2006-11-06

Kerke se eredienste geresenseer

Nog 'n stappie in die rigting van komersialisering van godsdiens?

Www.shipoffools.com, ’n Britse webwerf, het ’n internasionale lys van resensies van eredienste wat vir ’n kerksoeker waarskynlik ’n handige bron van inligting kan wees.

Dié resensies is oor kerke in Engeland, Skotland, Wallis, die VSA, Kanada, Frankryk, Spanje en selfs die Filippyne, maar ongelukkig word Suid-Afrikaanse kerke nie op die webwerf “geresenseer” nie.

Die diens word gebied deur ’n groep van sogenaamde mystery worshippers wat die dienste onaangekondig bywoon en ’n voorgeskrewe lys vrae daaroor beantwoord.

Dit dek kwessies soos hoe vol die kerk was, die atmosfeer voor die diens, hoe gemaklik die kerkbanke is, goed wat jou aandag van die erediens sou aftrek, die boeke en musiekinstrumente wat gebruik is en ook die lengte en inhoud van die preek.

Die resensent spreek hom/haar ook uit oor die gehalte van die preek, oor watter deel van die diens soos die hemel was en wat soos die ander plek, oor die koffie ná die diens, hoe dit sou voel om dié kerk jou gereelde plek van aanbidding te maak en of die diens jou bly gemaak het om ’n Christen te wees.

Dié geheime resensente is klaarblyklik goed ingeligte Christene wat met begrip en humor oor hul ervarings verslag doen.

Só lees ’n mens dat Sally Kerson se preek op 4 Junie vanjaar in St. John’s in Noord-Baddesley, Hampshire, Engeland, duidelik en goed gelewer is.

Sy kry ’n punt van 7 uit 10, maar kon volgens die resensent 8 gekry het as sy meer oogkontak met die gemeente gemaak het.

Die ou houtbank was baie gemaklik vir ’n uur, maar die dooie spinnekop wat bokant die resensent se kop van die galery gehang het, het die aandag afgetrek.

In die gemeente St. Peter and the Holy Rood in Skotland was die sitplek redelik gemaklik vir ’n houtbank en het die kerkgangers genoeg opgestaan en weer gaan sit tydens die diens sodat niemand te lank ongemaklik sou gewees het nie.

Die webwerf se resensiestelsel moes egter onlangs hersien word nadat ’n priester wat blykbaar redelik ongewild by sy gemeente is, uitgevang is dat hy twee gloeiende resensies oor homself onder ’n skuilnaam geskryf het.

Daar word dus nou baie deegliker beheer oor resensente uitgeoefen.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home