2007-03-15

Beeld

Yolanda Dreyer se artikel in Beeld se Godsdiens Aktueel rubriek.

Ons land is in ’n morele krisis. Dit hoor ’n mens so dikwels soos “broadband, broadband, broadband” in die TV-advertensie.

“Moraliteit” is altyd met seksuele gedrag verbind. Aanvaarbare gedrag was “moreel” en onaanvaarbare “immoreel”. Aanvaarbaar het natuurlik beteken: tradisioneel, wettig en heteroseksueel.

Wat sulke “morele persone” verder aan ander en selfs aan hul eie mens-wees gedoen het, was nie ter sake nie.

Die huidige morele krisis in die land gaan egter om méér as seksuele gedrag.

Sien moraliteit so breed as die tweede helfte van die Christelike Groot Gebod: “Jou naaste liefhê soos jouself”, dan sluit immoraliteit alles in wat mense seermaak of skade berokken.

Van moord, roof, verkragting, aanranding, kortom misdadigheid in Suid-Afrika, weet ons baie. Ons raas dat hulle dáár, die misdadigers, sleg is. Ons raas dat hulle dáár, die regering, dinge nie onder beheer kan kry nie. Ons vererg ons as hulle óns oproep om misdaad te beveg. Ons, die slagoffers! Wat moet óns nou doen?

Misdaad is sigbaar. Dit is onaanvaarbaar dat ’n samelewing in vrees lewe. Dit is immoreel.

Maar immoraliteit het ook ’n ander gesig. Mense kan op subtieler maniere ander beskadig.

In “ordentlike” huise.

Agter geslote deure. Óf blatant, daar waar almal kan sien.

Maar niemand gee juis om nie, want dié soort immoraliteit het sosiaal aanvaarbaar geword.

Die werkplek word onleefbaar gemaak deur ’n mens of mense.

Iemand bedank. Die ander kyk weg. ’n Kindersiel word gestriem met snydende woorde, met verwerpende gedrag. Dié wat dit sien, kyk anderpad. Wie slagoffers probeer help, maak net die lewe vir hulself ongemaklik.

Dis maklik om ’n mens te beskadig. Afkraak. Verneder. Gebruik. Verwerp. ’n Sogenaamde ordentlike persoon “praat af” op iemand met minder mag of status.

Ons kyk anderpad. Ons doen mee. Daagliks steel “ordentlike” mense mekaar se menswaardigheid met woorde, ’n kyk of ’n gebaar, met gedrag, lyftaal.

Ekonomiese immoraliteit het ons aanvaar as ’n gegewe.

“Almal doen dit.” Die onus is op die verbruikers om slimmer te wees as die skurke wat hulle uitbuit, belieg en besteel. Ordentlike firmas bedryf deur gerespekteerde volksgenote. Korrupsie is nie net iets wat politici doen nie.

Kinders, armes, oumense, vroue is “sagte teikens” vir alle soorte immorele mense.

Sheldean se naam is op almal se lippe. Ná die verandering in 1994 het swart kerkvroue aan ’n buitelandse teoloog gesê hulle leef in vrees: Gaan hul dogters van die skool af terugkom?

Pensioenfondse is skynbaar ’n gunsteling-plek om te steel.

Kom ek as vrou toe met my kreupel motor by ’n gesiene handelaar in Pretoria aan. Die ordentlike Afrikaner-werkwinkelbestuurder sê die herstelwerk kos R32 000.

Hy het met die fabriek gepraat. Hulle bevestig: Dis ál uitweg . . .

Ná 16 jaar wat ek dié handelsmerk ondersteun het, gaan ruil ek my motor in op ’n ander handelsmerk. Daar maak hulle die probleem reg vir R4 600 en gee my die volle inruilprys.

Die ouderling in my kerk wie se onderneming dit is, bedryf sy sake op ’n ander manier.

As Suid-Afrikaners bekommerd is oor moraliteit, help dit nie om te raas met hulle dáár nie.

Ons, die goeie, ordentlike mense, kan mekaar ewe maklik belieg, beroof en seermaak.

Ons doen dit sonder om te dink.

In een week kry ek te doen met twee vroue in dienslewerberoepe wat groot ellende in hul persoonlike lewens ervaar. Albei deel hul pyn met die gemeenskappe wat hulle dien. Albei vra die mense om vir hulle te bid.

Die een word geïgnoreer. Mense weet duidelik nie wat om met haar pyn te maak nie. Hulle bly net weg. Die ander een word gekonfronteer met ontevrede kliënte wat beter dienslewering eis.

Die seer wat ordentlike Christen-mense hulle aandoen, gaan lê bo-op die swaar las wat hulle reeds dra.

Raas dáár help nie. Die probleem is nader aan die huis.

Wat is my aandeel in die seermaak van ander? Wat kan ek doen om beskadigde mense te heel?

Om slagoffers te help, kan dit vir my ongemaklik maak.

Is ek bereid?

As almal in dié land ’n morele lewe lei, sal die wêreld ’n beter plek kan wees.

# Dr. Yolanda Dreyer is professor in teologie by Tuks.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home