2007-01-30

NGK breek bande met kletskerk

Neels Jackson se berig oor kletskerk.

Besware teen godslastering op die NG Kerk se webwerf het daartoe gelei dat die kerk waarskynlik die enigste forum waarin daar gesprekke tussen gelowiges en ongelowiges gevoer is, verloor het.

Dié forum, bekend as die kletskerk, is deur die kommunikasiekantoor van die NG Kerk bedryf as ’n gespreksforum op die internet waar daar oor kerklike en geloofskwessies gepraat kon word.

Een van die kletskamers is ’n oop forum waarin ateïste hul sê kon sê en waar gelowiges met hulle kon gesels.

Ds. Johann Symington, direkteur van kommunikasie van die NG Kerk, sê van die ongelowiges het daarop die spot gedryf met Christene en hul geloof en hulle het godslasterlikhede kwytgeraak.

Dit het egter ook geleentheid geskep waar die kerk met sulke mense in gesprek kon tree. Symington bestempel dit as ’n sendingveld waar die kerk mense kon bereik wat glad nie meer in die kerk sou kom nie – maar wat belangstel in wie en wat God is, al ontken hulle sy bestaan.

Jean Oosthuizen, joernalis van die Kerkbode wat die kletskerk bedryf, sê in die proses was daar mense wat van hul woede teenoor die kerk ontslae geraak het. Talle mense het ook ná ’n tydjie op die kletskerk te kenne gegee dat hulle met nuwe oë na die Christene en die kerk kyk.

Nie almal in die kerk was egter te vinde vir sulke oop gesprekke nie. Symington sê die Moreletapark-gemeente in Pretoria sowel as ’n groep lidmate in KwaZulu-Natal het beswaar gemaak teen die webwerf. Uit KwaZulu-Natal was daar selfs ’n dreigement om ’n hofbevel te probeer kry om die webwerf te sluit.

Symington sê hulle het daarom besluit om die bande tussen die NG Kerk se webwerwe en die kletskerk heeltemal te verbreek. Oosthuizen bedryf die webwerf nou op sy eie tyd as ’n private projek.

Oor die pogings om die webwerf te sluit, sê Symington dit sou ’n doeltreffende kanaal waar die kerk met begrip en deernis na skeptici en verwardes sou luister, afsny.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home