’n Man met vaste ankers
Neels Jackson het met die nuwe moderator van die NG Kerk gesels, Prof Piet Strauss.
‘Piet Strauss,” het dr. Coenie Burger gesê toe hy sy opvolger as moderator van die NG Kerk se algemene sinode aangekondig het, “is iemand met wie jy weet waar jy staan.”
Dít is ’n siening wat wyd in die kerk beaam sal word. As gereformeerde kerkman, as dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg, as Afrikaner wie se Vrystaatse bloed dik loop, as mens, loop prof. Piet Strauss ’n reguit pad.
En dis nie vreemd nie. Strauss is immers ook die hoofleier van die Voortrekkers wat glo ’n Voortrekker se woord is sy eer.
Maar miskien is dié siening van die 55-jarige Vrystater ook deels die rede waarom mense maklik etikette soos “konserwatief” om hom hang. Hulle dink hulle weet presies wat om van hom te verwag en is dan verras as hulle Strauss beter leer ken.
Soos die doemprofete wat gemeen het die “konserwatiewe” Strauss en die meer “verligte” Burger sou sukkel om in die vorige moderatuur saam te werk en hulle toe ’n goeie span gevorm het.
Strauss is filosofies oor hoe mense hom sien. In sy kenmerkende helder stem merk hy op dat ’n mens sulke etikette op die lyf loop as jy sê verandering moet veranker wees.
“Verankerde verandering” is vir Strauss ’n lewensfilosofie.
Hy verduidelik dat daar konstantes of ankerpunte is wat vas bly. Daaraan kan jy egter op verskillende maniere inhoud gee.
Die voorbeeld waarmee hy dit illustreer, is die respek vir sy pa. Dit was ’n konstante deur sy lewe, maar hoe hy daaraan uiting gee, het oor die jare verander – soveel so dat hy later op ’n manier ’n vader vir sy bejaarde pa moes wees. Maar steeds met dieselfde respek as vroeër.
As Strauss homself beskryf, gebruik hy die woorde “behoudend” en “eietyds”.
In die balans en spanning tussen dié twee, voel hy hom tuis. ’n Mens sien dit ook in Strauss se benadering tot kerklike kwessies.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home