In sy jongste rubriek in Beeld, ontmasker Wilhelm Jordaan die wetenskapskrywer Richard Dawkins se strooipopargumentvoering in sy boek, The God Delusion.
In sy jongste boek, The God delusion, sit die evolusionêre bioloog Richard Dawkins sy jare lange veldtog teen godsdiens voort. Soos die woord “delusie” aandui, is geloof in God vir hom ’n waanbeeld – iets wat gevaarlik is omdat dit mense mislei.
Bloot daaraan geoordeel, sal sommige godsdienstige mense by voorbaat Dawkins se opvattings ignoreer. Dit sal jammer wees, want dit is die moeite werd om Dawkins se werke te lees ter wille van gesprek oor geloof en wetenskap.
In ’n neutedop: Dawkins het dit wesenlik teen fundamentalistiese godsdiensvariasies – soos kreasionisme wat die Bybel letterlik vertolk en glo God het die aarde 6 000 jaar gelede in ses dae geskep; dat elke spesie afsonderlik geskep is en ongerep gebly het. Kreasionisme verwerp die evolusieleer wat berus op gestadigde natuurlike seleksie en mutasie tussen lewensvorme oor miljarde jare.
Dawkins toon oortuigend aan hoe letterlike vertolkings van die Bybel tot ’n barbaarse godsdienstige moraliteit lei.
Hy reken die goeie wat uit godsdiens kom, is te weinig om op te weeg teen die kwaad daarvan.
Maar deur sy versuim om ontwikkelings in teologiese denke – wat ’n letterlike lesing van die Bybel teenstaan en geloof en wetenskap probeer versoen – te verreken, stel hy die spreekwoordelike strooipop op en vernietig dit.
Vir baie gelowiges werk die versoening van geloof in God en evolusie ongeveer só: Ons aanvaar die evolusieleer. Ons verwag bioloë sal nog méér bewyse verskaf oor hoe lewe evolusionêr deur natuurlike seleksie ontwikkel het. Dit is opwindende kennis.
Wanneer ons bely God is die skepper van alle dinge, probeer ons nie dít wat die bioloë bevind, wegverklaar nie. Ons kies ook nie die maklike uitweg deur te sê God hét deur natuurlike seleksie geskep nie, want ons weet dit nie. Ons kan God se bestaan, aard en werkwyse nie bewys nie en wil dit ook nie doen nie.
Die geloof dat God is wat Hy is, is ’n keuse wat ons maak om sin te gee aan alles wat ons verstaan van onsself, ander mense, die wêreld en die heelal – dat daar, buite ons bevattingsvermoë, ’n ontvouende geheim is wat ons God noem en wat ons met verwondering en lewegewende krag vul.
Die frase “buite ons bevattingsvermoë” is belangrik.
Juis omdat Dawkins, wat hom beroep op bewysplase as die enigste manier om die bestaan van iets aan te toon, dit nie konsekwent kan doen nie.
En dan buite sý bevattingsvermoë bespiegel.
Só byvoorbeeld aanvaar hy, sonder bewyse, die bestaan van ’n oorspronklike, eerste toestand (primeval soup) waarin materie gedryf en lewe spontaan ontstaan het uit toevallig chemiese verbindings.
En hieruit kom die evolusie van lewe wat wetenskaplik beskryfbaar is.
Só gesien, het die geloof dat God die begin van alle dinge is, en die aanvaarding dat primeval soup die eintlike begin is, wesenlik dieselfde onbewysbare status.
Anders, en speels, gesê: Gelowiges kies die “waanbeeld” God as die singewende beginsel van hul bestaan.
En Dawkins kies die “waanbeeld” primeval soup as ’n hipotese wat aan sy navorsing rigting gee.
) Wilhelm Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde by Tuks.