Kerk moet in IT-eeu én verlede in
Eduan Naudé se reaksie in 'n brief aan Beeld op Stephan Joubert en Nelus Niemandt se siening oor post modernisme, die emerging church en die keisergordyn.
Die skrywe van Neels Jackson Terug na die kerk se DNS (19 Januarie) vra om verdere toeligting.
Ek kry die gevoel dat die kerk soos ’n pasiënt wat iets ernstigs onder lede het, geskets word. Nou word die kenners nader geroep vir ’n opinie.
Dr. Stefan Joubert van die megagemeente Moreletapark neem ons op ’n romantiese terugvlug na die eerste drie eeue voor keiser Konstantyn en meen dat kerkwees waar dinge soos getalle, geld en geboue nie dien om sukses te kommunikeer nie, die kerk vrymaak om weer kerk te kan wees.
Dr. Nelus Niemandt stel ’n verbeeldingsvlug voor, die toekoms in, waar die postmoderne paradigma die enigste geldende en oorlewende denkraamwerk is en waar die “emergent church” die alleroplossing vir die kerk en sy uitdagings bied.
Riaan Joubert in sy brief Kerke moet dié eerlikheid gryp (23 Januarie) prys laasgenoemde se toekomsblik en verbly hom in ’n geboulose gemeente waartoe hy behoort en wat hom daardeur in staat stel om sy Godgegewe roeping te kan nakom. Dit sal vir Riaan interesseer dat Brian McClaren, die vader van die sogenaamde “emergent church”, aanvanklik gebouloos begin het totdat hulle wel geboue bekom het!
’n Simplisties en finale diagnose gaan nie so maklik gemaak word nie.
Nee, kerkwees vertel ’n verhaal van 2 000 jaar waarin hoof, hart en hand gelyke klem moet kry.
Ek is net bevrees dat die kerk vandag nie genoegsaam die hoof in berekening bring nie.
Ons leef in die inligtingseeu waar kennis wêreldwyd elke twee weke verdubbel.
Daarom kan die kerk nie sy oë toeknyp en enersyds die dogmas van die antieke tyd net op die klank af nasê sonder om dit te dekodeer na vandag se mens nie. Soortgelyk kan die kerk ook nie vandag die natuurwetenskaplike en die literatuurwetenskaplike se navorsing ignoreer en hierdie kenners buite die kring van interpretasie laat staan nie.
Ek meen alleen wanneer ons respek toon vir die hele geskiedenis en veral vandag as huidige moment ernstig vanuit die Woord opneem, die lewe vir baie nuwe betekenis kry. Ons moet die een ding doen en nie die ander nalaat nie.
Dr. Eduan Naudé, Lyttelton


0 Comments:
Post a Comment
<< Home