2007-05-30

Geestelike oorlogvoering

Sake soos die bestaan van bose geeste en geestelike oorlogvoering is weer op die agenda van die komende Algemene Sinode.

In wat een van die interessantste sinodegesprekke in jare kan wees, gaan die NG Kerk besluit op ’n beleid oor “die geestewêreld en bevryding”.

WANNEER ’n onrein gees uitgedryf word, het Jesus eenkeer volgens die evangeliste gewaarsku, “swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant.”

Die debat oor bose geeste is baie dieselfde – hy duik telkens weer op nes jy dink hy is klaar besweer.

As ’n mens die Bybel ernstig opneem, is dit moeilik om nie een of ander tyd oor die bose na te dink nie. Jesus werp ’n paar keer bose geeste uit mense (in die bekendste geval neem die geeste hul intrek in varke). Paulus waarsku dat gelowiges ’n stryd teen die magte in die lug voer. Die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu, lees ’n mens elders.

Desondanks is daar sedert die Verligting in veral die tradisionele Protestantse kerke nie veel van bose geeste gemaak nie. Die idee klink vreemd in ’n moderne en wetenskaplike wêreld. Ook in die NG Kerk (en veral dié gemeentes waar mans nog das dra en orrelmusiek gespeel word) vorm duiweluitdrywing nie juis deel van die liturgie nie.

Obama se kerk

Allan Boesak skryf oor Amerikaanse presidentskanditaat Barack Obama se kerk.

Daar is, so laat ’n vriend uit die VSA my weet, ’n groei- ende probleem met presidentskandidaat Barack Obama.

Nee, dis nie sy standpunt oor Irak of Iran, of oor martelpraktyke in Guantanamobaai nie.

Dis oor sy kerk. Obama is lid van Trinity United Church in Chicago, een van die grootste gemeentes van wat hier by ons die Kongregasionalistiese Kerk heet.

Die kritiek is dus nie dat Obama ’n kerklose heiden is, ook nie dat hy sy politiek in sy Christelike geloof probeer anker nie, maar eerder oor die kerk waarvan hy lid is, en dié se aanstootgewende boodskap.

Trinity Church is ’n swart kerk met wat hulself ’n “onapologetiese” Christelike getuienis noem. Vir hulle is Christelike geloof persoonlike bekering én sosiaal-politieke verantwoordelikheid; die kerk is diep gemeenskaps- en wêreldbetrokke. Hulle getuig teen oorlog én bendegeweld, teen rassisme én ekonomiese onderdrukking van steeds miljoene in die VSA. Die opbou, behoud en bemagtiging van die swart gemeenskappe is al dekades deel van hul praktiese geloofsgetuienis.

Jeremiah Wright, pastoor van die gemeente, preek hartstogtelik teen militarisme en die VSA se voortou-rol daarin, teen die nuwe voorspoedsteologie en die gepaardgaande materialisme. Hy pleit om ’n sober lewenstyl.

Oorlewingsgids vir gays

Neels Jacson se oorlewingsgids vir gays met die oog op moontlike besluite deur die Algemene Sinode wat hulle raak.

Die debat oor homoseksualiteit in die NG Kerk word aanstaande week by die algemene sinode op die spits gedryf.

Vir mense wat gelowig, maar ook gay is, wat boonop graag bande met die kerk wil behou, is dit ’n belangrike debat.

Omdat dit ’n debat is wat hulle met belangstelling sal volg, is dit ook ’n geleentheid waarby hulle weer, soos dikwels in die verlede, seergemaak kan word deur wat uit kerklike kringe oor hulle gesê en besluit sal word.

Teen daardie agtergrond ’n paar voorstelle oor hoe gays hulself kan beskerm – ’n soort oorlewingsgids vir gays van die NG Kerk se algemene sinode.

Erwin McManus

Neels Jackson doen verslag oor Erwin McManus se optrede gister by Moreletapark.

McManus, wat sy kerk in ’n nagklub bedryf, het ’n hele klompie onkonvensionele gedagtes by sy gehoor gelaat.

Hy het byvoorbeeld vertel dat hy in ’n stadium begin het om uit die Kinderbybel te preek.

Sy vrou het vir hom gesê die mense dink hy beledig hulle intelligensie, maar hy het gesê dis presies wat hy wil doen.

Hy wou vir hulle wys dis nie ’n hoë intellektuele taak om Jesus te ken nie.

“Jy ken nie vir Jesus oor jy slim is nie.”

Hy het ’n paar maal klem gelê daarop dat dit belangrik is om eerlik te leef.

’n Mens kan ’n jaar lank oor gasvryheid preek, maar as die mense nie sien dat jy gasvryheid leef nie, gaan hulle dit ook nie doen nie, het hy gesê.

Sy kerk, waarheen mense stroom, het nie ’n evangelisasieprogram nie, het hy gesê.

Hulle maak bloot vriende met mense wat nie gelowiges is nie.

Baie nie-Christene hou nie van die kerk nie omdat hulle kerkmense as arrogant en veroordelend beleef, het hy gesê.

Hy het kerke ook gekritiseer omdat kerkmense nie ingestel is op die nood van die wêreld nie, maar net op hul eie gemak.

Hy het ’n vergelyking getref tussen ’n sterk skrum en hoe die kerk behoort te funksioneer, maar gesê pleks van ’n skrum is kerke dikwels ’n jacuzzi.

2007-05-29

Brief aan NG Kerk: 'Laat gay leraars toe'

'n Ope brief aan die Algemene Sinode wat volgende week vergader oor gays

Verskeie bekendes pleit in ’n ope brief aan die algemene sinode van die NG Kerk dat die kerk openlike gay predikante op die kansel moet toelaat.

Dr. Frits Gaum, gewese redakteur van die Kerkbode en skriba van die algemene sinode, is een van die organiseerders van die brief wat deur sowat 500 mense onderteken is.

Onder hulle tel bekendes soos die sanger Steve Hofmeyr, mnr. Johnny die Lange, adjunkminister van justisie, die letterkundige prof. Elize Botha, die akteur Nic de Jager en die rubriekskrywers dr. Cecile Cilliers en haar suster, Madeleine van Biljon.

Nie omdat hulle dit verdien nie, maar net uit genade

Bekendes en kenners gee hulle mening oor die Jaco van der Westhuyzen T-hemp debat.

OP skool was godsdiens net so deel van spansport soos lemoenwiggies deel was van halftyd. Voor die wedstryd het ’n spangebed saam met Deep Heat-dampe en die reuk van varsgesnyde gras opgegaan. Ná die wedstryd is ’n dankgebed uitasem in ’n gebedskringetjie opgestuur. En tydens die wedstryd het elke speler sy stil skietgebedjies saam met sy hart in sy ore voel klop.

Ná die Bulls se Super14-oorwinning lyk dit of godsdiens en spesifiek Christenskap nog net so lewend in beroepsrugby is. Suid-Afrika se rugby-en-braaivleis-kultuur het eintlik nog altyd ’n stil vennoot gehad: godsdiens.

Verlede Saterdag het dié vennoot sy stem duidelik laat hoor toe Jaco van der Westhuyzen ná die Bulls-oorwinning met sy “Jesus is King”-hempie gepronk het. Tóé kyk almal met hernieude aandag hoe die Bulls ná die wedstryd mekaar biddend om die skouers gryp.

Beeld

Johann Rossouw van die FAK reageer op die "Jesus is King" T-hemp van Jaco van der Westhuizen na die Blue Bulls se oorwinning in die Super 14 finaal.

DIE debat wat ontstaan het oor die Bulls se religieuse inkleding van hul oorwinning in die Super14-eindstryd is tot dusver gekenmerk deur twee sterk teenoorstaande standpunte.

Die een kant, wat kennelik onder Beeld-lesers in die minderheid is, wil dit hê dat religie ’n private saak is wat uit die openbare ruimte gehou moet word. Dit is goed en wel dat die Bulls toegewyde Christene is, maar ons wil dit nie openlik verkondig sien op die sportveld nie, lui dié standpunt min of meer.

Die ander kant, wat weer opsigtelik in die meerderheid is, kan glad nie sien waarom religie ’n private saak gemaak moet word nie, en gaan selfs so ver as om diegene wat religie só privatiseer, te beskuldig daarvan dat hulle nie die moed van hul oortuiging het om te sê waar hulle werklik staan nie.

Om tot ’n verantwoorde standpunt oor die kwessie te kom, is nie so maklik nie. Maar dis nie iets waarvan ons moet terugdeins nie, want die debat gaan na die hart van ’n aantal wesenlike vraagstukke van ons tyd. Soos: Waar pas religie in die samelewing in? Wat is die rol van religie in groepvorming? Wat is die verhouding tussen religie, politiek en ekonomie?

2007-05-18

Die Burger

Wie staan in die pad van kerkeenheid?

Dana Snyman vertel onlangs van die evangelis wat hulle by die pastorie kom besoek het.

Hy het by die agterdeur geklop, want hy was swart, van die NG Kerk in Afrika. Hy het op sy dikwiel-fiets gery en in die lokasie vir swart mense gepreek.

Dan was daar ook ’n ander dominee, maar hom het hulle eerwaarde genoem, al was hy wit, en hy het ook vir die swart mense gepreek.

Hy het na die kerkbasaar gekom, maar die mense het nie met hom gesels en grappies gemaak soos met die evangelis nie. Die wit eerwaarde en die swart evangelis het eenkeer saam in die dorp gery, en die evangelis het agter op die bak van die eerwaarde se Corona gesit.

Dana skryf toe maar oor hierdie dinge omdat hy gelees het dat ná al die jare steeds nie eenheid is nie tussen die NG Kerk in Afrika en die NG Kerk, waarvan hy ’n lidmaat is.

2007-05-17

24.com - World news 838 complaints against Bible 838 complaints against Bible

Chinese plaas dalk 'n 18VS beperking op die Bybel!

Hong Kong - More than 838 complaints about the Bible had been received by the government's anti-porn watchdog on Wednesday after a Chinese website said the Christian holy book was full of stories of rape, incest and violence.
The complaints were sparked after the Chinese language website ran a formalised letter, which could be forwarded to the Television and Entertainment Licensing Authority, complaining that certain passages in the Bible were indecent.

The move by the website came after the authority ruled earlier this week that a series of sex columns published in a newspaper published by students at Chinese University were indecent.

One of the columns asked students questions about incest and bestiality.

The complaint letter on the website makes specific mention of the newspaper's column.

The authority confirmed on Wednesday that it had received about 838 complaints about the Bible, compared with about 80 against the students' newspaper.

The licensing authority could not say if the complaints about the Bible would be investigated. A publication is exempt from anti-porn laws if it is deemed to be in the interest of science, literature, art or academic study.

But if the complaints against the Bible were held to be valid, the holy book would have to be sold like sex magazines, in sealed packaging with a warning that it could only be bought by people older than 18. - Sapa-dpa

BBC NEWS | South Asia | Pakistan Christians demand help

Die Christene in Pakistan verkeer in ernstige gevaar.

Christians in north-west Pakistan are demanding government protection following threats of bomb attacks if they do not become Muslims.
An unsigned letter received 10 days ago said they had to convert by Thursday.

Militants have been carrying out a sustained campaign to prevent "anti-Islamic" activities in North West Frontier Province (NWFP).

2007-05-14

Beeld

Dr Nico Smith wys op die feit dat gemeenskap die essensie van die kerk is.

In haar artikel in die rubriek Godsdiens-aktueel (7 Mei) skryf ds. Elsje Büchner oor ’n kerkbegrip van “ek is hier om gedien(s) te word”. Daarteenoor stel sy dan dat dit tot die wese van die kerk behoort om te dien – na mekaar as medegelowiges om te sien en na die wêreld uit te reik. Dan sal, na haar mening, die kerk weer wees “soos wat die Here dit bedoel het”.

Natuurlik is die dienskarakter van die kerk van die uiterste belang, maar beslis nie van eersterangse belang nie.

Die kerk is in die eerste plek ’n gemeenskap van gelowiges in Christus en in hul gemeenskap met Christus en mekaar, neem hulle die gestalte aan van die liggaam van Christus in die wêreld as ’n dienende liggaam.

Beeld

Isak Burger reken godsdiens is besig om weer veld te wen.

Die afgelope jare probeer mense vanuit verskillende oorde en op verskillende wyses te kenne gee dat godsdiens (in die breedste sin van die woord) sy dag gehad het en sy plek en invloed in ons huidige samelewing verloor.

Van die meer dramatiese stellings in die verlede was Friedrich Nietzsche se in memoriam- simpatie met “God se dood” en John Lennon se aankondiging oor die Bybel se “mindere” gewildheid op Heathrow-lughawe toe die Beatles in hul fleur was. (Intussen is Nietzsche en Lennon dood en word daar meer Bybels as voorheen gedruk en versprei.)

Met die feitlik onbelemmerde spraakvryheid wat die media in die Weste aan mense bied, is daar gereeld sulke “Hyde Park”-kartetse wat teen veral die Christendom, die Bybel en God afgevuur word. Neem ook nie weg die oën-skynlik wetenskaplik gefundeerde boeke teen God en die Bybel deur persone soos Richard Dawkins nie.

Dis opvallend dat dit hoofsaaklik die Christelike godsdiens en die Bybel is wat aan sulke ongebreidelde kritiek onderwerp word.

Ek wonder hoekom? Miskien is die Bybelkritici net te bang om iets teen die Koran kwyt te raak?

Christene, selfs die sogenaamde fundamentaliste, dreig andersdenkendes deesdae nie sommer met die dood nie!

Teen dié agtergrond is daar egter ’n interessante tendens wat die laaste jare wêreldwyd ontstaan het. Dit word vervat in die begrip “Die terugkeer van godsdiens uit ballingskap.”

Spaneenheid

André van Niekerk se rubriek in die Beeld.

As jou soort aanbidding van God vir jou goed werk en jy ’n geseënde lewe het, sal jy dit graag met ander deel. Trouens om dit nie te doen nie, kan vir jou dalk na liefdeloosheid voel.

Ongelukkig werk een model om God te ervaar nie by ons almal nie. Daarvoor het die Here ons net te verskillend gemaak. Dink maar net aan Meyers-Briggs se bekende indeling van persoonlikheidstipes:


Ekstroverte kry energie uit hul saamwees met ander mense. Dit is dus te verstane dat hulle veel makliker oor hul geloof sal praat en in die openbaar sal bid as introverte.


Persone wat inligting graag met hul sintuie versamel en verwerk (sensors) stel die letterlike betekenis van die Bybelverse voorop.

Intuïtief-geleide persone begryp die Bybelse beeldspraak oor God en verstaan dit op hedendaagse wyses.


Op ’n uitdaging sal persoonlikhede wat meer met hul koppe besluite neem (sogenaamde denkers) vanuit feitelike sekerhede wil optree. Diegene wat graag hartsbesluite neem (sogenaamde voelers), maak egter gemaklik op moontlikhede en selfs wonderwerke staat.


Sommige persoonlikheidstipes verkies dat alles goed georden is. Daarom wil hulle eredienste en geloofsverstaan in fyn uitgewerkte strukture verpak hê. Ander meen dat tradisies en ordes hulle juis inhibeer en die Heilige Gees se vrye werking verhoed.

Om vanmiddag te wen, moet die Bulls en Sharks met ’n plan speel wat by hulle pas.

Daarby moet elke speler homself wees en sy eie besondere rol vervul.

As ons as kerk meer soos ’n wenspan wil wees, moet ons die verskeidenheid onder ons as verryking eerbiedig. Jy mag jou soort Godsbelewing met ander deel, maar ander nie daarmee boelie nie. Die verskeidenheid in die span is juis die geheim van sy sterkte.

– Deur André van Niekerk

Steeds te min vroue in ampte

Die verslag van die taakgroep vir diversiteitsbestuur in die NG Kerk ...

Die NG Kerk het nog nie genoeg gedoen om leierskap onder vroue in die kerk te ontwikkel nie, sê ds. Elsje Büchner, lid van die kerk se taakgroep vir diversiteitsbestuur.

Dié taakgroep sê in sy verslag aan volgende maand se algemene sinode dat daar einde verlede jaar 43 vrouepredikante in die bediening was.

Sedertdien, sê Büchner, het daar nog twee bygekom.

Van dié 45 is 25 heeltyds in gewone gemeentes, twee werk by kinderhuise, daar is vier kapelane, vier studenteleraars, nege in deeltydse poste en een wat georden is, maar nie nou in ’n gemeente werk nie.

2007-05-09

Ek is in die kerk om gedien(s) te word

Elsje Büchner se rubriek in die Beeld van Maandag.

Die kerk dra swaar aan ’n stuk bagasie wat haar erg in haar werksaamhede en die nakoming van haar roeping strem.

Nee, dit is nie apartheid nie, dit is ’n kerkbegrip wat absoluut rondom lidmate se gemaklikheid sentreer.

Ek noem dit die “ek is hier om gedien(s) te word”-kerkbegrip.

’n Mens kom om ’n braaivleisvuur of kuiertafel baie maklik agter wat mense se kerkbegrip is.

Naas die misdaad, politiek, rugby en krieket, sorg godsdiens, die kerk en die arme dominee vir vurige gesprekke!

Van die frases wat ek hoor, laat my eintlik skrik, want dit weerspieël ’n gebrek aan insig en deurdagte kennis én die aanvaarding van ’n eg Bybelse siening oor wat die taak van ’n gelowige en die rol van ’n kerk is.

Van die frases wat kenmerkend is van die “ek is hier om gedien(s) te word”-kerkbegrip, is frases soos:

) Ek kom kerk toe om iets vir die week te kry.

) As die kerk my geld wil hê, kan hulle dit kom haal.

) Ek het die dominee jare laas gesien.

) Ek is regtig baie besig, moenie nog iets van my vra nie.

) As hulle nog een maal sê ek moet iets doen, dan gaan ek loop!

) Ek weet nie mooi hoe werk die goed in die gemeente nie.

) Die kerk moet my kultuur in stand hou.

) Die kerk moet ingestel wees op my spesifieke behoeftes (en as dit nie gebeur nie hou ek my dankoffer terug!)

) Die kerk mag nie te reguit wees oor dinge wat verkeerd is nie.

) Moet my net nie vra om met ander oor die Here te praat nie – ek is nie ’n goeie prater nie en dit maak mense (en vir my) in elk geval ongemaklik.

Die Nagmaal, moderne gelykenis

Laurie Gaum vertel 'n moderne gelykenis ...

Dit is Manenberg, Kaapse Vlakte. Dis Suid-Afrika van die tagtigerjare. Die Anglikaanse priester, oorspronklik van Engeland afkomstig, is oudergewoonte aan die nagmaal bedien in sy gemeente. ’n Diens soos male sonder tal: Die gerusstellende herhaling van die ou ritueel.

Die woorde ken reeds hul pad oor die priester se tong – die lewegewende woorde waarvoor hy so lief is: “Christ has died. Christ is risen. Christ will come again.”

Die priester maak, soos soveel ander kere, die draai in die liturgie waarna die oomblik kom dat die wyn tot bloed verklaar word. Maar dié keer word sy ritme gestuit deur drie, vier harde klapgeluide wat die gewyde stilte deurpriem. Eers dink die priester dis ’n gloeilamp wat iewers in die kerk bars.

Vir elke noodgeval: Die kerk . . . die gimnasium . . . en die teater

Jullian Müller skryf oor die veranderende rol wat die kerk in die samelewing speel.

In die vroeëre Europese samelewings het die heilige en daarom die kerk ’n sentrale plek ingeneem. Die kerk het beheer uitgeoefen deurdat:


Die kerk die onverklaarbare dinge in die wêreld moes verklaar of verduidelik. Dit is dan gewoonlik gedoen aan die hand van die magte van goed (God) en kwaad (Bose);


Die kerk die samelewing beheer het. Die kerk was die hoogste mag en op baie plekke het daar ’n teokrasie gefunksioneer. God is gesien as die hoogste beherende mag en die kerk het dié taak namens God uitgevoer; en


Die kerk die vertroostende gemeenskap vir mense voorsien het. In die kerk kon mense opgeneem word in ’n heilige gemeenskap en daarin kon hul versterking en bemoediging kry.


Intussen het dié funksies van die kerk grootliks verval of dit is oorgeneem deur ander instellings.

Mense wend hulle nie meer na die kerk vir die verklaring van dinge nie. Daarvoor is die wetenskap meer betroubaar.

Verder het die kerk ook nie meer ’n beherende funksie nie. Daarvoor is daar politieke instellings en ’n grondwet. En selfs die rol van die voorsiening van gemeenskap en nabyheid word in baie gevalle deur ander gemeenskapsinstellings oorgeneem.

Die kerk ly aan funksieverlies en die God wat met dié funksies van die kerk verbind is, is lankal dood verklaar. Dit is die modernistiese G(g)od wat van buite en van bo, meestal op ’n vreesaanjaende manier, deur die kerk verkondig is.

As die kerk se teenwoordigheid in die samelewing nie meer alleen om verklaring, beheer en die skep van gemeenskap gekonstitueer kan word nie, hoe kan hy dan nog ’n bydrae lewer en van diens wees in die gemeenskap?

Die kerk sal waarskynlik ’n minder prominente en veel meer fasiliterende rol moet speel. Die vraag is of die kerk in staat is en bereid is om so ’n paradigmaskuif te maak?

Kan die predikante ophou om verklarings vir al die misteries van die lewe te gee en eerder die vrae wat mense vra verwoord?

Kan die kerk ophou om met skemas van sonde en verlossing beheer oor individue se lewens te probeer uitoefen?

Kan die kerk ophou om die gemeenskap wat die kerk voorsien (eredienste, selgroepe, omgeegroepe, ensovoorts) as ’n voorwaarde vir Christenskap en kerklidmaatskap te sien?