2007-06-11

Gay-debat wys kerk se karakter

Coenie Burger kry geleentheid om sy mening te gee oor die pas afgelope Algemene Sinode. Hy vertolk die gevoel van die oorgroter meerderheid van sinodegangers.

’N Mens het die Here lief oor wie Hy is; die kerk het jy meesal lief ten spyte van wat sy is.

Só het ’n professor van ons dikwels gesê. Iets van die stelling is sekerlik waar.

Die kerk bestaan uit mense.

Mense wat probeer glo, ja, maar wat steeds maar mense bly.

Daarom maak die kerk foute, stry ons soms met mekaar, maak ons soms mense seer en doen ons nie altyd wat die Here van ons verwag nie.

Dit is sekerlik ook waar van die NG Kerk.

En ons is vanweë ons geskiedenis in die geseënde posisie dat almal dit weet! En dat vele mense daaroor skryf en gal braak in die pers. Soms om redes wat ek kan verstaan, soms om redes wat my oor hulle laat wonder.

En tog is ek – en baie ander – steeds lief vir dié kerk.

Hoe is dit moontlik, het mense al vir my gevra.

Ek dink ons sien dinge in die kerk wat ander mense nie sien nie. Moenie dink ons weet nie van die foute nie. Ons sien dit helder en die meeste van ons sal nie probeer om dit goed te praat nie.

Maar ons weet dat daar meer is aan dié kerk as net sy foute.

Ek wil drie redes noem hoekom ek lief is vir die kerk en met sy foute kan uithou.

Die belangrikste rede het my professor ons destyds geleer. Jy het die kerk lief oor die Here die kerk liefhet! Die kerk is Christus se liggaam, sy bruid. Al lyk sy soms sleg, bly Hy, soos ’n goeie Bruidegom, getrou aan haar en lief vir haar.

As jy dit moeilik verstaan, lees Hosea se storie in die Bybel.

Daar is ’n tweede rede. Met al haar foute was die NG Kerk my geestelike ma. Sy het my leer glo, sy het my van ons Vader vertel en my aan Christus voorgestel. Sy het my by die Here uitgebring.

Daarvoor sal ek haar ewig dankbaar bly.

Die derde rede is dat hierdie kerk wonderlike kante het wat mense buite nie altyd raaksien nie. Een daarvan is dat dié kerk dikwels moed kon vind om ekskuus te sê vir haar foute. In ’n wêreld waar almal van ons foute maak, maar min van ons kans sien om dit te erken, is dit ’n teken van karakter.

Ek het verlede week by die sinode weer verstaan hoekom ek lief is vir dié kerk. Ek wens meer mense kon die debat oor homoseksualiteit hoor. Ons het vier uur lank gepraat. Veertig mense, Christene met uiteenlopende standpunte, het deelgeneem.

Belangriker dalk as die besluit wat geneem is, is die manier waarop die gesprek gevoer is. In die lang debat het drie waardes helder deurgekom.

Daar is in dié kerk baie deernis vir mense. Heelwat sinodegangers en besoekers het vir my gesê dat hierdie aspek vir hulle uitgestaan het. Selfs mense met voorbehoude oor homoseksuele gedrag het moeite gedoen om die vergadering te verseker dat hulle nie mense wil uitsluit of sonder gevoel vir mense se pyn is nie. Ek kon in die intense stilte waarmee mense geluister het, die deernis aanvoel wanneer daar oor mense en hulle nood gepraat is.

Dit was ook duidelik dat gehoorsaamheid aan die Here en sy Woord vir dié kerk belangrik is.

Ons sukkel daarmee en verskil soms oor hoe ons die Bybel moet verstaan, maar ek het nie een woord gehoor wat my kon laat dink dat ’n regte verstaan van die Bybel nie ontsettend belangrik is vir elke spreker nie.

’n Derde waarde wat duidelik was, was dat hierdie mense mekaar wil vashou te midde van hulle verskille. Daarom dat die mosie wat middegrond probeer vind het, met ’n groot meerderheid aanvaar is. Ek is die Here diep dankbaar vir hierdie groter openheid en liefde vir ander Christene wat ek helder kon sien.

Vir ’n kerk wat deernis het met mense, wat moeite doen om die wil van die Here te soek en wat mekaar wil vashou ten spyte van verskille, het ek baie moed.

Ons grootste uitdaging gaan wees om hierdie liefde vir mekaar in sy volle Bybelse wydte te verstaan en ook ons arms om ons swart en bruin familie te sit en regtig deel te word van die kerk van Christus in Afrika.

Dit – dalk nog meer as die gay-vraag – gaan die diepte en egtheid van ons geloof in Christus en die krag van sy versoeningswerk toets.

Kan ek huiwerendes, ongelukkiges en klaendes nooi: Kom help ons hiermee. Dalk vind jyself ook hulp op dié manier!

0 Comments:

Post a Comment

<< Home