2007-05-14

Spaneenheid

André van Niekerk se rubriek in die Beeld.

As jou soort aanbidding van God vir jou goed werk en jy ’n geseënde lewe het, sal jy dit graag met ander deel. Trouens om dit nie te doen nie, kan vir jou dalk na liefdeloosheid voel.

Ongelukkig werk een model om God te ervaar nie by ons almal nie. Daarvoor het die Here ons net te verskillend gemaak. Dink maar net aan Meyers-Briggs se bekende indeling van persoonlikheidstipes:


Ekstroverte kry energie uit hul saamwees met ander mense. Dit is dus te verstane dat hulle veel makliker oor hul geloof sal praat en in die openbaar sal bid as introverte.


Persone wat inligting graag met hul sintuie versamel en verwerk (sensors) stel die letterlike betekenis van die Bybelverse voorop.

Intuïtief-geleide persone begryp die Bybelse beeldspraak oor God en verstaan dit op hedendaagse wyses.


Op ’n uitdaging sal persoonlikhede wat meer met hul koppe besluite neem (sogenaamde denkers) vanuit feitelike sekerhede wil optree. Diegene wat graag hartsbesluite neem (sogenaamde voelers), maak egter gemaklik op moontlikhede en selfs wonderwerke staat.


Sommige persoonlikheidstipes verkies dat alles goed georden is. Daarom wil hulle eredienste en geloofsverstaan in fyn uitgewerkte strukture verpak hê. Ander meen dat tradisies en ordes hulle juis inhibeer en die Heilige Gees se vrye werking verhoed.

Om vanmiddag te wen, moet die Bulls en Sharks met ’n plan speel wat by hulle pas.

Daarby moet elke speler homself wees en sy eie besondere rol vervul.

As ons as kerk meer soos ’n wenspan wil wees, moet ons die verskeidenheid onder ons as verryking eerbiedig. Jy mag jou soort Godsbelewing met ander deel, maar ander nie daarmee boelie nie. Die verskeidenheid in die span is juis die geheim van sy sterkte.

– Deur André van Niekerk

0 Comments:

Post a Comment

<< Home