Sodom, Gomorra nié vernietig weens gays
Nog 'n bydrae tot die debat oor gays.
Christen-sondaar, Kroondal, se brief Gewete hou jou 60 jaar in die tronk van 6 Desember 2006 verwys.
In hierdie, sowel as baie ander briewe, is dit duidelik dat die homoseksueles gestenig en gekruisig word. Bovermelde skrywer wat ook besig was om klippe te gooi, vra die vraag “Waarom anders is Sodom en Gomorra deur God vernietig?”
Ek wil dit duidelik stel dat ek nie homoseksuele praktyke goedkeur nie. Ek is nie homoseksueel nie, is 36 jaar gelukkig getroud, maar ek wil net graag die ander kant van die saak ook stel.
In Mattheus 21:31 (b) het Jesus aan die priesters en ouderlinge wat hulself probeer regverdig het, gesê dat “die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God”.
Volgens Genesis 18 wou God Sodom en Gomorra vernietig vanweë hul sondes, maar Hy sou hulle gespaar het indien Hy vyf regverdiges daarin sou gekry het. Sodom en Gomorra is nie vernietig omdat daar homoseksuele praktyke plaasgevind het nie, maar omdat daar nie genoeg regverdiges was om vir hul sondes in te tree nie.
Waar lê die probleem dus vandag? Is dit omdat daar te veel homoseksuele, te veel klipgooiende “goeie mense” of te min regverdiges is wat intree?
Volgens ’n Ou Testamentiese profesie in Jesaja 53:4 en 5 het Christus ons siektes en ons sonde om Hom geneem.
Waarom weet die homoseksuele nie hierdie dinge nie?
Is dit miskien omdat die “goeie mense” nie uitgaan en dit vir hulle gaan vertel nie?
Wat het van “glashuise en klippe” sowel as “balke en splinters” geword?
# Pieter van Buuren, Wonderboom-Suid


0 Comments:
Post a Comment
<< Home