2007-06-18

Geskape na God se beeld

Midde-in die debat oor kerk, geloof en homoseksualiteit, staan ds. Laurie Gaum, afgesette en in sy amp herstelde gay predikant van die NG Kerk. Neels Jackson het met hom gesels.

In die predikantshuis waarin hy grootgeword het, sê ds. Laurie Gaum, was godsdiens ingebou.

Hy praat stadig, afgemete, iemand wat sy woorde weeg en goed kies. Dit gaan immers oor die diepste goed in sy lewe.

Van kleins af was hy bewus van God, het hy die trekkrag van God gevoel. Hy wou reageer daarop, maar het baie getwyfel oor wat dit beteken om te glo.

Vroeg al het hy gedink dit oortuig hom nie heeltemal om net die hel te probeer vryspring nie.

Op skool het hy herhaalde bekerings gehad en altyd gewonder wanneer dit genoeg is. Die CSV, sê hy, het hoog opgegee oor bekering, maar nie die geloofspad wat daarop volg, genoeg uitgestippel nie.

Van hoërskool af het hy ernstige worstelinge met God gehad. Hy het so ernstig nagedink oor die godsdiens dat hy by tye gewens het hy kon die dink net stopsit.

Geloof was ’n worsteling, maar in sy hoopvolle oomblikke het hy besef dis met God wat hy worstel. Dít is ’n vorm van geloof, al is dit twyfel.

Toe hy laat in matriek besluit het om in die teologie te gaan studeer, was dit ’n keuse tussen sy kreatiewe sy en iets soos argitektuur aan die een kant, en ’n keuse om besig te wees met die belangrikste dinge van die lewe aan die ander kant.

Toe het hy al geweet dat dit hom in konflik gaan bring met wie hy is.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home