2007-04-20

Sendelinge sterf wreed

Dit is ontnugterend om te dink dat hierdie moorde plaasgevind het in 'n streek wat as die bakermat van Christendom in die eerste eeue beskou kan word.

'N Sendeling van Pretoria het die moord op drie van sy kollegas in Turkye vandeesweek as 'n "koelbloedige aanslag op hul Christengeloof" beskryf.

Mnr. Martin de Lange en sy gesin is laat verlede jaar genoodsaak om dié land te verlaat nadat hulle verskeie doodsdreigemente van ekstremistiese Moslem-nasionaliste ontvang het.

"Die moord (eergister) het van my kollegas moderne tyd martelaars gemaak. 'n Mens kan nie dink dat só iets steeds gebeur nie.

"As ons nog daar was, was ons ook dalk dood. Die Here het duidelik ander planne vir ons gehad," het 'n emosionele De Lange gister vertel. Hy en sy vrou, Petro, sou gisteraand na Turkye vertrek om sy kollegas - twee Turke en 'n Duitser - se families te gaan bystaan.

Mnre. Necati Aydin, Ugur Yuksel en Tilmann Geske is eergistermiddag kort ná eenuur in hul kantore in Malatye, 'n dorp in die ooste van Turkye, aan hul stoele vasgebind. Hulle het Bybels en Christenleesstof van dáár af versprei.

'Christelike afdae se name moet verander'

Wat dink julle hiervan?

Die name van Christelike openbare vakansiedae behoort te verander om reg te laat geskied aan tradisionele Afrika-godsdienste wat ook dié dae as heilig beskou.

Dié versoek is gister aan die departement van binnelandse sake gerig tydens ’n sitting van die kommissie vir die regte van kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe (CRL).

2007-04-13

Hoe doop bedien word onbelangrik

'n Konferensie oor die doop is gister in Moreletapark gehou. Neel Jackson berig:

Venynige kerklike debatte oor hoe die doop bedien moet word, gaan oor ’n saak wat in die Bybel self glad nie as belangrik beskou word nie.

Dié standpunt is eergisteraand deur dr. Stephan Joubert, redakteur van die e-kerk, ingeneem tydens ’n seminaar oor die doop wat by die NG kerk Moreletapark in Pretoria gehou is.

Joubert het gesê twiste oor die doop is much ado about nothing.

Terwyl Bybelskrywers soos Paulus baie maak van die teologie van die doop, word daar niks geskryf oor hoe die doop bedien moet word nie.

Dit is volgens Joubert volledig ’n randsaak van die evangelie.

Die kern van die evangelie gaan volgens Paulus oor die soeke na vrede, geregtigheid en blydskap in die Heilige Gees.

Prof. Hennie Stander van die Universiteit van Pretoria het debatte oor die doop bestempel as ’n non-issue. In ’n land vol armoede en MIV/vigs is daar baie groter kwessies as die doop.

Stander het egter bygevoeg dat daar mense is wat baie seer gekry het in die kerklike hantering van die doop.

Hy het gepleit vir groter verdraagsaamheid in die NG Kerk en begrip vir mense wat ander sienings van die doop huldig as die kerk se amptelike standpunt.

Prof. Adrio König, sistematiese teoloog, het gesê daar is net een doop, maar dit kom in twee vorme: die doop van babatjies wat ná hul doop geleer word wat om te glo en die doop van volwassenes wat tot bekering kom.

Volgens hom is die NG Kerk se grootste krisis dat daar te min van die groot-doop tereg kom omdat die kerk nie mense van die straat af intrek nie.

Hy was vol lof vir vernuwingsgemeentes in die NG Kerk, maar het gesê sulke gemeentes sirkuleer net lidmate van ander gemeentes.

Hulle slaag nog nie daarin om mense van buite in die kerk in te trek nie.

Hy het ook gepleit dat die kerk ruimte maak vir verskillende sienings van die doop – ook vir ’n belydenisdoop waarmee iemand op sy doop as babatjie kan antwoord.

Hy het bygevoeg dat die NG Kerk en die Apostoliese Geloof­sending (AGS) – wat in die verlede skerp gebots het weens verskillende sienings van die doop – “môre moet verenig” en dan probleme met die doop agterna moet uitsorteer.

Hy het Joubert se siening ondersteun dat die hoe van die doop glad nie ’n sentrale kwessie van die geloof is nie.

2007-04-05

NG Kerk kom kwaai onder skoot in debat

Lyk my die NG Kerk is sterk onder bespreking op die KKNK.

OUDTSHOORN. – Die Nederduits Gereformeerde Kerk het gister in die spervuur beland tydens ’n woordestryd oor of geloof en rede versoenbaar is.
Dié denominasie is betrek deur ’n lid van die gehoor op die vroegdag-gespreksgeleentheid, die eerste in ’n reeks lesings wat weer vanjaar deur Die Burger aangebied word op die Absa KKNK.
Die kerk is daarna deur sowel dr. George Claassen, ombudsman van Die Burger, en dr. Allan Boesak, assessor van die algemene sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk, skerp gekritiseer.
Mnr. Nathan Bond, uitgewer van ’n weeklikse e-tydskrif oor die invloed van godsdiens, het ná ’n uur se praatwerk deur drie paneellede die vraag gevra: “Hoekom moet ek enige iets wat ’n Godgelowige sê, ernstig opneem?”
Hy het verwys na ’n verslag wat glo by die komende NG Kerk-sinode sal dien. Dít ondersoek glo die uitdryf van bose geeste.
Claassen het Bond se punt beaam en dit as “skrikwekkend” bestempel dat die kerk hom met “duiwels soek” bemoei.
Die laaste woord het behoort aan Boesak, wie se vrou, Elna, as gespreksleier opgetree het.
“Ek sien jongmense wat die geloof in Suid-Afrika afskryf omdat hulle slegte ervarings in die NG Kerk het,” het Boesak vanuit die gehoor gesê.
“As julle in die NG Kerk destyds opgestaan het en gesê het wat die waarheid is, het julle nie vandag met daardie probleem gesit nie,” het Boesak laat hoor, voor hy kortstondig deur ’n feesganger se tussenwerpsel in die rede geval is.
Gister se begin van Oop Gesprek het drie sprekers en sowat 50 mense rondom kerktyd by Die Burger se Tongelos-tent bymekaar gebring.
Die paneel het bestaan uit Claassen, dr. Gerrit Brand, boekeredakteur by Die Burger, en dr. Dirk Louw van die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir toegepaste etiek.
Brand het die bewoording van die gespreksonderwerp, “Geen God of God-geen?”, verken voordat hy gesê het: “Ek dink nie ons moet byvoorbeeld in God glo omdat die bestaan van God allerlei dinge verklaar wat nie deur die wetenskap verklaar kan word nie.
“Teen dié soort verstaan van geloof verset ek my – nie net omdat dit wetenskaplik hopeloos is nie, maar omdat dit die aard van geloof self verwring. . .” het Brand gesê.
Claassen het begin met die stelling: “Daar is geen enkele rede om vandag nog te glo of te moet glo nie.”
Hy het sy siening verduidelik deur grootliks op die skouers van reuse in die wetenskap te staan.
Hy het gesê die Amerikaanse paleontoloog Stephen Jay Gould se beginsel dat wetenskap en geloof die neus uit mekaar se sake moet hou toenemend verwerp word.
“Dit is . . . die plig van gelowiges om vir ons in ’n rasionele wêreld hul bewyse voor te lê vir die bestaan van die goed waarin hulle glo en waarvoor hulle aanhoudend beskerming vra teen kritiese vrae.”
Louw was ná Claassen aan die woord en het na homself verwys as “die spreker wat nie die antwoord gehad het nie en die vermetelheid gehad het om dit te erken”.
In repliek op ’n aanhaling wat in Claassen se rede opgeduik het, dat ’n tuin mooi genoeg is sonder feetjies, het Louw gesê feetjies maak ’n tuin wel mooier.
“En dit maak ’n verskil aan my dogter.”
Die aanhaling kom uit die idee-wêreld van die skrywer Douglas Adams en verwys na gelowiges se aanspraak dat die skoonheid van die natuur bewys is dat God bestaan.

Was Jesus the first socialist? : Mail & Guardian Online

'n Interessant artikel wat die politieke implikasie van Jesus se uitsprake ondersoek. (Kan egter nie saamstem met wat die skrywer oor Paulus sê nie ...)

Jesus was decidedly not the milksop of Victorian sentimentalists -- the Gospels are studded with his virulent attacks on bigwigs and fat cats (“You cannot serve God and money”), respectable hypocrites, self-righteous moral censors (“Judge not ...) and those who pride themselves on being “saved” (“I thank thee, O God, that I am not like the rest of men ... ”). Shocking the right-minded by mixing with prostitutes and other dregs of Palestinian society, he castigates the religious establishment, personified by the spiritual leaders of Judaism, the Pharisees.

Indeed, it is through Christ’s humanity that many modern Christians, repelled by the traditional theology, understand the crucifixion. Instead of a primitive blood sacrifice organised by a wrathful God to appease himself, it becomes an archetypal tragedy of persecuted innocence.

2007-04-03

Coenie Burger se antwoord op Laurie Gaum

Coenie Burger lewer repliek op Laurie Gaum se ope brief aan hom.

In By van 10 Maart het Laurie Gaum – ’n gay afgesette predikant van die NG Kerk – ’n brief aan Coenie Burger, moderator van die NGK, geskryf. Hierin sê Gaum hy en Burger het “mekaar êrens verloor” en vra hy Burger of hy nie “ ’n brugbouer tussen gays en straights” behoort te wees nie. Vandeesweek antwoord Burger op dié brief.

Liewe Laurie

Ek het nogal lank gewonder of ek in die openbaar moet reageer op jou brief. Ek doen dit tog omdat ek graag sekere gissings en misverstande wil probeer besweer.

Laat ek begin deur dankie te sê vir die algemene toon van jou brief. Briewe oor dié saak word dikwels met baie venyn en veroordeling geskryf. Ek hoor ’n ander toon in jou brief en ek waardeer dit.

Ek gaan nie probeer om op al die opmerkings en vrae in jou brief te antwoord nie. Ek het nog nooit die behoefte gevoel om oor dié moeilike saak van homoseksualiteit baie te sê nie. Ek voel meermale in gesprekke hieroor dom en sonder klaar antwoorde.



DAAR is eintlik net een aspek wat ek wil verduidelik. Dit was regtig nie my bedoeling om my posisie te misbruik en die sinode se gesprek oor die reg of verkeerd van gay-huwelike en –verhoudings in ’n bepaalde rigting te probeer beïnvloed nie. Ek het my persoonlike mening gegee omdat ek gevra is daarna en omdat ek begin agterkom het mense maak aannames daaroor. Dit was vir my ook ’n kwessie van eerlikheid.

...

2007-04-02

Christene moet kophou - Jesus het opgestaan!

Coenie Burger se artikel in Beeld se Godsdiens-Aktueel rubriek

Teen dié tyd het meeste mense in ons land al agtergekom dat die eerste oorgangsfase van ons nuwe demokrasie verby is en dat ons in ’n tweede, taaier fase inbeweeg het.
In die eerste fase was ons buitengewoon vriendelik, gaaf en geduldig met mekaar. Ons moes iets nuuts saam begin en was nie seker of dit gaan werk nie. Ons het diep asem geskep, ons vrese weggesluk en gehoop vir die beste.
Ná 12 jaar voel baie mense in die land dat “die beste” toe nie gerealiseer het nie. In elk geval nie soos hulle gehoop het nie.
En nou is ons ontevrede. Meer as ontevrede. Ons soek ons deel en ons soek dit nou.
Dat die frustrasie hoog loop, sien ’n mens