2006-10-09

Kerk moet SA se ‘Boetmanne’ help

Dr Isak Burger van die AGS se rubriek in die Beeld vanoggend.

Dit is verstommend wat die impak van die voete-wassery tussen mnr. Adriaan Vlok en eerw. Frank Chikane was.

Dié eenvoudige daad van nederigheid en versoening en met diepe Christelike simboliek, het min mense sonder kommentaar gelaat.

Ek het Vlok oor die laaste jare persoonlik leer ken en het geen twyfel oor sy bona fides as toegewyde Christen nie. Aan die ander kant ken ek ook vir eerw. Frank Chikane. Ons is reeds jare lank kollegas, het saam gewerk in die eenwording van ons kerk, die AGS, en het saam in leierskap gestaan. Oor sy Evangeliese behoudendheid en sy erns met die Here hoef ek nie op hoorsê te gaan nie.

Die ootmoedige voetewas-gebaar van Vlok het my diep aan die hart gegryp – miskien omdat ek iets van die Bybelse betekenis daarvan verstaan. Miskien omdat ek self op Goeie Vrydag, 5 April 1996, op Centurion Park, ná dekades van verdeeldheid op grond van ras en velkleur, tydens ons kerk se eenheidsvieringe deur die Heilige Gees gedwronge gevoel het om Chikane, as leier van die voormalige swart afdeling, om vergifnis te vra vir hierdie verskeurdheid in ons kerk waarvoor ons as wittes verantwoordelik was.

Miskien is dit daarom vir my so ontnugterend om die vele negatiewe briewe en ook gesprekke oor die voetewas-aangeleentheid te lees en te hoor. Weliswaar was daar ook groot waardering daarvoor. Dit was egter veral die reaksie by baie wittes wat my onaangenaam verras het. Aanvanklik het ek dit afgemaak as dat baie mense nie die Bybelse simboliek van vergifnis, vryspraak en versoening verstaan nie. Miskien is dit so.

Wat egter vir my al hoe duideliker geword het, is dat baie van ons mense met groot bitterheid en kwaad in hul harte rondloop.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home