Beeld
Stephan Joubert se rubriek in Beeld se Godsdiens Aktueel.
‘Hulle keer die wêreld onderstebo!”
Só klink die aanklag van Tessalonika se inwoners teen die eerste Christene.
Wat hierdie aanklag merkwaardig maak, is dat Paulus volgens Handelinge 17 net drie weke in dié stad gewerk het voordat hy moes padgee.
Binne hierdie kort tydperk het ’n Christelike gemeenskap ontstaan wat die wêreld andersom laat draai het, soveel so dat hul opponente hulle met geweld wou stilmaak. Maar hierdie jong geloofsgemeenskap het koersvas volhard lank ná Paulus se vertrek.
Almal in hulle omgewing het van hulle geloof kennis geneem, soos wat Paulus in 1 Tessalonisense 1-2 vertel.
My eie frustrasie met die verhaal van die Christene in Tessalonika was dat ek lank nie die sleutels kon vind tot Paulus se leringe wat hulle van dag een af op die regte koers geplaas het nie. Hoe meer ek in 1 Tessalonisense gesoek het na antwoorde op Paulus se “gemeentebouprogram”, hoe minder het ek iets raakgeloop.
Die rede? Ek was op soek na tipiese dinge wat kerkwees vandag kenmerk – strukture, ampte, programme, ordes, en sulke dinge. Ek leef immers ná daardie groot ideologiese ingreep in die 4de eeu toe die Christendom staatsgodsdiens geword het. Van toe af het die instellings, tradisies en gebruike van die kerk in Westerse samelewings oorheers, nie noodwendig die Nuwe-Testamentiese Christendom se lewensveranderende norme en verhoudings nie.
Namate ek my kop agter die “keisergordyn” begin inkry het, het ek ’n paar eenvoudige sleutels in 1 Tessalonisense raakgeloop wat wys hóé Paulus effektiewe geloofsgemeenskappe gebou het wat deur dienende verhoudings en nuwe verhale oor Jesus hul omgewings ingrypend beïnvloed het.
Saam met die ABC van die Christelike geloof wat Paulus vir nuwe gelowiges geleer het, het hy hulle geleer dat hulle voltydse navolgers van Jesus is; mense wat hulle nuwe identiteit in woord en daad uitleef. Paulus het kerkwees verstaan en ingerig in terme van ’n nuwe familie van gelowiges waarbinne onderlinge lojaliteit van kardinale belang is. Gelowiges moes oop harte en oop hande vir mekaar hê, so ook vir almal om hulle. Geestelike leiers het hul eie rol in familiale terme verstaan, soos wat Paulus in 1 Tessalonisense 2 doen as hy homself as ’n vader en ’n dagmoeder voorhou wat gelowiges onderrig deur sy voorbeeld en onvoorwaardelike liefde vir hulle. Titels of posisies was nie beslissend nie, diens en persoonlike voorbeeld wel.
Die Pauliniese gemeentes se samekomste het plaasgevind in woonhuise, nie in eksklusiewe godsdienstige geboue nie. Dus het gelowiges geen kunsmatige skeiding tussen geloof en die “regte lewe” geken nie. Geloof was ’n nuwe, dag-tot-dag manier van leef!
Dalk moet kerke wat op soek is na outentieke lewe weer ’n slag agter die 4de eeuse “keisergordyn” gaan kuier.
Wie weet, dan draai die wêreld hier aan Afrika se suidpunt moontlik ook andersom!


0 Comments:
Post a Comment
<< Home