'Bid, sodat julle gesond word'
Navorsing bevestig die krag van gebed.
Daar is klaarblyklik groot krag in gebed, soos wat omvattende studies in die VSA toon.
Dié studies wys dat siek mense vir wie daar gebedsgroepe gestig is, ’n beter kans gehad het om gesond of beter te word as dié vir wie daar nie gebid is nie.
’n Groep van 393 hartpasiënte in een van die VSA se grootste akademiese hospitale is in twee verdeel. Gebedsgroepe is vir die een helfte georganiseer, maar nie vir die ander nie. Dié vir wie daar gebid is, het tien maande later vyf keer minder antibiotika benodig en ’n 2½ keer kleiner kans gehad om hartaanvalle te kry. Die ander groep het steeds ’n hoë risiko vir hartaanvalle gehad.
In ’n ander studie is bevind dat Christene wat gereeld bid minder aan stres en stresverwante siektes gely het.
Wetenskaplikes en dokters glo nou gebed het ’n positiewe uitwerking op siek mense. Van die studies het getoon dat gebed ’n positiewe uitwerking het op die verlaging van hoë bloeddruk, genesing van ernstige wonde, hoofpyne, angs en hartsiektes. Dié wat diep gelowig is en gereeld bid, kon ook ’n chroniese siekte soos borskanker makliker hanteer. Hulle is ook geneig om minder depressief te wees en het ’n sterker immuniteitstelsel.
– Aanvullende bronne: www.berkeley.edu, www.dhs.ca.gov, http://aje.oxfordjournals.org


0 Comments:
Post a Comment
<< Home