Verklaar misdaad tot noodtoestand
Amie van Wyk se rubriek in Beeld van 4 September.
Ongeveer 20 000 per jaar. 55 per dag. 2 per uur. 3 kinders per dag. Vermoor. Só lyk die geweldmisdaad-statistiek in Suid-Afrika.
Vertoon dit nie die beeld van ’n oorlog van lae intensiteit nie?
Die vorige politieke bedeling is beskryf met woorde soos “strukturele geweld” vanweë die toepassing van die onregverdige stelsel van apartheid deur ’n minderheid; die nuwe bedeling kan getipeer word as “kriminele geweld” waar ’n nog kleiner minderheid die beginsels van vryheid en veiligheid van die samelewing heeltemal ondermyn. Die een is, moreel gesproke, net so onverantwoordbaar as die ander.
Die tyd het aangebreek dat die kerke – die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke – die regering versoek om ingevolge art 2.37 van ons Grondwet ’n noodtoestand (nie net ten opsigte van vigs nie, maar ook) ten opsigte van misdaad af te kondig. Hierdie artikel bepaal dat sodanige toestand afgekondig kan word wanneer “die lewe van ons nasie” deur onder meer “wanorde” bedreig word.
Ek herinner my dat die invloedryke teoloog Willie Jonker, wat verlede Maandag oorlede is, by geleentheid opgemerk het dat wie vir ’n nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika gekies het, nie daarmee saam ook vir ’n samelewing van korrupsie, misdaad en wanorde gekies het nie.
Jonker het hom lewenslank onvermoeid vir ’n regverdige politieke bedeling in Suid-Afrika beywer. Hy was altyd op soek na die konsekwensies wat die evangelie van Christus inhou, nié net vir die lewe van ’n individu nie, maar spesifiek ook vir die sosiaal-ekonomiese strukture van ’n land.
Amie van Wyk is ’n teoloog en verbonde aan die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home