Evolusie, kreasionisme en Richard Dawkins
Pik Botha (???) skryf 'n heel interessante artikel oor 'n baie aktuele onderwerp en eindig met 'n baie pertinente vraag. 'n Vlymskerp video wat die draak steek met Richard Dawkins is hier te sien
In die jongste tyd word ’n interessante debat oor die ontstaan van die heelal gevoer: “intelligente ontwerp” teenoor die evolusieleer van Charles Darwin.
Hierdie teenstelling word ingeskerp deur prof. Richard Dawkins se verwerping van ’n Godheid wat alles geskep het. Sy boek The God Delusionis die moeite werd om te lees. Hy gee ons ’n ontnugterende insig in die Bybel.
Ek kan nie begryp waarom ons teoloë die stories van die Ou Testament aan ons opdis asof dit die Godheid se gedrag en besluite weergee nie. Gedeeltes van die Ou Testament primitiveer ons.
Ons mense, ’n spesie van die diere, het tegnologies ontwikkel. Ons het ongekende ontdekkings gedoen. En daar gaan nog meer dramatiese ontdekkings gedoen word. Die tegnologie gaan verbysterende vlakke bereik, en daarna al hoe meer verbysterend raak. Maar ons kan niks ontdek wat nie reeds bestaan nie, dit maak nie saak hoe oop die veld vir nuwe ontdekkings is nie. Daar is een aspek wat ons aan bande lê: Ons sal nooit van ons planeet kan ontsnap om ’n tuiste elders in die ruimte te vind nie. Die spoed van lig is die bepalende faktor, die tronkmure waardeur ons nooit sal kan breek nie.
Ons is tot vereensaming gedoem, net soos miljoene ander lewensverskynsels elders in die heelal tot vereensaming gedoem is. As ’n asteroïed of komeet ons nie intussen vernietig of aardverwarming dit nie doen nie, het ons slegs vier miljard jaar oor voor ons son uitbrand.
Dink aan die stilte op die planeet: alle musiek, kuns, boeke, tegnologie sal in die vergetelheid verdwyn. Dit is nie spekulasie nie. Dit is ’n feit. En omdat ’n paar miljard jaar bietjie langer as ’n aardse jaar is, beteken dit nie die onafwendbare eindresultaat gaan nie plaasvind nie.
EN dit bring my by die vraag waaroor ons moet besin. Wie of wat het die heelal laat ontstaan? Die jongste navorsing dui dat die heelal 15 miljard jaar oud is. Wetenskaplikes sê die hele gedoente het uit ’n oerontploffing ontstaan. Dit het vonke uitgeskiet en gaswolke gevorm wat malende sterrekonstellasies tot gevolg gehad het.
Só het die aarde ontstaan, wat met sy besonderse massa en afstand van die son ’n atmosfeer kon behou wat lewe laat ontkiem het. En homo sapiens is een van die resultate van daardie lewensoorsprong.
Ek begryp nie waarom daar so ’n skerp verskil gegenereer word tussen Darwin se evolusieleer en die konsep van kreasionisme nie. Darwin konsentreer op die verloop van die lewensontwikkeling op aarde – iets wat onaanvegbaar is.
Die kreasioniste sê dat daar ’n wese is wat alles beplan het. Altans, ek hoop dit is wat hulle sê. Sommige kreasioniste sê God het plant en dier en mens afsonderlik geskep, soos ’n beeldhouer beelde een vir een op ’n slag skep. Wie of wat was hierdie Skepper? Presies op daardie tergende, snydende punt stort ons almal in duie.
’n Intelligente ontwerper, God, kon ’n program in die vooruitsig gestel het waardeur diere, met insluiting van die mens, uit eensellige lewensvorme kon ontwikkel.
Trouens, die mag of entiteit wat die oerknal se sneller getrek het, sou oor die insig beskik het om ’n evolusieprogram deel van sy beplanning te maak. ’n Superingenieur.
Die evolusieleer ken dus aan die Godheid oneindig meer mag toe as kreasionisme.
ONS gebruik woorde soos almag, maar ons begryp nie wat almag behels nie. Ons praat van tyd en ewigheid. Maar ons het nie die vermoë om tyd te omskryf nie, want dit bestaan nie, en nog minder het ons die vermoë om ewigheid te begryp.
Die naaste wat jy daaraan kan kom, is om te bedink dat dit ’n verskynsel is wat geen begin en geen einde het nie. En daar eindig ons begripsvermoë.
Die onbeantwoorde vraag is dus nie of Darwin of die kreasioniste gelyk het nie. Die vraag is duidelik: Wie of wat het die oerknal se sneller getrek?
Dit moet noodwendig ’n entiteit wees wat oor soveel mag en misterie beskik dat aardse mense eenvoudig nooit in staat sal wees om daardie entiteit se identiteit te identifiseer nie, want daardie entiteit het nie ’n oorsprong nie en ook nie ’n einde nie. Daardie entiteit leen hom nie tot ontleding nie. Jy kan ’n bobbejaan leer om ’n elektriese lig aan of af te skakel, maar nooit ooit sal jy ’n bobbejaan kan leer hoe elektrisiteit funksioneer nie.
En tog het ons ’n nimmereindigende behoefte om ’n God te hê.
Dit is amper asof ons verwytend sê: “Waarom het U ons geskep, en toe alleen gelaat met die vermoë om die grootsheid van u skepping waar te neem, met ’n onvermoë om u identiteit te bepaal? Ons wil U aanbid. Voor U buig. U gelukwens met u skepping. Ons wil deel wees van u misterie. Maar dit is of ons bestem is om te kniel en in gebed te prewel: ‘O, God, wees my onkundigheid genadig.’ ”
EK weet nie, maar miskien bring die dood ’n insig wat ons duskant die graf ontneem is. Hier op aarde sal die antwoord nie gevind word nie.
Ons sal dus moet sterf in die hoop dat die antwoord onthul sal word.
Of soos Sokrates gesê het voordat hy die gifbeker gedrink het: “As die dood ’n ewige slaap vir ons inhou, goed so, want nie een van ons wat uit ’n diep slaap ontwaak het, het ’n onaangename herinnering aan die slaap nie.”
En as daar vir my ’n vorm van voortbestaan ná die dood is, sien ek daarna uit, want my lewe hier op aarde was aangenaam.
Kan dit wees dat die mag of entiteit wat die oerknal se sneller getrek het, oor die insig sou beskik het om ’n evolusieprogram deel van sy beplanning te maak?
Die onbeantwoorde vraag is dus nie of Darwin of die kreasioniste gelyk het nie. Die vraag is duidelik: Wie of wat het die oerknal se sneller getrek?


0 Comments:
Post a Comment
<< Home