2006-10-05

Beeld

Die oordrag van waardes is ouers se primêre opvoedingstaak, meen dr. Elzette Fritz, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

Dié ouers probeer om morele waardes soos eerlikheid, opregtheid, moed en deursettingsvermoë van kleins af by hul kinders te kweek.

Dr. Elzette Fritz, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, verskaf ses riglyne waarvolgens jy by jou kinders dié waardes kan tuisbring:

Vertel hulle waaraan jy waarde heg

Die oordrag van morele waardes is ouers se primêre opvoedingstaak.

Dit is juis ’n mens se gesonde morele oordeel wat hom in staat stel om keuses te maak wat ’n samelewing tot gevolg kan hê wat sorgsaamheid, verdraagsaamheid en liefdevolle respek bevorder.

Die vestiging van morele waardes kan egter nie sonder deurlopende en daaglikse kommunikasie met jou kind plaasvind nie.

In dié geselssessies kan jy baie maklik aan jou kind verduidelik wat die rede agter ’n mens se gedrag is. Sodoende leer hy maklik waaraan jy waarde heg.

# Wenk: Voorbeelde kan in enige omstandighede gevind word. Verduidelik aan kinders waarom jy sekere dinge doen. Jy kan byvoorbeeld sê: “Pappa sien hier is ’n opening om te parkeer, maar daardie oom het langer as pappa gewag, so ons kan nie die motor hier parkeer nie, want dan is ons ongeskik.”

Onthou ook om aan kinders te verduidelik dat hul keuses en dade verreikende gevolge het en dat elke mens dus bepalend is vir die soort samelewing waarin hy leef.

Stel duidelike reëls en gee redes vir die reëls

Daar moet geleentheid vir kinders geskep word om ook hul keuses uit te leef, maar binne die veilige ruimte wat die ouer stel. Waak teen verwarring met streng reëls gedurende die week en groter vryheid tydens die naweek. Hierdie vryheid is meer gepas by ouer kinders wat reeds vertroud is met die struktuur van die gesin.

Kinders tot en met die ouderdom van sewe geniet egter hul roetine en is nog afhanklik van hul ouers se begeleiding in die uitvoer van veilige keuses.

Dissipline is noodsaaklik om ’n kind geborge te laat voel aangesien dit sy grense van veiligheid afbaken. ’n Mens moet egter deurgaans die kind se ontwikkelingstadium en taalvaardighede in ag neem. Kinders jonger as drie jaar verstaan baie keer nie dadelik hul ouers se instruksies nie en indien hul ouers kwaad raak as hulle nie die taak na wense uitvoer nie, raak hulle verward. Van driejarige ouderdom, wanneer hulle meer gevorderde taalvaardighede het, kan hulle geleidelik meer verantwoordelikhede gegee word.

# Wenk: Sodra ’n kind onafhanklik kan loop en goedjies dra, kan hy geleidelik blootgestel word aan versoeke om byvoorbeeld items weg te bêre of kombuis toe te neem.

Leer jou kinders om empatie met ander te hê

Dit is belangrik om aan kinders te demonstreer dat jy aan ander moet doen soos jy aan jouself gedoen wil hê. Jy kan dit maklik aan jou kind oordra deur middel van gesprekke, maar beslis deur jou alledaagse optrede.

Reeds tydens die babajare waar jy jou kind met deernis en respek behandel, saai jy die saadjies van doeltreffende sosialiseringsvaardighede.

Tydens sy ontwikkeling bou jy net daarop voort.

’n Kind wat byvoorbeeld in ’n huis grootword waar pa vir ma slaan en ma op haar beurt weer die kinders verskree en vloek, staan ’n groot kans om dieselfde gedragspatrone by die skool te openbaar. As ’n kind sien hoe sy ouer die hond skop, leer hy dat dit aanvaarbaar is om gewelddadig teenoor diere op te tree. Hy kan selfs so ver gaan as om te dink dit is aanvaarbaar om kinders wat weerloos en jonger as hy is op die speelgrond te lyf te gaan. ’n Mens wat empaties optree, vra hom eers af watter wyerkringende gevolge sy dade sal inhou vir die wêreld rondom hom.

# Wenk: Om jou kind te leer om empatie met ander te hê is dit ’n goeie idee om gereeld die woord “voel” te gebruik. Vra hom byvoorbeeld: “Hoe dink jy voel jou sussie as jy haar so terg? Sal jy lekker voel as iemand dit aan jou doen?”

Vertel jou kinders van regte helde en hul dade

Francois Pienaar, die voormalige Springbokrugbykaptein, het gesê kinders het regte helde nodig anders kan hulle nie rolmodelle hê om na op te sien nie. Maar die tipiese “gemorskos”-helde wat net vir geld en roem bestaan, beteken niks.

# Wenk: Maak gebruik van televisieprogramme en flieks, boeke en koerante om gesprekke te inisieer oor heldhaftige optrede. Praat daaroor as daar ’n storie in ’n koerant of tydskrif is oor ’n kind wat iets belangriks bereik het of ’n heldedaad verrig het.

Dit sal jou kind aanspoor om ook daarna te strewe.

Herken die mag van die skuldgevoel

Hoewel skuldgevoelens die stem van die gewete is, moet ’n mens egter daarteen waak om so hard te skree dat mens glad nie meer die goeie in jouself hoor praat nie. As jou kind ’n fout begaan het, is dit ’n gulde geleentheid om hom iets daaruit te laat leer. Daardeur kan hy vervolgens die verlossing van vergifnis aanvaar.

Die idee is dus nie om die fout weg te praat of te ignoreer nie, maar byvoorbeeld vir jou kind te sê: “Mamma het gesê jy moet nie die emmer water optel nie. Jy het nie geluister nie. Nou moet ons die vloer droogmaak. Verstaan jy dat die emmer te swaar was en dit die rede is hoekom ek nie wou hê dat jy dit moet optel nie? Wat gaan volgende keer gebeur as mamma vir jou sê jy moet iets nie doen nie?”

# Wenk: Gebruik ’n fout as besprekingspunt waartydens ’n les geleer kan word – en gaan aan met die lewe.

Met direkte ongehoorsaamheid moet ’n kind wel soms die geleentheid gegee word om oor sy dade en die gevolge te gaan nadink. Nie net gee dit die ouer die geleentheid om af te koel nie, maar dit stel die ouer en kind in staat om later in kalmte daaroor te gesels. Skuldgevoelens behoort nie die straf te wees nie, maar die logiese gevolge wel.

Lei deur jou eie voorbeeld

Woorde wek, maar voorbeelde trek. Ons dink dikwels dis genoeg om net met ons kinders te praat, maar vergeet dat hulle ons alreeds sedert geboorte fyn dophou en dus by ons leer hoe om op te tree.

# Wenk: Wees altyd bewus van die gedrag wat jy aan jou kinders voorhou. Dit moet ook ooreenstem met dít wat jy aan hulle sê en hoe jy teenoor hulle optree. Kontak dr. Elzette Fritz by 0 011 489 2273 of stuur e-pos na lzf@telkomsa.net.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home