2007-02-22

'Soek na dieper eenheid'

Neels Jackson se onderhoud met Coenie Burger.

’n Paar maande voor die al gemene sinode van die NG Kerk is dr. Coenie Burger ’n bekommerde man.

En dis die landsituasie waarin die kerk moet funksioneer eerder as kwessies soos die debat oor homoseksualiteit of teologiese spanning wat sy gedagtes baie besig hou.

“Ek dink ons is in ’n nuwe situasie en baie mense verstaan dit nie. Die politieke en sosiale middelgrond van welwillendheid is besig om te verkrummel.”

Aan die flanke van die politieke spektrum klink stemme al hoe harder op, sê Burger. Hy meen die politiek gaan harder word en Suid-Afrika gaan baie wysheid nodig hê om tussen al die eise en verwagtinge deur te stuur.

Hy verwys na die groepe soos die Kommunistiese Party en Cosatu aan die linkervleuel van die politiek.

Oor die regtervleuel, waar sommige NG lidmate sou kon lê, praat hy versigtig.

Hy noem die Boeremag, maar sê hy hoor net tweedehands van militante regse stemme.

Wat hy wel hoor, is dat mense voel hulle is gemarginaliseer, onseker oor die toekoms. Hulle voel onveilig.

Mense is gefrustreerd en kwaad.

Hy meen die gemoedstoestand op voetsoolvlak moenie onderskat word nie.

Een van die kwessies waaroor Burger in sy eie woorde baie bekommerd is, is misdaad en geweld – iets waaroor hy die afgelope maande baie met ander kerkleiers, sakelui en die regering gepraat het.

“Ek kan regtig nie verstaan dat ’n regering wat in die meeste sake nié onverstandig is nie, nie kan sien dat hy die geweld-en-misdaadsituasie onverstandig hanteer nie. Dit is baie, baie jammer en ons sal van alle kante af druk op hulle moet sit om dié saak met veel groter erns en toewyding te benader.

“Die situasie is besig om mense negatief en moedeloos oor die land en sy toekoms te maak en ons kan dit regtig nie bekostig nie.”

Burger is ook bekommerd oor die boere, van wie talle lidmate van die NG Kerk is. Grondhervorming en die uitwerking daarvan op die boere, die landbou en die platteland word gereeld by die algemene sinodale kommissie bespreek.

“Die boere is besig om ’n baie slegte deal te kry,” sê Burger.

Hy verwonder hom aan die oorgrote meerderheid boere se welwillendheid en konstruktiewe ingesteldheid, “maar hulle moet nou ’n swaar prys betaal – en dis nie reg nie.”

0 Comments:

Post a Comment

<< Home