2007-02-22

Godsdiens-aktueel: Laat etiese vrae jou gedrag lei

Elsje Büchner vra dat ons ander vrae vra.

Die soort vrae wat ’n mens vra, bepaal jou gedrag. Die mees algemene vraag wat ons gedrag dikteer, is die “wat-kry-ek-daaruit?”-vraag. Ons samelewing se denke is só deur dié vraag gekondisioneer dat dit die meeste van die alledaagse besluite wat ons neem, beïnvloed.

Wanneer mense ’n werk kies, is die “wat-kry-ek-daaruit?”-vraag ’n belangriker oorweging as die “watter-invloed-gaan-dit-op-my-gesin-hê”- of “hoeveel-uur-gaan-ek-meer-moet-werk”-vraag. As ek iets meer daaruit kan kry, smoor dit alle ander vrae sommer net daar in die kiem. Vrae soos “watter-verskil-kan-ek-maak” of “wat-kan-ek-vir-iemand-anders-beteken” kom al hoe minder op die radarskerm voor.

'Soek na dieper eenheid'

Neels Jackson se onderhoud met Coenie Burger.

’n Paar maande voor die al gemene sinode van die NG Kerk is dr. Coenie Burger ’n bekommerde man.

En dis die landsituasie waarin die kerk moet funksioneer eerder as kwessies soos die debat oor homoseksualiteit of teologiese spanning wat sy gedagtes baie besig hou.

“Ek dink ons is in ’n nuwe situasie en baie mense verstaan dit nie. Die politieke en sosiale middelgrond van welwillendheid is besig om te verkrummel.”

Aan die flanke van die politieke spektrum klink stemme al hoe harder op, sê Burger. Hy meen die politiek gaan harder word en Suid-Afrika gaan baie wysheid nodig hê om tussen al die eise en verwagtinge deur te stuur.

Hy verwys na die groepe soos die Kommunistiese Party en Cosatu aan die linkervleuel van die politiek.

Oor die regtervleuel, waar sommige NG lidmate sou kon lê, praat hy versigtig.

Hy noem die Boeremag, maar sê hy hoor net tweedehands van militante regse stemme.

Wat hy wel hoor, is dat mense voel hulle is gemarginaliseer, onseker oor die toekoms. Hulle voel onveilig.

Mense is gefrustreerd en kwaad.

Hy meen die gemoedstoestand op voetsoolvlak moenie onderskat word nie.

Een van die kwessies waaroor Burger in sy eie woorde baie bekommerd is, is misdaad en geweld – iets waaroor hy die afgelope maande baie met ander kerkleiers, sakelui en die regering gepraat het.

“Ek kan regtig nie verstaan dat ’n regering wat in die meeste sake nié onverstandig is nie, nie kan sien dat hy die geweld-en-misdaadsituasie onverstandig hanteer nie. Dit is baie, baie jammer en ons sal van alle kante af druk op hulle moet sit om dié saak met veel groter erns en toewyding te benader.

“Die situasie is besig om mense negatief en moedeloos oor die land en sy toekoms te maak en ons kan dit regtig nie bekostig nie.”

Burger is ook bekommerd oor die boere, van wie talle lidmate van die NG Kerk is. Grondhervorming en die uitwerking daarvan op die boere, die landbou en die platteland word gereeld by die algemene sinodale kommissie bespreek.

“Die boere is besig om ’n baie slegte deal te kry,” sê Burger.

Hy verwonder hom aan die oorgrote meerderheid boere se welwillendheid en konstruktiewe ingesteldheid, “maar hulle moet nou ’n swaar prys betaal – en dis nie reg nie.”

2007-02-13

Dis dalk tyd vir heilige chaos

Stephan Joubert se artikel in Maandag se Godsdiens-aktueel rubriek in Beeld is 'n moet-lees!

Dis so jammer dat die kerk plek-plek “doodveilig” geword het. Sommiges wil die kerk in ’n veilige hawe omskep ver buite die bereik van alle storms. Die kerk durf egter nie so veilig en windstil wees terwyl ons samelewing in die greep van wie weet hoeveel krisisse wurg nie. Geloof is juis Godgegewe geleenthede om nog verder agter Jesus aan te stap, al is dit stormwaarts.

Van Jesus gepraat, sy werkterrein was midde-in ’n siek politiese en godsdienstige bestel waar armes, sondaars en randfigure geen stem gehad het nie. Juis daar het Hy gedurig “heilige chaos” veroorsaak deur op verrassende manier nuwe lewe te ontsluit wat sondaars, uitgeworpenes, armes, rykes, vroue, mans, Jode en nie-Jode se menswaardigheid voor God en mekaar herstel het.

Labels:

2007-02-05

Nie-bestaan van God nié bewys

Amie van Wyk bespreek die vraag of God se bestaan bewys kan word of nie na aanleiding van Richard Dawkins se boek, "The God Delusion."

Die nuwe boek The God delusion van die Oxfordse natuurwetenskaplike Richard Dawkins – te onderskei van Stephen Hawking van Cambridge – het die debat oor God opnuut laat opvlam.

Dawkins voer aan dat die bestaan van ’n persoonlike God wetenskaplik nie bewysbaar is nie, dat dit op bygeloof berus en dat die geloof in so ’n God vir die mens en samelewing gevaarlik en ondermynend is.

Nou is dit so dat die vraag na die bestaan van God seker die belangrikste vraag is wat ooit gestel kan word. Dis ook die moeilikste vraag. Is God daar? Wáár? Wié is Hy? Hoé is Hy?

Terwyl die voormoderne mens min moeite met hierdie vrae het, het hulle vir die moderne mens, met sy maatstaf van wetenskaplikheid en bewysbaarheid, ’n enorme probleem geword.

Ek herinner my ’n televisiegesprek met die Briste filosoof Bertrand Russell wat moes antwoord op die vraag: “Wat sou jy vir God sê indien Hy jou ná jou dood sou vra waarom jy nie geglo het nie?”

En sy antwoord: “Nie genoeg bewyse nie.”

Labels:

2007-02-02

NG Kerk bid vir ’n vinnige oplossing

Die NG Kerk se moderamen oor me. Lulu Xingwana se Kersboodskap

Die NG Kerk se moderamen het gister in ’n verklaring sy teleurstelling uitgespreek oor die “veralgemenings ten koste van toegewyde boere” deur me. Lulu Xingwana, minister van landbou, in haar Kersboodskap.
Xingwana het in ’n advertensie wat oor die radio uitgesaai is, gesê dat uitsettings van werkers uit hul huise algemeen voorkom in dié tyd van die jaar. Dit het gelei tot heftige reaksie uit die landbougemeenskap en uitgeloop daarop dat kommunikasie tussen die minister en landbou-organisasies in duie gestort het.
Die moderamen sê Xingwana bevorder daardeur nie vrede en versoening nie. Die kerk bid vir ’n spoedige oplossing in die breuk van die noodsaaklike dialoog tussen die minister en landbouorganisasies.
Lede van die moderamen was in die bespreking baie besorg oor die toekoms van die landbougemeenskap. Dit is veral die effek van grondhervorming op die landbougemeenskap wat baie kommer in die kerk wek. ’n Taakspan van die moderamen is besig om in oorleg met verteenwoordigers van die landbougemeenskap aandag te gee aan verskeie aspekte van grondhervorming. Dié saak sal ’n belangrike fokuspunt op die algemene sinode wees. – Neels Jackson