Geestelike oorlogvoering
Sake soos die bestaan van bose geeste en geestelike oorlogvoering is weer op die agenda van die komende Algemene Sinode.
In wat een van die interessantste sinodegesprekke in jare kan wees, gaan die NG Kerk besluit op ’n beleid oor “die geestewêreld en bevryding”.
WANNEER ’n onrein gees uitgedryf word, het Jesus eenkeer volgens die evangeliste gewaarsku, “swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant.”
Die debat oor bose geeste is baie dieselfde – hy duik telkens weer op nes jy dink hy is klaar besweer.
As ’n mens die Bybel ernstig opneem, is dit moeilik om nie een of ander tyd oor die bose na te dink nie. Jesus werp ’n paar keer bose geeste uit mense (in die bekendste geval neem die geeste hul intrek in varke). Paulus waarsku dat gelowiges ’n stryd teen die magte in die lug voer. Die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu, lees ’n mens elders.
Desondanks is daar sedert die Verligting in veral die tradisionele Protestantse kerke nie veel van bose geeste gemaak nie. Die idee klink vreemd in ’n moderne en wetenskaplike wêreld. Ook in die NG Kerk (en veral dié gemeentes waar mans nog das dra en orrelmusiek gespeel word) vorm duiweluitdrywing nie juis deel van die liturgie nie.

