2006-11-20

Kerk en staat

André van Niekerk se rubriek in Saterdag se Beeld.

Sommige Christene is ontsteld oor die wettiging van gay-verbintenisse, ander nie.

Ons sal mekaar se reaksies beter begryp as ons die verskillende benaderinge tot die kerk-staat-verhouding insien.

Binne die Protestantse geloofsfamilie kom dit kortliks hierop neer:

# Vir Luther het Christus ons vrygemaak van die Ou Testamentiese wet. Daarom vervul die vrygemaakte verstand (vergelyk Rom 12:2) ’n groot rol in meningsvorming.

Lutherane is daarom geneig om gemakliker as ander met onderskeidings te werk: ’n Vaste verbintenis tussen gays is vir die samelewing veel beter as los verhoudings.

# Vir Calvyn het Christus ons nie van die wet losgemaak nie maar van sonde. God se vergewende liefde in Christus is nie soos by Luther die hoofsaak nie, maar God se eer (Klaus Nürnberger).

God se wil vir alle fasette van lewe sou steeds uit die Bybel se wettiese gedeeltes afgelei kan word. Die kerk moet die staat help om God se wil na te kom. Omdat daar Bybelgegewens teen homoseksuele aktiwiteite van destyds is, meen mense van hierdie benadering dat die staat nie gay-verbintenisse mag goedkeur nie.

Nóg Luther se onderskeid tussen staat en kerk (“twee ryke leer”) nóg Calvyn se ideaal van God wat deur die staat regeer (teokrasie) het egter die godsdienstige regverdiging van regerings se magsmisbruik gekeer.

Inteendeel.

Die Westerse wêreld het met goeie rede vir ’n sekulêre staatsbestel gekies. Dit verminder heilige oorloë. As landswette se mensgemaaktheid erken word, kan dit ook deur mense verbeter word.

Die kerk se openbare rol moet egter behoue bly. Die implikasies van liefde en geregtigheid moet steeds op krities-lojale wyse ook teenoor die staat bekend gemaak word.

Deur André van Niekerk

0 Comments:

Post a Comment

<< Home