Wat is 'n Christen se identiteit?
Prof Amie van Wyk se rubriek in die Beeld Maandag.
En ek is ook ’n Christen, lid van die kerk van Christus en burger van die koninkryk van God – so hoop ek. En nou is die groot vraag: Watter effek het my Christelike identiteit op my ander identiteite? Bedreig my Christenskap my ander identiteite, dryf dit soos olie op die water of beïnvloed dit die ander identiteite? Indien wel, in watter mate?
Oor hierdie vraag het teoloë groot boeke geskryf, boeke wat handel oor die verhouding tussen Christus en kultuur, kerk en volk, natuur en genade.
Ek maak hieroor slegs enkele opmerkings en ek sluit aan by die haas onoortreflike beeld wat Christus van ’n Christen en die kerk gebruik het: julle is die sout vir die aarde.
Sout blokkeer – die kwaad. Dit keer dat kos versleg. My Christenskap keer dat my Afrikanerskap uitgroei tot ’n allesverterende identiteit; dit hou dinge in balans. Elke keer wanneer Christene meer waarde aan volkskap as aan Christenskap heg – en daar is min kerke waarvan ek weet wat aan hierdie gevaar ontkom – dan ontspoor die kerk.
Sout penetreer. Dit sluip in tot elke skuilhoekie van my menslike bestaan en my menslike identiteite. En dit konserveer: terwyl dit die kwaad uithou, behou dit wat goed is in my identiteite.
My Christenskap vernietig nie my kultuur nie, maar dit dóén iets daaraan, dit transformeer my kultuur en al my ander identiteite in die rigting van die koms van die koninkryk van God. My Christenskap korrigeer, kontroleer, relativeer en transformeer al my ander identiteite.
My Christenskap word – so gesien – my allesoorheersende identiteit, daardie identiteit wat aan al die ander ’n nuwe koers gee. In die lig van die groot waarde van Christus verloor alle ander waardes hul absolute betekenis (Fil. 3:7-11). As ons die koninkryk van God éérste stel en éérste soek, sal die ander dinge, ook ons ander identiteite, vanself volg (Matt. 6:33).
Die koninkryk van God bestaan uit vrede, vreugde, vryheid en geregtigheid, wat die Gees van God aan mense gee (Rom. 14:17). As hiérdie kenmerke in enige van my ander identiteite ontbreek, hou ek vergeefs daaraan vas.
Was dit Augustinus wat gesê het: Elke vaderland is vir my (as Christen) ’n vreemde land en elke vreemde land is vir my ’n vaderland?


0 Comments:
Post a Comment
<< Home