2007-03-24

Die Burger

Pierre de Vos se reaksie op Stan Voges se reaksie op Laurie Gaum se reaksie op Coenie Burger se standpuntinname (vóór die Sinodsitting) oor gays.

TOE Hansie Cronjé moes verduidelik waarom hy vir geldelike gewin op oneerlike wyse krieketwedstryde help verloor het, het hy gesê: “The devil made me do it.” Nou lees ek in By (“Ope brief aan Laurie Gaum”, By, 17 Maart) dat die NG kerk-dominee Stan Voges diskriminasie teen homoseksuele steun omdat, só beweer hy, “the Bible makes me do it”.

Nou wonder ek, as die Bybel die dominee dwing om homoseksualiteit te veroordeel en hom dus dwing om die menswaardigheid te misken van miljoene mense wat seksueel en emosioneel tot lede van dieselfde geslag aangetrokke voel, hoekom los hy nie maar die Bybel en volg sy gewete nie?



DIT is intellektueel oneerlik om aan die een kant daarop aanspraak te maak dat jy ’n eties gerigte mens is wat regverdig en liefdevol probeer lewe, en aan die ander kant diskriminasie teen ’n groep mense te ondersteun bloot op grond van ’n spesifieke interpretasie van ’n godsdienstige teks.

Dit sou intellektueel veel eerliker vir die dominee wees om te erken dat sy persoonlike godsdienstige oortuigings miskien nie volgens basiese etiese beginsels verantwoordbaar is nie, en dat sy God ’n jaloerse God is wat mense veroordeel en verwerp op grond van niks anders as hul seksuele oriëntasie nie.

So ’n erkenning sou kon lei tot ’n debat oor die grondslag van die godsdienstige veroordeling van homoseksualiteit. ’n Mens sou kon vra op grond van welke etiese verstaan van die wêreld ’n hele groep mense verdoem word (en verdoemenis ís dit tog, al word dit soms met ’n sousie “deernis” en “begrip” verdoesel) sonder dat hul bestaan of optrede enigiemand skade berokken.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home