2007-07-09

By: Religie, musiek en 07/07/07 span

Johann Rossouw bied 'n perspektief op die Rock teen geloof konsert.

“NOU soek ons vryheid ván geloof,” sê Anton Alberts, tromspeler van die heavy metal-groep Architects of Aggression. “Geloof is al sedert die begin van die mensdom deel van ons lewens. Dit is ook verantwoordelik vir van die bloedigste gevegte in die geskiedenis.

“Of dit nou in die naam van Ramses, Yaweh, Aries, Allah of Christus is, bly die menseregteskendings en al die dade onvergeeflik en onvergeetlik,” sê Alberts.

Bogenoemde kom uit ’n berig wat op 24 Mei 2007 in Beeld verskyn het na aanleiding van ’n konsert “teen geloof” wat volgens die berig vanaand in Hazelwood, Pretoria plaasvind.

In die dae ná die berig het daar nogal ’n heftige debat in Beeld se brieweblad oor die saak gewoed. Volgens ’n berig die afgelope Woensdag in Tshwane-Beeld waarin verwys word na mense se beheptheid met die syfer sewe, gaan die konsert wel voort.

Alberts se uitsprake en dié anti-religieuse houding wat vandag nogal wyd voorkom, verdien kommentaar.


IN die eerste plek kan daar min twyfel wees dat religie dikwels ingespan was en word om geweldpleging te regverdig, soos ook George W. Bush en Osama bin Laden ons herinner. Maar wil dit sê dat religie as sodanig mense tot geweldpleging beweeg of laat neig? Alles behalwe.

Kom ons neem as voorbeeld die berugte geval van die Inkwisisie en hekseverbranding in die Middeleeue in Europa. Kritici van religie is dikwels gou om dié voorbeeld by te sleep, maar die fout wat gemaak word, is om nie kennis te neem van die konteks waarin hierdie religieuse geweldpleging plaasgevind het nie.

Dit was naamlik ’n tyd van groot maatskaplike, ekonomiese en politieke ontwrigting wat gevolg het op die pes in Europa, en later vererger is deur die oorgang vanaf die Middeleeuse prinsdomme en koninkryke na die vroeë nasiestate. In so ’n konteks kan ook die religie, soos enige ander simboliese stelsel, verswak en misbruik word.

Die fout wat die kritici van religie maak, is om religie as ’n aparte gegewe te sien –­ so asof die politiek, die ekonomie, die kultuur en ander faktore nie ook ’n invloed op die stand van die religie in ’n gegewe samelewing of gemeenskap het nie.

In ons tyd is die grootste enkele oorsaak van geweldpleging die vernietiging van gemeenskappe se waardestelsels deur alles onder die diktate van die ekonomie te plaas –­ en nogmaals word die religie ook misbruik om geweldpleging te regverdig.

Hierdie proses rig ook groot skade aan die Afrikaanse wêreld aan. Daarom is dit ook so dat talle kerke ongelukkig verval in die uiterstes van óf sedeprekery of gevoelsbeswymings, óf altwee ­– wat gelukkig nie alle Afrikaanse kerke of geloofsgroepe geld nie.


IN die tweede plek, wanneer Alberts hom op menseregte (en die liberale orde) beroep, doen hy dit op so ’n wyse dat religie as ’n verbygaande ontwikkelingsfase van die mens gesien word.

Dié argument is vir die eerste keer in die 19de eeu in Europa ontwikkel, met die aanname dat die oënskynlike afgang van religieuse betrokkenheid in Europa die toon vir die res van die wêreld sou aangee.

Intussen het die 20ste eeu gekom, met groter geweldpleging as ooit, teen die agtergrond van die kerk as verswakte instelling en die nasiestaat op sy sterkste ­– alles behalwe ’n goeie teken vir diegene wat die religie as deel van kulturele onvolwassenheid gesien het.

In die res van die wêreld het religieë egter teen ’n groter tempo as ooit gegroei.

Die verdere probleem met Alberts se beroep op menseregte en die liberale orde wat dit ondersteun, is die aanname dat die liberale orde nie ook sy eie “teologie” het nie.

Hiervolgens sal die mark ons van alle ellendes verlos, veral in die vorm van die tegnologie. Die geestelike klas van weleer is verruil vir ’n klas van kundiges en bestuurders van elke soort –­ met allerlei “spiritualiteite” en geestelike kwaksalwery vandag aan die orde.

Dit laat ’n mens twee keer dink oor die “donker” Middeleeue toe die religie ’n veel meer rasionele samelewing as vandag gewaarborg het.

Dat Alberts hom self netjies op ’n religieuse struktuur beroep, spreek uit die feit dat hy nie skroom om gewoon sy geloofsbelydenis met taamlike selfversekerdheid te verkondig nie –­ dis die jeug se prerogatief om die wêreld so woedend te bestorm, maar dis nog ver van ’n deurdagte standpunt.


IN die derde plek is dit, wanneer die gesprek oor religie gaan, altyd sinvol om die Latynse grondwoorde van die woord te onthou: onderskeidelik religare en religere. Die eerste beteken om te versamel of byeen te bring, die tweede om te verbind.

So min of meer wat rock in die besonder en goeie musiek in die algemeen ook in sy beste oomblikke doen, juis en veral wanneer dit ons met die “meer as ons” in verbinding bring.

Die woord religie is dus nog veel omvattender as die woord godsdiens. Maar selfs die woord religie kan nog kwalik begin om te beskryf waaroor dit gaan wanneer ons met volle oorgawe ons oopstel vir dit wat nooit gesê kan word nie, en wat ons op onverstaanbare wyse inspireer tot die goeie.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home