Godsdiens-aktueel: mag 2007 ’n jaar van brûe wees
Die kerk moet die rol van brugbouer in die samelewing vertolk, sê Christina Landman in haar Godsdiens Aktueel artikel.
‘I have a dream,” het Martin Luther King gesê, en daarmee vir ons almal die deur oopgemaak om oor ons samelewing te droom.
Ek wil graag oor die kerke droom. En dat hulle hierdie jaar brûe sal bou. En nie skanse sal oprig nie. Dat hulle vooruit sal loop en die lede van die samelewing met mekaar sal versoen.
Die eerste brug wat die kerke moet bou, is tussen die Grondwet en gelowiges. En eintlik weet ek nie hoekom Christene bang is vir die Grondwet met sy menseregte nie. As daar nou iemand was wat uitgeblink het om vir mense waarde te gee, dan was dit Jesus.
Hy het mense aangeraak, vir hulle kos gegee en ernstig vir hulle omgegee. Dis die Piëtisme wat later gekom het wat ons kom vertel het mense is wurms en paddas. Dis nie wat Jesus die mense vertel het nie.
Tweedens moet die kerke ’n brug bou tussen gelowiges wat bang is en die mense vir wie hulle bang is, soos vroue en gays en wie ook al. Die kerk moet tog eintlik op die voorpunt staan om plek te maak vir almal. Om te wys hoe lyk ’n plek waar godsdiens en menswaardigheid suksesvol geïntegreer is.
Derdens moet die kerke ’n veilige spasie kan skep vir mense wat die tradisionele “melaatses” van die samelewing is. Dis nou hulle wat aborsies gehad het, geskei is, gay is, in die tronk was of sekswerkers was. Die kerke moet hierdie mense ontduiwel, en hulle pyn en vreugde ook in die kerkdiens kan “beliggaam”. Soos om ’n liturgie te hê vir mense wat vigs het. En om te preek oor die pyn van ’n aborsie, egskeiding of bankrotskap.
Eintlik is dit die kerke se werk om “communities of care” te stig vir almal wat voorheen as “immoreel” beskou is, soos vigslyers, gays, en mense wat op ’n aborsie moes besluit. As Jesus oopkop kon wees oor mense wat swaarkry en anders moes lewe, hoekom nie ons ook nie?


0 Comments:
Post a Comment
<< Home