2007-04-05

NG Kerk kom kwaai onder skoot in debat

Lyk my die NG Kerk is sterk onder bespreking op die KKNK.

OUDTSHOORN. – Die Nederduits Gereformeerde Kerk het gister in die spervuur beland tydens ’n woordestryd oor of geloof en rede versoenbaar is.
Dié denominasie is betrek deur ’n lid van die gehoor op die vroegdag-gespreksgeleentheid, die eerste in ’n reeks lesings wat weer vanjaar deur Die Burger aangebied word op die Absa KKNK.
Die kerk is daarna deur sowel dr. George Claassen, ombudsman van Die Burger, en dr. Allan Boesak, assessor van die algemene sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk, skerp gekritiseer.
Mnr. Nathan Bond, uitgewer van ’n weeklikse e-tydskrif oor die invloed van godsdiens, het ná ’n uur se praatwerk deur drie paneellede die vraag gevra: “Hoekom moet ek enige iets wat ’n Godgelowige sê, ernstig opneem?”
Hy het verwys na ’n verslag wat glo by die komende NG Kerk-sinode sal dien. Dít ondersoek glo die uitdryf van bose geeste.
Claassen het Bond se punt beaam en dit as “skrikwekkend” bestempel dat die kerk hom met “duiwels soek” bemoei.
Die laaste woord het behoort aan Boesak, wie se vrou, Elna, as gespreksleier opgetree het.
“Ek sien jongmense wat die geloof in Suid-Afrika afskryf omdat hulle slegte ervarings in die NG Kerk het,” het Boesak vanuit die gehoor gesê.
“As julle in die NG Kerk destyds opgestaan het en gesê het wat die waarheid is, het julle nie vandag met daardie probleem gesit nie,” het Boesak laat hoor, voor hy kortstondig deur ’n feesganger se tussenwerpsel in die rede geval is.
Gister se begin van Oop Gesprek het drie sprekers en sowat 50 mense rondom kerktyd by Die Burger se Tongelos-tent bymekaar gebring.
Die paneel het bestaan uit Claassen, dr. Gerrit Brand, boekeredakteur by Die Burger, en dr. Dirk Louw van die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir toegepaste etiek.
Brand het die bewoording van die gespreksonderwerp, “Geen God of God-geen?”, verken voordat hy gesê het: “Ek dink nie ons moet byvoorbeeld in God glo omdat die bestaan van God allerlei dinge verklaar wat nie deur die wetenskap verklaar kan word nie.
“Teen dié soort verstaan van geloof verset ek my – nie net omdat dit wetenskaplik hopeloos is nie, maar omdat dit die aard van geloof self verwring. . .” het Brand gesê.
Claassen het begin met die stelling: “Daar is geen enkele rede om vandag nog te glo of te moet glo nie.”
Hy het sy siening verduidelik deur grootliks op die skouers van reuse in die wetenskap te staan.
Hy het gesê die Amerikaanse paleontoloog Stephen Jay Gould se beginsel dat wetenskap en geloof die neus uit mekaar se sake moet hou toenemend verwerp word.
“Dit is . . . die plig van gelowiges om vir ons in ’n rasionele wêreld hul bewyse voor te lê vir die bestaan van die goed waarin hulle glo en waarvoor hulle aanhoudend beskerming vra teen kritiese vrae.”
Louw was ná Claassen aan die woord en het na homself verwys as “die spreker wat nie die antwoord gehad het nie en die vermetelheid gehad het om dit te erken”.
In repliek op ’n aanhaling wat in Claassen se rede opgeduik het, dat ’n tuin mooi genoeg is sonder feetjies, het Louw gesê feetjies maak ’n tuin wel mooier.
“En dit maak ’n verskil aan my dogter.”
Die aanhaling kom uit die idee-wêreld van die skrywer Douglas Adams en verwys na gelowiges se aanspraak dat die skoonheid van die natuur bewys is dat God bestaan.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home