2006-10-23

Beeld

Een van die grondpilare van die oeroue geloof van die Khoi-San-volkere was die geloof in God as die Skepper, die Gewer van alle goeie dinge, die Beskermer van almal wat op Hom vertrou. Hulle het hierdie God Tsui//Goab genoem. Van Hom kom die lewe, die reën, die kos op die aarde, die wild op die veld.

Van Hom kom ook die gawe om as mense met mekaar op die aarde te lewe, verbonde aan mekaar en die natuur, waarvan ons deel is en wat ons met mekaar deel. Aan Hom word dié wat sterwe toevertrou en by Hom leef hulle voort.

Daarom word hulle sittend begrawe, met die gesig na die ooste waar God in die Rooi Lig woon en waar die dagbreek aankondig dat Hy hulle kom haal. Maar waar kom die kwaad dan vandaan? Van die Bose, wie se naam //Gauab is. Hy is die vyand van Tsui//Goab en van die mense, die vernieler, die stuurder van die storm en die dwarrelwind, die droogte en die hongersnood, die siektes en die kwaad wat ons mekaar aandoen.

Van hom kom ons pyn en teleurstelling en die genadelose uitbuiting van ons swakheid.

Daarom is in die tale van die Khoi-San woorde soos “ellende”, “vernietiging”, “uitwissing”, almal van die woord //Gauab afgelei.

Tsui//Goab en //Gauab, so glo die Khoi, is in ’n ewige stryd met mekaar gewikkel. Die stryd is hewig, want dit gaan om God se skepping, om God se mense en dit wat hulle aan die lewe hou, wat van hulle mens-mense maak. Vandaar die benaming Khoi-Khoi: mense saam met mense. Díe oerstryd het tye lank geduur voordat Tsui//Goab die Bose ’n dodelike slag toegedien het. Die Skepper het uiteindelik oorwin, maar //Gauab vat lank om te sterwe.

En soos hy sterf, doen hy steeds skade. Vir Christene klink dit bekend. In Openbaring vertel Johannes van die stryd in die hemel tussen God en die Satan. Die Lam oorwin, maar soos die draak uit die hemel val, slaan hy met sy stert nog ’n derde van die sterre uit die hemelruim. Met sy val doen hy steeds skade. Die finale oorwinning kom nog. Maar die Khoi vertel ons nog iets. God het oorwin, maar is in daardie oergeveg aan die knie gewond. Daarom beteken Tsui//Goab letterlik, “gewonde knie”.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home