Watter soor leiers het die kerk nodig vandag?
Christina Landman sê watter soort leiers ons nodig het in die kerk ...
Die volk het nuwe leiers. En wie is dit? Die popsangers. En daar is ’n nuwe volkslied ook. Vers 1 gaan oor ’n man wat soos ’n bul wil rugby speel, vers 2 oor nog een wat soos ’n leeu wil paar en vers 3 oor ’n generaal wat nog nie gehoor het die oorlog is verby nie.
Dis met hierdie simbole wat ons nou deesdae gelei word. ’n Blou Bul, ’n Leeuloop en De la Rey.
Sestig jaar gelede het dominees die volk gelei, soos D.F. Malan.
...
Watse leiers het Afrikaanssprekende kerke vandag nodig?
Eerstens moet ’n kerkleier jong stemme kan verstaan. Dit het ons nou uit die popliedjie-sage geleer: Die jeug se stemme moet gehoor kan word. Maar ’n kerkleier sou die stemme tog die toekoms wil inlei – nie vasgevang hou in die geromantiseerde verlede nie. Die jeug is die brugbouers van die toekoms. Die kerk moet hulle nie help om hulself te isoleer nie. Ek kom dikwels in gemeentes waar daar niks vir of met jong mense gedoen word nie. Nee, die kerk kan nie bekostig om sy De la Rey-generasie te verloor nie –- of om hulle aan die verlede af te staan nie. Tweedens moet ’n kerkleier nie net kan aandag gee aan opkomende stemme nie, maar ook aan die stemloses. Die dekriminalisering van prostitute is byvoorbeeld nou op die tafel. Gaan ons maar net ons sin, soul and salvation-refrein op hulle gooi, of gaan die kerk probeer om die spirituele behoeftes van prostitute te verstaan?
Derdens sou ek van ’n kerkleier verwag om mense uit hul seksistiese en patriargale denke te lei.
En die kerk gaan dit nie regkry deur “Blou Bul”, “Leeuloop” en “De la Rey” in godsdiens oor te vertaal nie.
Laastens moet ’n kerkleier moraliteit verstaan en leiding kan gee in hoe mense gesond kan lewe. ’n Kerkleier moet weet watter geestelike waardes die samelewing gesond kan maak en watter soort “geestelikheid” die samelewing siek maak. En ek dink nie die verchristeliking van volksistiese, seksistiese en banale liedjies gaan ons gesond maak nie.
Miskien kry ons eendag weer dominees wat brûe tussen mense kan bou. Eerder as om hulle terug te lei na die ou orde. Dan sal dominees die volk weer kan lei – op ’n gesonder pad as 60 jaar gelede.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home