Wantroue vreet aan land se siel - Beeld
Coenie Burger se artikel in vanoggend se Beeld.
In gesonde samelewings en gemeenskappe speel onderlinge vertroue ’n sleutelrol.
Is die vertroue daar, raak ’n klomp dinge moontlik en selfs maklik. Is dit nie daar nie, raak amper alles moeiliker.
Dit is daarom nie vreemd dat ’n hele aantal bekende sosiale filosowe – onder andere Fukuyama, Sztompka, Luhmann en Seligman – diepsinnige studies daaroor geskryf het nie. Op verskillende maniere erken hulle almal dat die vermoë tot vertroue ’n wesenlike rol in die lewe van samelewings speel.
Die sielkundige Erik Erikson vat dit nóg ’n treetjie verder as hy sê dat basiese vertroue ook vir mense se persoonlike gesondheid en geluk van deurslaggewende belang is.
Ek het dit die afgelope paar maande by meer as een geleentheid weer self ervaar. Ek was in een of twee situasies waar ’n mens kon sien hoe wantroue en agterdog ’n gemeenskap afbreek en vergiftig en alles wat jy hoop om te doen, oneindig moeilik maak.
Ek het gelukkig ook die ander kant beleef. As ’n mens bewus is van die belangrikheid van vertroue en daaraan werk, is jy verbaas oor wat kan gebeur. Dit is noodsaaklik dat ons bewustelik oor die saak van vertroue dink en praat, want dit word ’n al hoe groter probleem in ons land.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home