Beeld
Net soos smaak verskil sal Christene waarskynlik nooit heeltemal saamstem oor watter musiek gepas is as geestelike musiek nie. Hierdie artikel van Neels Jackson gee ons 'n blik op die dilemma waarin kerkleiers geplaas word.
Dit begin met ’n mondfluitjie wat die onmiskenbare wysie van Steve Hofmeyr se Blou Bul-lied speel.
Dan kom die elektriese kitare by wat die ritme pomp. As ’n mens jou oë toemaak, sou jy kon dink jy is op Loftus in Pretoria.
Maar wanneer Danie Botha begin sing, is dit ander woorde:
’n Christen weet nie van verloor af nie.
’n Christen kry jy nie van spoor af nie.
’n Christen leef mos uit geloof, jy sien.
Nou vra jy my vir wie ek sing:
Ek sing vir Jesus, man, kan jy my hoor . . .
Dié opname met die titel “Die Christen” op Botha se jongste CD is maar een voorbeeld in ’n lang ry van liedere wat geskep is deur geestelike woorde te skryf vir ’n wysie wat op ’n ander manier bekend geword het.
Die wysie van die Amerikaanse oorlogsliedjie “Ballad of the green berets“ word byvoorbeeld al lank gebruik saam met die bekende woorde “Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy word meer en meer. . .”
Die Pierre van Ryneveld-gemeenskapskerk sing deesdae ’n lied waarvan die koorgedeelte die woord “halleluja” herhaal op die wysie wat Groep Twee jare gelede bekend gemaak het as “Olie-kolonie”.
Een van die gewildste geestelike liedere tans is “Die oorwinningslied” – oorspronklik “The battle hymn of the Republic” uit die Amerikaanse geskiedenis. By baie Afrikaanssprekendes is dié wysie egter beter bekend as ’n atletiek- of busliedjie met ’n verskeidenheid woorde, onder meer: “Omie trap die petrol dat ons vinniger kan ry . . .”
Ds. Cassie Carstens, voorsitter van die eindredaksie van die Liedboek van die Kerk, sê hulle het verskeie sulke voorleggings vir die Liedboek gekry.
Op die wysie van “Die kat kom weer” was daar byvoorbeeld: “O die Gees kom weer, want Hy wil nie langer wag. Die Gees kom weer met volle krag . . .”
’n Ander het “Die Lappop” se wysie gebruik: “Iemand het ’n Bybel op ’n ashoop weggegooi; sy blaaie was al stukkend, vergeel, en nie meer mooi nie . . .”
’n Mens kan vir enige wysie geestelike woorde skryf, sê Carstens. Selfs vir “Sarie Marais”. En hy begin sommer sing: “O bring my terug na die hemelstad, daar waar die Here woon . . .”
Gee my 20 min. en ek het vir jou ’n teks, sê hy.
Dié verskynsel van ’n sekulêre lied wat vergeestelik word, word ’n “kontrafakt” genoem – en dit spreek volgens Carstens van geestelik-kulturele armoede.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home