2007-04-13

Hoe doop bedien word onbelangrik

'n Konferensie oor die doop is gister in Moreletapark gehou. Neel Jackson berig:

Venynige kerklike debatte oor hoe die doop bedien moet word, gaan oor ’n saak wat in die Bybel self glad nie as belangrik beskou word nie.

Dié standpunt is eergisteraand deur dr. Stephan Joubert, redakteur van die e-kerk, ingeneem tydens ’n seminaar oor die doop wat by die NG kerk Moreletapark in Pretoria gehou is.

Joubert het gesê twiste oor die doop is much ado about nothing.

Terwyl Bybelskrywers soos Paulus baie maak van die teologie van die doop, word daar niks geskryf oor hoe die doop bedien moet word nie.

Dit is volgens Joubert volledig ’n randsaak van die evangelie.

Die kern van die evangelie gaan volgens Paulus oor die soeke na vrede, geregtigheid en blydskap in die Heilige Gees.

Prof. Hennie Stander van die Universiteit van Pretoria het debatte oor die doop bestempel as ’n non-issue. In ’n land vol armoede en MIV/vigs is daar baie groter kwessies as die doop.

Stander het egter bygevoeg dat daar mense is wat baie seer gekry het in die kerklike hantering van die doop.

Hy het gepleit vir groter verdraagsaamheid in die NG Kerk en begrip vir mense wat ander sienings van die doop huldig as die kerk se amptelike standpunt.

Prof. Adrio König, sistematiese teoloog, het gesê daar is net een doop, maar dit kom in twee vorme: die doop van babatjies wat ná hul doop geleer word wat om te glo en die doop van volwassenes wat tot bekering kom.

Volgens hom is die NG Kerk se grootste krisis dat daar te min van die groot-doop tereg kom omdat die kerk nie mense van die straat af intrek nie.

Hy was vol lof vir vernuwingsgemeentes in die NG Kerk, maar het gesê sulke gemeentes sirkuleer net lidmate van ander gemeentes.

Hulle slaag nog nie daarin om mense van buite in die kerk in te trek nie.

Hy het ook gepleit dat die kerk ruimte maak vir verskillende sienings van die doop – ook vir ’n belydenisdoop waarmee iemand op sy doop as babatjie kan antwoord.

Hy het bygevoeg dat die NG Kerk en die Apostoliese Geloof­sending (AGS) – wat in die verlede skerp gebots het weens verskillende sienings van die doop – “môre moet verenig” en dan probleme met die doop agterna moet uitsorteer.

Hy het Joubert se siening ondersteun dat die hoe van die doop glad nie ’n sentrale kwessie van die geloof is nie.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home