Vir elke noodgeval: Die kerk . . . die gimnasium . . . en die teater
Jullian Müller skryf oor die veranderende rol wat die kerk in die samelewing speel.
In die vroeëre Europese samelewings het die heilige en daarom die kerk ’n sentrale plek ingeneem. Die kerk het beheer uitgeoefen deurdat:
Die kerk die onverklaarbare dinge in die wêreld moes verklaar of verduidelik. Dit is dan gewoonlik gedoen aan die hand van die magte van goed (God) en kwaad (Bose);
Die kerk die samelewing beheer het. Die kerk was die hoogste mag en op baie plekke het daar ’n teokrasie gefunksioneer. God is gesien as die hoogste beherende mag en die kerk het dié taak namens God uitgevoer; en
Die kerk die vertroostende gemeenskap vir mense voorsien het. In die kerk kon mense opgeneem word in ’n heilige gemeenskap en daarin kon hul versterking en bemoediging kry.
Intussen het dié funksies van die kerk grootliks verval of dit is oorgeneem deur ander instellings.
Mense wend hulle nie meer na die kerk vir die verklaring van dinge nie. Daarvoor is die wetenskap meer betroubaar.
Verder het die kerk ook nie meer ’n beherende funksie nie. Daarvoor is daar politieke instellings en ’n grondwet. En selfs die rol van die voorsiening van gemeenskap en nabyheid word in baie gevalle deur ander gemeenskapsinstellings oorgeneem.
Die kerk ly aan funksieverlies en die God wat met dié funksies van die kerk verbind is, is lankal dood verklaar. Dit is die modernistiese G(g)od wat van buite en van bo, meestal op ’n vreesaanjaende manier, deur die kerk verkondig is.
As die kerk se teenwoordigheid in die samelewing nie meer alleen om verklaring, beheer en die skep van gemeenskap gekonstitueer kan word nie, hoe kan hy dan nog ’n bydrae lewer en van diens wees in die gemeenskap?
Die kerk sal waarskynlik ’n minder prominente en veel meer fasiliterende rol moet speel. Die vraag is of die kerk in staat is en bereid is om so ’n paradigmaskuif te maak?
Kan die predikante ophou om verklarings vir al die misteries van die lewe te gee en eerder die vrae wat mense vra verwoord?
Kan die kerk ophou om met skemas van sonde en verlossing beheer oor individue se lewens te probeer uitoefen?
Kan die kerk ophou om die gemeenskap wat die kerk voorsien (eredienste, selgroepe, omgeegroepe, ensovoorts) as ’n voorwaarde vir Christenskap en kerklidmaatskap te sien?


0 Comments:
Post a Comment
<< Home