreenkoms met die mens waarin Hy onderneem om sy God te wees en van die mense verwag om Hom te dien.
Hy/sy word gereinig van die erfsonde. As gevolg van die sondeval word alle mense met erfsonde gebore. As deel van die menslike geslag het ons deel aan die sondesmet wat daar aan die menslike geslag kleef. Met ons doop word ons hiervan gereinig en oorgeplaas na die geslag van Christus. (Rom 5)
Hy/sy ontvang vergifnis van sonde. (Hand 2 - vgl Petrus se opdrag na sy toespraak) Met die doop word ons deel van dit wat Christus vir ons aan die kruis bewerkstelling het: vryspraak van die straf van sonde. Op grond van Christus se kruisdood wat versoeing tussen ons en God gebring het, word ons sondes vergewe.
Hy/sy ontvang die Heilige Gees. In die Bybel word die doop ten nouste gekoppel aan die ontvangs van die Gees. Met ons doop kom woon die Gees in ons. Later, wanneer ons besluit om ons lewens totaal onder God se beheer te plaas, word ons vervul met die Gees.
Hy/sy ontvang die saad van die wedergeboorte. (Joh 3). Hierdie saad moet nog ontkiem - en die gemeente is saam met die ouers verantwoordelik daarvoor om 'n vrugbare bedding te skep waarin dit kan gebeur!
Samevatting
Met ons doop kom God en Hy stort sy onvoorwaardelike liefde oor ons uit. Vir die res van ons lewens kan ons staatmaak op hierdie liefde van God.
