2007-08-11

Is Afrika se mense bloot dom?

Deon Maas verraai meer as net sy rassisme in sy artikel Saterdag in By, bylaag in die Beeld.

GODSDIENS is die vinnigste groeiende sakeonderneming in Afrika. Orals waar jy gaan, in en buite Suid-Afrika, verrys kerke in die swart gemeenskappe.

Dít terwyl wit kerke plaaslik verkoop word as goeie beleggings vir mense wat dit in huise omskep. In Europa word selfs geskiedkundige ou katedrale in kroeë of nagklubs omskep.

In die Tsjeggiese Republiek glo slegs 27% van die mense God bestaan – die laagste persentasie van enige land in Europa.

My oorlede ouma sou sterk gevoel het ’n direkte verband bestaan tussen dié neiging en die oorstromings en hittegolwe, maar dís ’n ander storie.

Soos met sigaretadvertensies en skoonheidskompetisies het die aanvraag vir godsdiens (of eerder die gebrek daaraan) die mense wat geld daaruit maak, gedwing om ’n nuwe mark te soek.

Soos wat Europa sterker, ryker en gemakliker word, neem die behoefte aan godsdiens af, omdat mense nie meer dié kruk nodig het om hul toekoms te verseker nie. Hul hede is goed genoeg sodat hulle nie oor die hiernamaals bekommerd hoef te wees nie.

Onder een groep mense neem die vraag af en onder ander styg dit. Enige ekonoom sal jou vertel as jy wil hê dié sakeonderneming moet ’n toekoms hê, moet dit verskuif word en ’n nuwe mark geskep word om seker te maak dat die filosofie (ja, sakeondernemings hét dit, glo dit of nie) en die inrol van geld kan voortgaan.


AFRIKA is ’n natuurlike afsetpunt vir godsdiens. Die gewone ou se lewe gaan daagliks agteruit. Dit beteken hy of sy voel onsekerder oor die toekoms en soek so ’n bietjie sekuriteit en stabiliteit om hom te laat voel daar is wel nog ’n rede om soggens uit die bed uit op te staan.

Wat ons in Suid-Afrika sien, is net ’n klein deeltjie van wat in die res van Afrika aan die gebeur is.

As Nigerië enigsins ’n aanduiding is van wat vir ons voorlê, kan mense wat nie met georganiseerde godsdiens gemaklik is nie, hulle maar regmaak vir ’n lang en lekker bitch-en-moan-sessie in die volgende paar jaar.

In Nigerië is kerke die winkelsentrums wat geloof verkoop.

Dié land, wat die vermetelheid het om homself as ’n funksionele ekonomie te probeer verkoop, bied mense wat probeer om aan iets vas te klou wat groter as hulself is omdat hulle geen ander uitweg sien nie, meer opsies as sekswinkels.

Soos in Suid-Afrika is dit dieselfde ou wat jou deur die week besteel, wat jy Sondag hier – mooi aangetrek in ’n spoguitrusting om te wys hoe suksesvol God hom maak – in die kerk sal kry.

Predikers is die voorbladfoto’s in society-tydskrifte, daar is advertensieborde langs die pad en koerantadvertensies wat goed adverteer soos die “Holy Ghost Service”. Tradisionele godsdienste word versaak in die strewe na ’n Westerse god wat hulle beskaafder en meer opgevoed sal laat lyk.

In een van die vele gridlocked-strate in Lagos is daar ’n advertensiebord met ’n groot Mercedes-Benz daarop. Die tagline is: “God does not care about what you drive. God cares about what drives you.” Ek wonder hoe Mercedes-Benz daaroor voel.

(En net vir die rekord, die hoofletter-G hierbo en die res van hulle wat in die rubriek gebruik word, is nie myne nie. Dis deur iemand anders daar gesit omdat dit grammatikaal korrek is).


DIE naam van byna elke sakeonder­neming in Nigerië het die een of ander godsdienstige koppeling: White Soul Motors, Divine Hotel, The Lord’s Furniture, God Is The Best Time Hair Salon, en dies meer.

Die kerke hier is groter, beter toegerus en het ryker predikers as Rhema.

Dit het goeie sakesin om ’n kerk te begin. Dis belastingvry, daar’s groot geld wat mense skenk met die hoop dat hulle in die hemel gaan kom, en jy werk net een keer per week.

Dienste word gereeld in Nigerië aangebied deur evangeliste uit Europa of die VSA – mense wie se preke maande lank vooruit geadverteer en promote word soos ’n rockkonsert.

Dit is ouens soos Reinhart Bonnke, wat soos sendelinge van ouds instroom en nie net siele terugvat nie, maar nou geld ook.

Maar hoe kan swart mense in God glo? Ná alles wat in die naam van God in Afrika gedoen is, al die swaarkry, pyn en lyding, word hulle steeds deur die ore gewerk in die missionary position.

Is hulle net dom, of het Afrika ’n god nodig sodat daar hoop vir die toekoms kan wees?