LitNet | KKNK Oop gesprek: Geen God – of God-geen?
George Claassen se bydrae tot Oop Gesprek by die KKNK.
Is daar redes om te glo? Of is geloof en rede onversoenbaar?
Ek wil dié vrae dadelik en direk met ’n nee en ’n ja beantwoord.
Nee, daar is geen enkele rede om vandag nog te glo of te moet glo nie. Daarvoor het die wetenskap sedert Copernicus en Galileo in die 16de eeu, Darwin in die 19de eeu en moderne bevindings vandag te verdoemend die sprokies wat in die Bybel, die Koran en ander heilige boeke voorkom, finaal nek omgedraai.
En ja, geloof en rede is inderdaad onversoenbaar in die eeu waarin wetenskaplike bevindings en rasionaliteit die enigste meganismes is om te oorleef in ’n heelal en sonnestelsel waarin die God waarin soveel glo, duidelik nog nooit sy of haar verskyning gemaak het nie, of darem te dêm stil is wanneer die mens hom of haar die nodigste het.

